Hierdie is die derde opeenvolgende jaar wat ek nie by OppiKoppi was nie en dit maak my regtig eintlik net bietjie hartseer. Soos vir meeste ander trotse binnelandse jong Suid-Afrikaners, voel ek dat OppiKoppi ons jaarlikse pilgrimage is waarin ons deur stof, hitte, koue, drank, dwelms, kultuur, taal, naaktheid, musiek, identiteit en soortgelyke mensweserige dinge onsself weer genoegsaam vind om ons volgende lewensjaar ietwat meer suksesvol aan te pak. Mens kom altyd net bietjie meer jou-erig terug na die fees. Jy is soveel meer gegrond in wat ook al jy dink jou doel op hierdie aarde is, dat jy amper oneindige passie en selfvertroue het vir alles wat jy aanpak. Deur OppiKoppi keer op keer te oorleef en te voel en te ervaar bewys ons net aan onsself waarvan ons eintlik aanmekaar gesit is. Dit wys ons dat ons 9 - 5’s en rekeninge en stukkende karre en ou selfone ons nie definieer as mense nie. By OppiKoppi sien ons wat ons kan wees en waartoe selfs die bleekste kantoorwerker in staat is wanneer hy of sy biere van ’n enorme reisende wit hond se rug af uitdeel. Dit is iets merkwaardig om te beleef. Dit maak die wêreld mooi. Of so sal ek raai, aangesien ek al weer nie daar was nie.
Hierdie jaar was die verskoning dat ek ’n dag voor die fees begin het, terug in SA geland het na drie maande in die VSA. So, dit was deels swak beplanning en deels sielsmoegheid en deels jetlag (wat nuttig sou wees by die fees). Maar dit is seker, in terme van Oppi, die groter prentjie en my jong en nog redelik verantwoordelikheidlose lewe, eintlik maar net redelose verskonings.
OppiKoppi moet. OppiKoppi is in ons bloed.
So, soos ’n jaloerse en jammergattige bitterbal sit ek dus maar op Facebook tussendeur uitpak en slaap en kyk na almal se foto’s soos dit inkom en natuurlik lyk hierdie een al weer soos die beste een wat daar nog was. Ek is maar effe in die taaldinge in, so ek sien mense soos Danie Marais en Toast Coetzer en Ronel Nel by die Poetry Sessions by die boonste kroeg (natuurlik die beste verhoog van die lot) en wil ’n doodsroggelagtige ween van frustrasie en verlange gee. Julle almal anders kan maar hierdie fomo-fantasie van my inkleur met julle eie persoonlike OppiKoppi-gunstelinge. Maar, dit is in elk geval min of meer wat ek met my Oppi naweek gedoen het.
Anders, byvoorbeeld, as maar net heeltyd en aanhoudend en dag na dag sit en dink aan hoe lekker OppKoppi is en hoe sleg dit is dat jy nie daar is vir die HELE langnaweek nie, weet ek ook nie regtig wat anders daar is om te doen nie. Ek bedoel, daar is vreeslik baie ander dinge om te doen, maar almal is eintlik maar in gees en gedagte by die fees en alles wat mens doen herinner mens in elk geval net aan dinge wat mens op vorige feeste daar aangevang het, so alles word net met so bietjie minder gusto aangepak. Ek reken, as jy nou regtig nie daar kan uitkom nie, is die beste ding om te doen maar net om tou op te gooi en jouself totaal en ten volle toe te wy om dan tog maar net in gees en gedagte daar te wees wanneer ook al die fomo wil oorneem en jy in Brolloks of Bittergal in wil verander oor die hele affêre.
So dan, stap een: Haal diep asem (ja mediteer tog net en kry jou Zen aan, dit is seker ’n fad vir ’n rede). Stap twee: Put a smile on that dial en dink aan hoe fantasties dit vir almal moet wees wat tans daar is, wat hulle sien en voel en leer. Dink aan hoe lekker dit vir almal was wie al in hierdie laaste 22 jaar daar was en hoe die ervaring hulle lewens verander het. Dink aan hoe ons almal se normale sosiale norme en waardes en vooroordelings wegsmelt en mens die beste tipe mense ontmoet en vir wie mens gewoonlik nie eens na sou kyk op straat nie. Laat hulle geluk jou geluk word. Stap drie: Laat hierdie gevoel van vrede en geluk oor jou spoel, want op hierdie manier vergestalt jy een van OppiKoppi se basiese prinsiepe - wees net gelukkig, tot in jou kleintoontjies in. Wees, met ander woorde, net gelukkig dat daar nog ’n OppiKoppi is, dat dit nogals cool is, en dat daar gelukkige en nice mense daar is.
Onthou dat almal wat daar is, of hulle hulle koppe af rave, en of hulle hulle sokkies af vry, fees vier vir almal van ons. OppiKoppi gebeur met almal individueel, maar ook met almal saam. Dit is dualisties, jy sien. Twee in een, saam en alleen. So ’n tipe iets. Dit is juis dat dit ’n shared experience is wat dit so spesiaal vir elkeen alleen maak. Die totaliteit van die vibe van daardie fees is soos ‘n massagebed vir jonk en oud wat vra vir en herinner aan vryheid en vrede en liefde en passie en omgee en deernis en barmhartigheid (soos amper elke Oppi-fees se belangrikste reël lees: Don’t be a d**s). Dit wat ons daar voel en deel met duisende ander mense dra ons saam deur ons kultuur en deur die vredeliewendheid wat aan ons vasplak in daardie stofbedonderde plek. Ek glo dat OppiKoppi regtig soos die fundamenteelste vlak van niceness in almal wat daar is en al ooit was openbaar en laat uitstraal. Dit verander ander mense om jou en dit verander jou.
OppiKoppi is ’n viering van menswees. Van nicemenswees. Dit vier alles wat ons elkeen uniek maak en dit vier alles wat ons deel van iets maak. Ons vestig bande deur almal se verskille te vier en dit saam met mekaar te ervaar en te aanvaar sonder oordeel en sonder vrees. Ons leer om onvoorwaardelik om te gee en lief te hê en om die ongeskonde sterrehemel in minus-temperature in die stikdonker nag te sien asof dit vir die eerste keer is en dan te vergeet van warm vure en slaapsakke en OBS vir so ’n rukkie. Ons word herinner dat ons almal voorvaders het en dat ons die gewig van ons eie geskiedenis en kultuur elke dag in ons bene saam met ons dra, maar ook dat ons die mag het om dit te hervorm en om ’n nuwe en beter geskiedenis te skryf. Na OppiKoppi weet jy jou storie is jou eie. Hierdie mag vloei deur ons are en ons word sterk genoeg mens om waarlik mens te wees en te weet dat dit wonderlik is. OppiKoppi is ons Redemption Song en almal sing dit saam.
So wanneer jy verlang en heimwee kry oor days of Oppi past, weet maar net dat jy eintlik daar was in jou afwesigheid. Die stof gaan lê nooit regtig nie, dit warrel elke dag deur ons wese en herinner ons aan wat dit is om ons menswees te leef, sonder apologie en sonder vrees.
The post Wat om te doen as jy nie by OppiKoppi was nie appeared first on LitNet.