Die kar het geratel en geskud oor die uitgeryde sinkplaatpad, ‘n pad wat plek-plek so verspoel was dat ek glad nie vinnig kon ry nie. Boonop het die grys-bruin omgewing nie veel bygedra tot ‘n inspirerende of positiewe gedagtegang nie.
Vir die grootste gedeelte was dit eindelose polgrasveld wat deur lae bossieagtige struike afgewissel is. So hier en daar het ‘n windverweerde doringboompie desperaat aan die harde aarde vasgeklou. Geoordeel aan die verspoelde pad en die sigbare nuwe grasgroei langsaan, kon dit nie te lank gelede nie gereën het. Op daardie tydstip egter het die laatmiddagson genadeloos op die aarde neergebak met slegs yl strepies cirruswolkies wat die eentonige helderblou van die lug onderbreek.
Dit was al ná vier en ek het rede gehad om bekommerd te begin raak. Die vurk in die pad wat ek, volgens die ou bruin man by die vulstasie, ná ‘n honderd kilometer moes kry, het ek nooit gekry nie. Behalwe as die vurk na ‘n plaaspad met ‘n hek verwys het, was daar geen vurk nie. Ek het selfs ‘n slag of wat omgedraai en weer op my spore teruggery, maar ek het geen afdraaipad, padteken of padbordjie gekry nie.
G’n verkeer het die afgelope uur-en-‘n-half van voor of van agter by my verbygekom nie en daar was nêrens ‘n plaashuis naby die pad sigbaar waar ek kon aanry en aanwysings vra nie. Die plekkie waarna ek op soek was, was blykbaar ‘n sendingstasie met ‘n winkeltjie, petrolpomp en oornagfasiliteite. Hoe ‘n plek enigsins ‘n bestaan kon maak in hierdie verlatenheid slaan my dronk. Die priesters of sendelinge hier rond moes ‘n besonder sterk geloof gehad het.
Net voordat die son agter die dynserige rante begin wegsak, merk ek oplaas die kenmerkende bome en windpompe wat ‘n plaashuis of nedersetting aandui, so ‘n ent voor my op regterkant. Soos ek naderkom, sien ek dat die winkeltjie met sy enkele petrolpomp net links van die pad staan. ‘n Verweerde en sonverbleikte uithangteken adverteer Pegasus-petrol en Laurel-paraffien.
Ek trek af en hou onder ‘n geroeste sinkplaatafdak stil. Die petrolpomp kom duidelik uit ‘n ander era want dit werk nog met die hand. Links van die winkeldeur word die voordele van Golden Flake-sigarette op ‘n metaalbord gepromoveer. ‘n Krulkopdametjie in ‘n outydse rooi swembroek en 'n lang sigaret in die hand onderstreep die beweringe. Aan die ander kant van die deur word Persil-waspoeier uitgesonder as dié een wat jou wasgoed die witste sal laat. Dit help my egter alles niks, want die afgeskilferde rooibruin deur is met ‘n ketting en groot slot gesluit.
My oog tref ‘n beweging aan die ander kant van die pad en, omdat ek in elk geval niks by die geslote winkel kan uitrig nie, ry ek oor soontoe. Voor die hek is ‘n uithangbord waarop ek die woord “mission” vaagweg kan uitmaak. Die toegangshek is bruin geroes en hang skeef oop aan net een skarnier. Dit was duidelik baie lanklaas toegemaak. Onder ‘n klompie peperbome staan ‘n man my en inwag. Ek trek die kar tot daar waar hy beduie ek moet stilhou en klim uit.
‘n Geelbruin hond van twyfelagtige afkoms staan nutteloos in die rigting van die grootpad en blaf voordat hy nuuskierig en al stertswaaiend saam met die man by my aankom.
“Goeienaand, Meester,” groet die ou uit ‘n tandelose mond en steek terselfdertyd ‘n benerige hand na my toe uit. Hy’s geklee in ‘n khakilangbroek en langmou khakihemp wat tot by die heel boonste knoop toegeknoop is. Yl grys haartjies is skewerig oor sy verrimpelde voorkop gekam.
