Die Four Jacks and a Jill se “Master Jack” het in die vroeë 1970’s ’n blywende indruk op my as ’n jong Afrikaanssprekende plaasseun gemaak. Ek sou later uitvind dat hierdie liedjie die eerste Suid-Afrikaanse popliedjie was wat ’n nommer 1-plek op die internasionale treffersparades kon behaal: in 1968 op die VSA-, Maleisiese, Australiese en Nieu-Seelandse treffersparades, om maar net enkeles te noem. Dit was veral die reël “It’s a strange, strange world we live in, Master Jack” wat my destyds bygebly het. Vir dekades het ek gewonder wie Master Jack is of was.
In my ure van navorsing vir my boeke oor Noord-Kaapse en Vrystaatse dorpe lees ek toe op ‘n dag in die Letterkundige Museum (NALN) in Bloemfontein, in ’n ou Huisgenoot (13 Desember 1968) die rare verhaal oor “die vreemde wêreld van Master Jack” raak.
Die komponis van hierdie merkwaardige liedjie was Spiros David Markantonatos. Sy plate-agent het sy naam destyds eensydig verander na David Marks. David se verhaal begin in Kaapstad, waar hy op 2 Junie 1944 gebore is (Google meld dat hy op 2 Februarie 1944 gebore is). Hy was die oudste van ’n Griekse pa en ’n Ierse ma se sewe kinders. Die meeste van sy kinderjare het hy deurgebring in Witbank (nou eMalahleni), waar sy pa ’n myningenieur was. Op hoërskool het hy sy eerste kitaar vir R2 aangeskaf en dit oral saamgedra “omdat dit goed gelyk het”. Na skool het hy as leerlingmynopmeter op Oos-Geduld en Grootvleimyn begin werk. Daarna is hy St Helena-myn toe in die Vrystaat.
Sy liefde vir popmusiek het ’n ernstige wendig geneem nadat hy Jeremy Taylor se “Ag pleeze, Daddy” op sy kitaar kon speel en sing. Op skool het hy sy eerste popgroep gestig, “The Boys”, en later, op die Vrystaatse goudvelde, het hy en ’n paar maats as Die Jamtarries in omliggende dorpe opgetree.
Van kleins af het myne en mynwerkers vir David ’n bekoring gehad. En vandat sy oupa in ’n mynramp dood is, was dit sy begeerte om die mynwerker se lewe en sy gemoed te besing. David se ideaal is nie verwesenlik nie, tot einde 1966, toe sy eerste treffer, “Mountains of men” vrygestel is, opgedra aan alle mynwerkers. “Mountains” het gou ’n treffer geword. Kort daarna is “Coalbrook” vrygstel – ook ’n treffer.
’n Paar maande later gaan kyk David ’n rolprent wat ’n diep indruk by hom laat: Ship of Fools. Die patetiese hoofkarakter in hierdie rolprent, wat nie eens sy eie naam kan onthou nie, doen wonderwerke vir ander mense en hulle omstandighede (hy los hulle probleme vir hulle op), terwyl hy nie sy eie probleme kan oplos nie. Na die film het David gedink: “It’s a strange, strange world we live in.” Die volgende dag het hierdie reël aanhoudend in David se kop bly maal. Hy het baie gehou van die ritme van die reël en het geweet dat hy hier iets beet het.
David se swart kollegas by die myn het hom destyds as Master Jack aangespreek. Daardie middag na die film, terwyl hy onder in die mynskag vir die hyser gewag het, het ’n wysie vir die woorde by hom opgekom. Die titel vir die liedjie het ook daardie middag by hom vasgesteek nadat ’n swart kollega hom met ’n “Good day, Master Jack” gegroet het.
Met die vrystelling van sy eerste treffer, “Mountains of Men”, het David sy voet in die musiekwêreld se deur gekry. Op die plaat se etiket is sy naam deur die platemaatskappy verkort tot David Marks. Sonder sy toestemming en teen sy sin, sê David, maar om klaarblyklike redes.
Na ’n vakansie in Durban, waar hy onder andere die Four Jacks and a Jill ontmoet en ’n aanbod gekry het om ’n musiekgroep te help begin, besluit David om die musiekwêreld voltyds te betree. Dit is by hierdie geleentheid dat hy sy “Master Jack”-liedjie aan hulle gegee het om op te neem.
Hy skryf die graagste, sê David, oor mense wat hy nie veel van weet nie, die verdruktes en die verloorders, die Master Jacks en die Mister Nico’s van die lewe.
David sluit sy onderhoud met Koos van der Merwe in die Huisgenoot af met die volgende: “As jy nie omgee nie, moenie van my praat as komponis nie. Sê ek maak liedjies. Opleiding in musiek het ek in elk geval nie gehad nie, en ’n beroepsmusiekskrywer wil ek nie wees nie.”
1967–1970
David se ander treffers was “I like watching People”, “Shiny, Shiny, Fairygold”, “Practise what you Preach” en “Mister Nico”.
Spiros David Markantonatos (72), alias Master Jack, oftewel David Marks, lewe nog. Hy en sy vrou Frances woon in Durban. Hy is steeds bedrywig in die musiekbedryf, en tree nog van tyd tot tyd by musiekfeeste op.
En ja, die lewe bly helaas nog vir my “a strange, strange world (to) live in, Master Jack”.
* Jan van der Merwe, skrywer van Vrystaatse Dorpe en Noord-Kaapse Dorpe
The post Wie was Master Jack – 'n myner van Welkom? appeared first on LitNet.