Vroue van die Bybel
Esté Geldenhuys
Lux Verbi
ISBN: 9780796319630
Geldenhuys is ‘n bekende skrywer en radio-omroeper wat met die moed van haar oortuiging eerlik en sonder skroom evangeliese waarhede oordra. Hierdie waarhede is nie alleen op haar geloof geskoei nie, maar ook op haar kennis van die Bybel en haar beleë insig en integriteit.
Die subtitel van hierdie boek, Vroue van die Bybel, is ... praat met ons vandag. Enige resensent staan deesdae redelik skepties teenoor die tientalle boeke wat die klem op vrouwees laat val. Hierdie boek is egter geen liggewig nie. Manlike lesers behoort dit immers ook interessant te vind. Dit handel ook nie hoofsaaklik oor vroue van die Bybel nie. Dis nie ‘n oproep om goed te voel nie, maar bevat wel ‘n ope uitnodiging om God in jou lewe toe te laat. Die boek gaan dan ook in die eerste plek om God, die Here van hierdie vroue en hoe Hy hulle behandel het en steeds die gelowige vrou benader en hanteer.
Die leser word bekendgestel aan ‘n verskeidenheid vroue van die Bybel van Eva tot die Hooglied-vrou. Die oogmerk is om die leser te laat leer uit die universele aard van die mislukkings én suksesse in die lewe van hierdie vroue. Die postmoderne leser, al sou hy/sy ‘n gelowige wees, mag dalk skepties staan oor die genoemde "iets te leer" uit hierdie vroue se lewens. Die moontlike lewenslesse hierin vervat is hier bepaald nie vol versiersuiker nie. Niks in die lewe van vroue soos byvoorbeeld Maria, die moeder van Jesus, of Maria Magdalena, die volgeling van Jesus, word eufemisties uitgebeeld nie.
God weet die wêreld is stukkend. Van Ragab die hoer, soos wat sy pront in die Woord genoem word, tot by die ewe promiskue Samaritaanse vrou bewys God dat hy die sondaar liefhet, al sou Hy die sonde haat. Vir God bestaan kultuur- en rasseskeiding nie. Hy vee dit plat meermale wanneer sy dissipels dink Hy fouteer.
So word dié vroue van die Bybel se geskiedenis kortliks vertel, maar met God se rol onmiskenbaar daarin verweef. Na elke geskiedenis volg Geldenhuys dit op met ‘n kort (of soms langer) essay as nabetragting. Dit op sigself is ook deeglik gedoen binne die beperkinge van so ‘n boek. Een van die beperkinge is vanselfsprekend spasie. Die ruimte binne so ‘n boek wat op die mark gerig is, laat dit nie toe nie. Al die geskiedenisse van hierdie vroue kan veel dieper en teologies meer solied aangebied word, maar die oogmerk van hierdie boek is om die leser bewus te maak van God se rol ook in sy/haar lewe. Daarin slaag die skrywer beslis.
Geldenhuys hou dwarsdeur die boek voet by stuk: Liefde is ‘n daad, dis nie woorde of emosie nie, en sy baseer hierdie standpunt op 1 Johannes 4:10-12. God het die mens eerste liefgehad en uit liefde sy Seun gestuur om namens die mens ons sonde te dra.
Verder lig Geldenhuys telkens uit dat die Here, Jahweh, die groot EK IS, is. Naomi hou byvoorbeeld met haar hele wese vas aan God, al verklaar sy in haar ellende dat God se hand teen haar is. Haar onwankelbare voorbeeld lei daartoe dat Rut onomwonde verklaar dat haar skoonma se God ook haar God is (Rut 1:16,17). Geldenhuys vra dan ook die volgende vraag in die nabetragting van Rut se geskiedenis, en beantwoord dit terselfdertyd: “Wanneer is ‘n getuienis geloofwaardig? Sekerlik wanneer dit volhoubaar gelééf word...” (115).
Die boek is vlot geskryf en die skrywer is seker van haar saak. Geldenhuys probeer nie bekeer nie, sy getuig net. Sy vertel van wat was en wat is en altyd sal wees: Die mens se soeke na God soos uitgebeeld in die soms erg treurige en meermaal wonderbaarlike gebeurtenisse in die lewens van hierdie vroue van die Bybel.
Op ’n punt van kritiek: Die skrywer sê soms te veel. Byvoorbeeld op bladsy 211: “Maria het die beste keuse gemaak. Kom ons volg haar voorbeeld”. Die “Kom ons volg haar voorbeeld” kon maar gebly het. Dit is ‘n gevolgtrekking wat die leser werklik self maak.
Ander voorbeelde van woordrykheid kom ook voor, byvoorbeeld op bladsye 218 en 219, waar herhaaldelik gevra word wat die leser vandag behoort te doen. Die hele wese van die boek (al verwys dit na gebeurtenisse van duisende jare gelede), is immers gerig op vandag se probleme, want universele probleme bly dieselfde. Dit bly net ‘n kleinigheid in ‘n boek wat baie lesers sal raak.
The post Resensie: Vroue van die Bybel deur Esté Geldenhuys appeared first on LitNet.