“Naandsê,” beantwoord ek sy groet. “Ek hoop nie ek pla nie. Maar ek wil nie graag in die donker op hierdie pad ry nie en het gehoop dat julle dalk vir my ‘n slaapplek vir die aand sal hê.”
“Geen probleem nie, Meester. Slaapplek is daar baie en vreemdelinge is altyd welkom. Is daar bagasie wat u wil uitlaai?”
“Net ‘n klein oornagkoffertjie. Ek bring dit sommer saam.”
“Volg my.” Dis ‘n bevel eerder as ‘n versoek. Sy stappie, voor my uit op die rooigepoleerde stoep, laat my baie aan dié van ‘n sekretarisvoël dink. Voor ‘n groen kamerdeur met ‘n sleutel in die slot, kom hy tot stilstand, sluit oop en stap voor my die skemer vertrek binne. Daar’s ‘n gevroetel, die gekras van ‘n vuurhoutjie en daarna die flikkerende geel lig van ‘n kers.
“Verskoon tog die kers, maar ons het nie elektrisiteit hier nie.” Hy kyk in die kamer rond asof hy iets soek, maar skud toe sy kop. “Ek dog ek kry ‘n swaelreuk maar dis seker my verbeelding. Maak jouself gerus tuis. Daar is warm water as jy wil bad. Ons eet stiptelik om sewe-uur - die eetkamer is af met die stoep op linkerkant.” En met daardie woorde stap hy uit en trek die deur agter hom toe.
Die water spoeg-spoeg met ‘n aanvanklike roeserige bruin terwyl ek die bad uit blinkgeslyte geelkoperkrane vol tap. Gelukkig is die water heerlik warm en kan ek die moegheid rustig uit my liggaam uit week. Dis ‘n bad van die outydse soort, met gekromde gietyster pootjies waarvan die vergeelde emalje plek-plek deur jare se gebruik afgestamp is.
Nadat ek gemaklik aangetrek het, stap ek met die stoep af na die eetkamer. Ek neem aan dis die eetkamer, want daar skyn ‘n lig by die deur uit.
Die vertrek word deur ‘n reusagtige donkerhouttafel oorheers waarop twee Coleman-lampe die gesigte van die vyf mense om die tafel verlig. Ek neem aan dat die oop plek vir my gedek is. Op my horlosie is dit ‘n minuut oor sewe. Met ‘n gemompelde verskoning gaan ek haastig by die sesde plek aansit. Die persoon langs my neem my hand en die ou man begin te bid: “Segen Vader wat ons eten en laat wij nimmer U vergeten.”
Die kos bestaan uit skaapskenkels met aartappels en brood. Ek neem aan die brood staan in vir die afwesigheid van groente. Die gesprek rondom die tafel is ‘n tipiese gesinsgesprek en draai hoofsaaklik om die huisbewoners se wedervaringe gedurende die dag. Behalwe vir die ou man is daar ‘n tengerige ou dame, wie ek aanneem sy vrou moet wees want die ander noem haar Ma. Langs my, is daar ‘n meisiekind in haar vroeë tienerjare waarvan die paar puisietjies op die voorkop haar jeugdigheid verklap.
Oorkant haar sit ‘n jong man met ‘n olierige Elvis-(uit die sestigerjare)–kuif en langs hom ‘n jongerige vroumens met ‘n kind op die skoot. Die vrou met die kind sit aan my oorkant en staar so blatant na my dat ek later heel ongemaklik begin voel. Jong Elvis praat aanmekaar van alles wat hy nog aan sy “bike” moet doen voordat dit weer sal kan loop, terwyl sy pa (of skoonpa) hom tussenin herinner aan die moontlike kostes daaraan verbonde.
