Tussen wasmasjienpype wat braak
En stoomstrykysters wat sis
Vind ek gedagte vlinders
Wat my pante losknoop van die stikkende gas en mismoedige vaal elke dag.
Tussen rankende strikke, elektriese koorde wat wroeg en bind losknoop
Heeldag
Ek broei my woorde
Want die singende koeël uit die magasyn kan nie terugkeer
die diep seer
Van verwyt en uit onvergewensgesindheid – ewige mislendigheid.
Maar nie vandag nie
Vandag lyk konkryt sag
Vandag lyk gemors soos veldblomme
Vandag ruik die brandende koperkabel soos wierook
Vandag klink die gedreun van karre soos blaasinstrumente:
Sirenes balg berusting.
Die onrus in die straat rys soos ‘n hallelujakoor
Die ontploffing van petrolbomme soos Nuwejaarfonteine van loutering
Die oproer soos feesviering
Ek is reg vir die slag:
Ek besmeer my lyf die rooi oker van erkenning
Ek druk die spies teen my keel en die euforie bedwelm;
Omwind ‘n tong wat onwillig die pleitgebed deur gebarste, droë lippe pars
Die snellervinger wat op my gewete knars.
Skel-koggellend seil hy hitsend om my voete
Sirkel my en my onwillige gedagtes
Op pad op ‘n onafwendbare roete.
Die dreigemente betoor
My vrees kloppende onstuimigheid in die oor
Sy tartende woorde ‘n kopboor
Stadig besig om skade in my gemoed te stoor.
En dan sy oë rek groot
Deur die huis weerklink die rewolwer se skoot
In my oomblik van ekstase, brand die pyn-
Die koue vraende oë, ‘n mond wat nog sy lot wou bepleit-
Die lyf wat so leweloos lê
grasieus uitgesprei – plank nog vasgeklamp in die wreedaardige kloue
Gesigsuitdrukking vasgebrand soos ‘n Gotiese Katedraalskildery
Maar vandag pleit ek nie vir die man nie – ek moor die monster
Die monster wat waarheid smokkel
Die man wat so met die waarheid kon konkel:
Die engel wat mense in die voorhuis kon ontvang:
Die Lucifer wat se toorn so gereeld op sy binnemense kon ontvlam.
Maar ek trek my aan
Omgord my lende:
trek al die naalde van verwyt uit my vlees
“Vergeet van ‘was’en ‘kon wees’’
En pantser my gedagtes koud
Die oomblik is heilig
Die buislig skyn surrealisties:
“Bevryding”
Die vrees metaal-smaak klou bitter;
Ore sing-fluit die stil hallelujah verlossingslied
Vreedsame stilte sypel deur die vertrek onrusbarend
Die bloedplas kring ‘n rooi halo
Asof dit ‘n laaste wegkomkans bied
Swawelstofdampe wat te kenne gee: “Jy het hom geskiet!”
In koorsagtige murmurering kom die omwentelinge tot stand:
Die spin-spin skudding wat die waarlikheid penorent plant
Sou ek skree? Sou ek ruk?
Wat sou ek doen om dit te kenne te gee?
Spin-spin-skud…
In koue sweet kleef die sigaretreuk klam.
Die oorwinningslied in Mineurklanke talm,
Hartseer wat die soet laat taan-
Die bekende rooi-en-blou vlam
En die alombekende sirene wat my lewenswedstryd stram -
Die klop aan die deur wat deur die huis weergalm
Weg op pad na die hok kinders wat ewe skielik rank
om my bene
Pleit en kreun teen die keuse wat hul histeries laat krank
van skok:
Ma of Pa?
Die vredesduif se vlerkspan, omwettelbaan in my pad van korte duur
Die kraai sit en lag op my huis se dak, glimlag op die muur
Ek steek my hande uit, knik my kop
Terwyl die res van die buurt my aangluur.
Ek probeer hul gedagtes stop:
Koue boeie en alles is gedaan in ‘n uur
Onderdanig buig ek die hoof
Amper soos in gebed
En verdwyn agterin die kar wat loei
stryk die viole wat bloei
Langs my flits die laaste prente:
Vandag lyk konkryt sag
Vandag lyk gemors soos veldblomme
Vandag ruik die brandende koperkabel soos wierook
Vandag klink die gedreun van karre soos blaasinstrumente:
Sirenes balg berusting.
Die onrus in die straat rys soos ‘n hallelujakoor
Die ontploffing van petrolbomme soos Nuwejaarfonteine van loutering
Die oproer soos feesviering:
Die leuenaar het sy gladde voetwerk verloor.
The post Eldoradopark appeared first on LitNet.