Lotta se lewe: My skilpad kruip uit sy dop
Alice Pantermüller en Daniela Kohl (illustrasies)
Human & Rousseau
ISBN: 9780798169905
Resensie deur Suzanne Swart (twaalf jaar oud)
Die boek is die vyfde een in die reeks Lotta se lewe. Die ander vier is Konyne by dosyne, Bendes, swape en skape, Wieg, wurm, wieg en ’n Haas uit die hoed.
Die reeks gaan oor ’n baie avontuurlustige meisie met die naam Lotta Liebenberg. Sy is die een wat die storie vertel. Haar lewe is vol avontuur en pret en kort-kort is daar een of ander katastrofe wat haar tref.
In hierdie boek het die avontuur alles een oggend begin toe Lotta se vriend Paul Gerber (lid van haar bende) baie interessante nuus gehad het om vir die klas te vertel: al die skole in die stad kon inskryf vir ’n kompetisie. Die wenklas mag prente op die poskantoor se nuwe heining verf. Al wat die klas moet doen, is om idees te gee oor wat hulle wil verf en die klas wat die interessantste tema uitdink, wen. Daar was ’n paar vrek vervelige idees, maar op die ou einde het juffrou Knacker besluit om Berenice (die een wat altyd met haar neus in die lug loop) se idee te aanvaar om bedreigde diere te verf. En daar is nogal baie sulke diere, hoor. Dink maar aan goed soos die stompievoetpadda, die slurphondjie, die rooiboudleeuapie en die oorlose grasvelddraak. Dit sal vreeslik wees as hulle moet uitsterf.
Lotta en haar vriendin Chantelle is albei mal oor diere. Lotta besluit om ’n skilpad te verf omdat sy een by die huis met die naam Metusalem het. Hy is al stokoud. Chantelle wil ’n Tasmaniese duiwel verf, maar dit is baie moeiliker om een te verf as wat sy gedink het.
Lotta kan nie wag om die volgende dag te begin verf nie. Sy probeer haar bes om mooi te verf, maar alles verloop nie volgens plan nie. Elke oggend as Lotta by haar prent kom, is daar wit smeermerke regoor haar prent en dan moet sy van voor af begin verf. Sy is seker dit is die werk van daardie simpel Berenice en haar bende: Emma, Hanna en Leigh-Anne (of Die Skaapkoppe, soos Lotta hulle noem). Lotta wil sommer maak of sy wurg en opgooi as Berenice so aansit en by die onnies kruip. Sy pes vir Berenice, met haar eie perd en haar vioollesse en haar ryk ouers en haar mondeling oor pandas!
Lotta moet hulle terugkry daarvoor, maar hoe? Boonop moet sy ook uithou met twee superirriterende kleinboeties wat nooit ophou praat nie en haar twee beste vriende wat kort-kort met mekaar baklei oor simpel goed soos watter soorte vlermuise vrugte eet.
Dan gaan Lotta en Chantelle vir haar verjaarsdag dieretuin toe. Hulle is aanvanklik nogal ontsteld oor al die diere in hokke en daarom maak hulle eers doodseker by almal wat by die dieretuin werk dat al die diere mooi behandel word sodat hulle nie sal uitsterf nie. Lotta sien reuseskilpaaie in hokke en is baie bly om te sien dat hulle baie gelukkig lyk en genoeg kos en water het. Die piekniek op die dieretuin se groen gras langs die aaphok maak dit haar beste verjaarsdag ooit.
Niks is ooit rustig in Lotta se lawwe lewe nie. Ek hou baie van hierdie reeks en het die ander boeke ook al gelees. In hierdie een het ek ’n klomp goed oor diere soos vlermuise, skilpaaie en pandas geleer.
Ek leen my boeke vir my maats uit, en het al agtergekom dat die vinnige én die minder vinnige lesers van Lotta hou. Ook dié wat effens ouer of effens jonger as ek is. Ek dink dis omdat die boek in dagboekstyl geskryf is (baie soos die Dagboek van ’n Wimp-boeke) en die prentjies is regtig skreeusnaaks. Hierdie boeke is maklik om te lees en lekker ook!
Ek sien voor in die boek dat die storie aanvanklik in Duits geskryf is, en toe in Afrikaans vertaal is deur Kobus Geldenhuys. Ek het al ander boeke ook gelees wat hy vertaal het, soos die Hoe om jou draak te tem-boeke deur Cressida Cowell. Ek kan amper nie glo dat hierdie boeke eers in ’n ander taal geskryf was nie, want dit lees regtig baie lekker in Afrikaans.
Kersfees is naby. As ek genoeg geld gehad het, sou ek regtig vir ’n spesiale maatjie die hele stel van Lotta se lewe wou gee.
The post Jeugresensie: Lotta se lewe – my skilpad kruip uit sy dop deur Alice Pantermüller appeared first on LitNet.