“Ma” op haar beurt praat net wanneer iemand met haar praat en krap verder lusteloos tussen die beentjies op haar bord rond. “Meisie” hier links van my speel skynbaar voetjie-voetjie met haar broer (of swaer) oorkant haar want sy bly, hoogs irriterend, onderlangs giggel.
So tussen die gestaar en ander irritasies kom ek darem agter dat hulle nie die sendelinge is nie, maar bloot die plek bruikleen en oppas vir die oorsese kerkorganisasie aan wie dit behoort. Die winkel en petrolpomp het niks met hulle te doen nie en was al gesluit vandat hulle ses jaar gelede daar aangekom het. Elvis is die skoonseun, Milly is sy vrou en Baby is die laatlammetjie (wat swaer in die donker knyp).
Dis toe Milly uiteindelik haar mond oopmaak om te praat dat ek agterkom waarom sy so na my staar. “Jy’s nie dalk familie van James Dean nie?” wil sy van my weet. “Jy lyk op ‘n druppel water na hom.” Ek merk dat een van haar voortande ‘n slegte plek in het.
Ek weet nie uit watter hoek Milly vir James Dean gesien het nie, maar ek het nog nooit gedink dat ek en die oorlede rolprentikoon na mekaar gelyk het nie.
“Nee,” antwoord ek toe maar. “Behalwe as my ouma ‘n kind weggegee het met geboorte, is ek nie familie van hom nie.”
Dis eers later dat ek besef het dat dit dalk nét die stukkie nuus was wat haar armsalige bestaan in daardie verlatenheid sou kon inkleur. Op daardie stadium egter glimlag sy maar net skeef vir my.
“James Dean is mos baie lank voor jou tyd?” waag ek.
“Ja, maar hier’s hope ou flieks en ‘n projektor ook. Ons kyk elke Vrydag- en Saterdagaand fliek.” Die manier wat sy dit sê laat dit klink soos ‘n besonderse prestasie.
“Hier’s ook ‘n gramophone met hope seven-singles en ander records. My favorite is natuurlik Elvis,” druk Baby haar neus in ons gesprek in.
Ek is so bietjie dronkgeslaan. “As hier nie elektrisiteit is nie, hoe kry julle die goed gewerk?”
“Hier’s ‘n generator wat pa opstart as ons fliek. Maar pa sê ons het nie geld om elke dag op luxuries soos petrol te mors nie.” Sy kyk na haar pa, wat knikkend beaam wat sy gesê het.
Dis nog nie half-nege nie en daarom sit en luister ek toe maar na hulle gesels in ‘n poging om die tyd om te kry. Toe Milly egter op ‘n stadium haar borste ontbloot en een vir die kind, wat begin lastig word het, aanbied om te drink, besluit ek dis hoogtyd om te gaan slaap. ‘n Vrou se borste is seker van die mooiste dele van die vroulike liggaam, maar as hulle gereduseer word tot hulle anatomiese funksie, verloor ek vinnig my smaak.
Ek bedank hulle vir die maaltyd en sê iets van moeg wees en ‘n lang pad wat die volgende dag vir my voorlê.
“Sal jy ontbyt eet môreoggend?” wil die ou man weet.
“Ja, ek dink tog so, dankie.”
“Sluit maar jou deur voor jy gaan slaap. Hier loop partymaal goed rond in die nag.” Oor watse goed daar in die nag rondloop, brei hy nie uit nie.
Ek sluit die deur soos aanbeveel is, blaas die kers dood en klim tussen die koel wit lakens in. Wonder bo wonder slaap ek toe soos ‘n klip en skrik eers ná ses die volgende oggend wakker. Ek verbeel my dat daar êrens deur die nag iets aan my deur gekrap het, maar ek het dit so deur die slaap as die hond afgemaak.
Die ontbyt bestaan uit vars brood, wors en eiers wat ek met ‘n koppie lekker warm koffie afsluk. “Goed geslaap?” vra die ou man so tussen sy bedienery deur.
