Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
'n Sekere mnr P van Kroonstad in die Vrystaat het seker gedink sy versekeringsmaatskappy is onder 'n kalkoen (in stede van 'n groot geel sambreel) uitgebroei. Mnr P was die eienaar van 'n Volkswagen Golf wat hy in 1991 by die betrokke versekeringsmaatskappy verseker het. Presies 'n jaar later is daar by mnr P se woonhuis te Kroonstad ingebreek. Altans, só het hy voorgegee. Die Golf is glo gesteel en daarvoor het hy 'n eis van R27 550 teen die versekeraars ingestel. Verder het hy ook beweer dat verskeie items uit sy woonhuis gesteel is waarvan die bykomende gesamentlike waarde amper R34 000 was. Die items wat na bewering gesteel is, het 20 musiek-CD’s, twee duur hoëtrouluidsprekers en diamantringe ingesluit.
Die simpatieke versekeringsmaatskappy het kort voor lank 'n tjek van R61 275,83 aan mnr P oorhandig.
Maar êrens het iemand snuf in die neus gekry. Ongeveer twee maande na die beweerde diefstal het 'n assessor van die versekeringsmaatskappy mnr P se Golfie opgespoor by 'n paneelklopper te Petrus Steyn, 'n goeie 100 km wes van Kroonstad. Die paneelklopper het die assessor meegedeel dat mnr P die voertuig daar gelaat het om dit 'n ander kleur te laat verf. Hy het ook die paneelklopper versoek om die agterruit, wat 'n unieke uitkenbare plakker gehad het, die wiele met besonderse vellings, en die enjin uit die motor te verwyder. Sy opdrag aan die paneelklopper was om die voertuig só oor te verf dat niemand dit sou agterkom nie.
Toe mnr P met hierdie feite gekonfronteer is, het hy met 'n verduideliking vorendag gekom wat die regter in 'n latere saak uiters ongeloofwaardig gevind het. Hy het vertel dat hy ná die diefstal van sy Golf deur 'n onbekende persoon geskakel is wat hom gevra het of hy belangstel om 'n voertuig te koop om op te bou. Hulle het afgespreek om mekaar in Bethlehem te ontmoet en daarna is hulle na 'n swart woonbuurt waar hy die voertuig by 'n plakkershut aangetref het. Hy het dit vir R5 000 gekoop, waarna dit na 'n begraafplaas gebring is waar hy dit die eerste keer behoorlik kon deurkyk. Eers tóé het hy agtergekom dat die voertuig – wonder bo wonder – sy geliefde Golf was wat 'n paar weke vantevore in Kroonstad gesteel is. Die voertuig was glo in 'n swak toestand en hy het toe maar besluit om 'n kans te waag deur dit só op te bou dat niemand anders dit as sy vorige voertuig sou herken nie.
Net so ongeloofwaardig was sy storie oor die luidsprekers wat hy as gesteel uit sy woonhuis aangegee het. Nadat die assessor van die versekeringsmaatskappy sy motor by die paneelklopper op Petrus Steyn raakgeloop het, is die aangeleentheid by die polisie aangemeld en is mnr P se huis te Kroonstad deursoek. Die twee luidsprekers is agter 'n kroeg in sy woonhuis gevind. Mnr P se verskoning aan die polisie was dat dit luidsprekers was wat hy by sy swaer op Welkom geleen het. In die polisiemotor op pad daarheen ten einde die storie met die swaer te gaan bespreek, het hy egter met 'n ander weergawe vorendag gekom: eintlik was die twee groot luidsprekers nooit gesteel nie, maar het die diewe twee ánder, kleiner luidsprekers gesteel. Hy het toe maar gesê dat dit die duurder luidsprekers was wat gesteel is ten einde die goedkoper luidsprekers te vervang met twee heelwat beter luidsprekers. Nogtans het hy heel aan die begin, toe die diefstal aangemeld is, vir die polisie gesê dat hy net twee luidsprekers in sy huis gehad het.
En dan was daar nog die 20 CD's ook: tydens die deursoeking van mnr P se huis deur die polisie is ook dié items in 'n kassie gevind. Mnr P se verduideliking was dat hy aanvanklik gedínk het dat dit gesteel was, maar dat hy agterna ontdek het dat die diewe die 20 CDs per abuis tydens hulle strooptog agter 'n rak laat inval het.
Les bes het die polisie ook die Golfie se voormalige stuurwiel – ‘n kenmerkende klein weergawe – in mnr P se huis opgespoor.
Die versekeringsmaatskappy het die groot geel sambreel wat hulle, by wyse van spreke, oor P se huis gehou het, opgevou, die krom handvatsel om sy nek gehaak en hom daarmee hof toe gesleep. Hulle het terugbetaling van die bedrag van R61 275,83 geëis.
Mnr P het jou werklik die saak verdedig. Regter Hancke van die hooggeregshof in Bloemfontein het beslis[1] dat 'n versekeringsooreenkoms een van die hoogste trou is – in regstaal praat ons van uberrima fides. Volgens dié beginsel word dit van die versekerde verwag om oop kaarte met sy versekeraar te speel, en dit het mnr P nie gedoen nie, indien sy storie aanvaar sou word dat hy toevallig sy gesteelde Golf in 'n plakkerskamp opgespoor het nie. In só ‘n geval moes hy dit aan die versekeraar geopenbaar het. Die regter het ook bevind dat die luidsprekers en CD's nooit gesteel was nie en in dié opsig was mnr P se optrede bedrieglik.
Die regter het mnr P beveel om die meer as R61 000 aan sy voormalige versekeraar terug te betaal, want teen daardie tyd het hulle weë seker al lankal geskei. Só kwaad was die regter vir mnr P dat hy hom ook beveel het om die versekeraar se koste op die hoër skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal. Dit is iets wat net by uitsondering gebeur.
As 'n mens 'n uitspraak soos hierdie lees, voel jy lus om hoera te skree, want daar is min dinge wat my persoonlik só grief as mense wat die Ontvanger en hul versekeraars verneuk, want dit beteken dat ek en jy net meer belasting en hoër premies moet betaal.
[1] Santam Bpk v Potgieter 1997(3) SA 415 (OPA)
The post Regsalmanak: Uberrima fides by versekeringsooreenkomste appeared first on LitNet.