Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Koalisievorming: Wen ten alle koste, of is daar nog plek vir beginsels?

$
0
0

Die seismiese skokke van die afgelope verkiesing is besig om stadigaan nie net die politieke landskap te verander nie, maar ook ons sosiale landskap. Die kiesers het stem dik gemaak en gewys wat gebeur as hulle hul demokratiese regte uitoefen. Vir die eerste keer sien ons hoedat kleiner partye in ’n munisipaliteit die kitaar tokkel en die groot partye na hulle pype laat dans.

Die gesprekke rondom koalisievorming is vir my besonder interessant, want dit gaan aan die hart van die etos van die verskillende partye. Ek vermoed die gesprekke wat nou gehou word, lyk in sommige opsigte soos die gesprekke wat gehou was in die aanloop tot die 1994-verkiesing en oorgang na ’n demokratiese bestel. Daar is besinnings rondom behoud van identiteit, vrae rondom hoeveel en waaroor jy bereid is om te kompromitteer. Dit word algemeen aanvaar dat daar kompromieë getref moet word as daar enigsins vordering gemaak gaan word, maar die keuses wat partye maak oor waaroor om kompromieë aan te gaan, is aan die hart van die huidige onderhandelinge.

Vir my is die poster boy van hoe om dit nie te doen nie, Marthinus van Schalkwyk. Hy het alle politieke integriteit verloor toe hy lid van die ANC geword het om ’n pos te herwin. Vandag is hy grootliks polities irrelevant. Hy het nie meer die respek van sy ou NP-partylede nie, en nog minder het hy die respek van sy ANC-bedmaters. Niemand vertrou ’n persoon wat hulle beginsels so vinnig kan prysgee vir so min nie.

Daar is altyd die keuse: Gaan ons ooreenkomste aan om ons ten alle koste te laat wen, of is daar sekere alliansies wat ons nie kan aangaan nie omdat dit eenvoudig teen alles indruis waarvoor ons staan? My politieke onderrok hang seker uit, maar ek vertrou geen politici wanneer hulle beginselvas is in omstandighede waar hulle beginsels hulle niks kos nie. Om Martin Luther King aan te haal: “The ultimate measure of a man is not where he stands in moments of comfort and convenience, but where he stands at times of challenge and controversy.”

Ek wil sien hoe beginselvas die partye is wanneer hulle meer kan wen deur kompromieë aan te gaan oor hulle grondbeginsels. Die DA het in drie Karoo-dorpe die burgemeestersposisie aan kleiner partye afgestaan, in ruil vir steun by Beaufort-Wes. Die partye se waardes verskil nie regtig veel van dit waarvoor die DA staan nie. Ek wil egter sien wat gebeur in gevalle waar die keuse is om in die bed te klim met ’n party wie se beginsels vir hulle onaanvaarbaar is of beheer oor ’n munisipaliteit te verloor.

Dis natuurlik nie net waar in die politiek nie.

Neem byvoorbeeld die stryd om die behoud van Afrikaans. Ek het ’n diep wantroue in die motiewe van organisasies soos AfriForum en Solidariteit. Maak nie saak watse window-dressing hulle mee vorendag kom nie, ek vind dit baie, baie moeilik om te glo dat hulle die belange van enige groep anders as wit mense op die hart dra. Bruin Afrikaanssprekendes is net ’n gerieflike voertuig om hulle taalvereistes meer verteerbaar te maak. Bitter min wit Afrikaanssprekendes deel my ongemak, want – en dis ’n argument wat ek gereeld hoor – die behoud van die taal is belangriker as onderlinge verskille en ons moet saamstaan. Ten alle koste. Maar is dit regtig belangriker? Die Solidariteit-en-AfriForum-brigade verloor niks deur bruines in te trek nie. Maar wat verloor bruin Afrikaanssprekendes?

Solidariteit is besig om heelwat positiewe beriggewing te ontvang, veral noudat hulle by die Verenigde Nasies aangeklop het oor die kwotastelsel. Waar was hulle egter toe die kwotastelsel wit mense bevoordeel het? Toe was dit nie ’n probleem vir hulle nie. Daar is selfs ’n naam vir hulle spesifieke tipe moraliteit. Situational ethics. Dis nie die kwotastelsel op sigself wat problematies is nie, dis die feit dat hulle daardeur benadeel word.

Julius Malema het ook ’n opbloei van positiewe beriggewing ontvang toe hy sy ou mentor, Jacob Zuma, begin teenstaan het. “My enemy’s enemy must be my friend”, of so iets. Beteken dit egter dat hy sy standpunt oor ekonomiese hervorming en nasionalisering verander het? Natuurlik nie.

Dan is daar AfriForum, wat onlangs in ’n hofbeslissing afgeransel is vir hul seksistiese, rassistiese tendense.

In ’n beweging wat hulle beywer vir behoud van Afrikaans klim organisasies soos Solidariteit en AfriForum in die bed met ’n organisasie soos PEN Afrikaans, wat deel is van ’n wêreldwye beweging wat hulle beywer vir taalregte ten gunste van persvryheid en teen enige vorm van diskriminasie. Maak nie saak hoeveel ’n persoon of ’n organisasie hulle uitspreek ten gunste van gelyke regte nie, die oomblik as hulle betrokke raak by organisasies wat nie daai selfde waardes uitleef nie én daai betrokkenheid verdedig, verloor hulle integriteit. Dalk nie in die media nie, maar iewers langs die pad begin mens ’n glybaan betree waar dit al moeiliker word om te veroordeel wat jou bedmaats buite om hulle vergaderings met jou doen.

Ek sou hoop dat daar ernstige besinning gedoen word oor presies watse tipe Afrikaanssprekendes PEN Afrikaans wil verteenwoordig, en watter prys hulle bereid is om te betaal. Hoe ironies sou dit nie wees om lank en hard te stry om vry te kom van die konserwatiewe en selfs verkrampte agtergrond van die organisasie soos wat dit gelyk het voor herkonstituering en dan vrywilliglik bedmaats aan te neem wat in die ou organisasie heel gemaklik en tuis sou voel. Wat was die punt van die herkonstituering van die organisasie dan?

Is daar regtig ’n “greater good” wat die prysgee van beginsels aanvaarbaar maak?

Sou die eksperimente wat in Nazi-Duitsland op gevangenes uitgevoer was, meer aanvaarbaar wees indien dit gelei het tot ’n kuur vir kanker of ’n ander terminale siekte? Of is daar sekere dade wat net soveel teen die grein ingaan dat geen goed wat daaruit voortvloei, kan vergoed vir die verliese wat gely word nie?

Beide die DA en die EFF het aangedui dat hulle onder geen omstandighede met die ANC in alliansie sal gaan nie. Beginselvas, of opportunisties? Net die tyd sal leer, maar ek vind hoop in die feit dat daar perke is wat hulle skynbaar nie bereid is om te oortree nie.

Kom ons hoop dis ’n voorbeeld wat na ons sosiale landskap sal versprei.

The post Koalisievorming: Wen ten alle koste, of is daar nog plek vir beginsels? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>