“Ek het heerlik geslaap, dankie. Dis seker omdat ek so moeg was.”
Hy kyk my skepties aan asof hy my nie glo nie, maar hy vra nie verder uit nie en ek laat dit daar.
Die verblyf vir die aand, etes ingesluit, kos my toe vyfhonderd rand, maar dit was die moeite werd. Net ná agt val ek toe weer in die pad.
Skaars was ek by die hek uit toe ek ‘n beweging agter my in die kar gewaar. Dis ‘n meisiemens wat op op my agtersitplek lê, maar dis nie een van dié wat ek die vorige aand ontmoet het nie. Logies skrik ek toe my melk skoon weg.
“Wie’s jy en waar kom jy vandaan?” wil ek bars weet. Ek is seker ek het die kar die vorige aand gesluit, maar ek kon ook vergeet het.
“Moenie vrae vra nie, ry net asseblief. Ek moet vandag hier wegkom want hulle gaan my nog doodmaak.” Sy’t regop gaan sit, maar het bly agtertoe kyk.
Wie die “hulle” is, sê sy nie en daarom ry ek toe maar voort. Ek skat haar in haar vroeë twintigs, miskien so ‘n bietjie verwaarloos in ‘n groen crimplene minirokkie met ‘n groen en geel plastiekhandsakkie op die skoot.
Die padoppervlak was effens beter en net toe ek begin om spoed op te tel, gebeur dinge baie vinnig. Die meisie gil vreesbevange agter my en ek kyk om. Op haar beurt beduie sy vorentoe en toe ek vorentoe kyk staan daar ‘n man met ‘n geweer reg voor my in die pad. Die geweer se loop kyk reguit vir my. Ek kan nie links of regs van hom verby nie en daarom skop ek die remme vas, wat veroorsaak dat die kar in ‘n wolk stof op die los gruis begin gly.
Daar’s ‘n harde slag voor op die neus en ek hoor net glas breek. Die kar gly tot stilstand en terwyl die stof sak, klim ek uit. My eerste oorweging is die man met die geweer, want daar was geen manier waarop ek hom kon misry nie. Ek kyk voor, onder en agter die kar, maar daar’s niks. Daar is nie eers gebreekte glas nie en geen duik of skade op enige plek aan my nuwe kar nie.
Ek maak die agterdeur oop om die meisie te vra of sy reg is, maar daar’s nie ‘n meisie nie. Dis asof ‘n yskoue hand my om die hart beetkry. Dis kaal vlaktes met graspolle en bossies. Dis net feetjies wat daar sal kan wegkruip, maar daar’s niks, bôggerol. Geen man met ‘n geweer of meisie in ‘n lemmetjiegroen crimplene minirok nie. Niks ...
Ek trek daar weg in ‘n wolk van gruis en stof en ry so vinnig soos wat die pad my toelaat om te ry. ‘n Paar maal moet ek sukkel om die kar onder beheer te hou nadat dit in ‘n draai begin gly het, maar ek verminder nie spoed nie. Ná sowat twintig kilometer kry ek gelukkig die teerpad. Vandaar straf ek die spoedgrens totdat ek twee ure later voor my bestemming stilhou.
Die heeltyd voel dit asof iemand nét agter my is want ek kan behoorlik sy of haar oë in my rug voel boor. Bewerig stap ek die hotel se sitkamer binne en bestel ‘n skoon dubbel whisky wat ek in een teug in my keelgat afgooi. Onmiddellik daarna bestel ek nog een. Soos die kalmerende effek van die alkohol deur my are begin vloei, kan ek geleidelik begin ontspan. Vir ‘n paar aande daarna skrik ek steeds gedurende die nag in ‘n koue sweet wakker en ek was eers weer behoorlik rustig nadat ek uiteindelik terug was by die huis.
Dit was totdat ek gister die kar skoongemaak het en ‘n groen en geel plastiekhandsakkie onder die voorste passasiersitplek gekry het.
The post Die sendingstasie appeared first on LitNet.