Andy Paulse vertel vir Naomi Meyer van sy digbundel Ons.
Hallo Andy, jou digbundel Ons is op 9 Augustus 2016 bekendgestel. Vertel asseblief vir ons lesers van jou?
Ek is Andy Paulse, en is op ’n plaas in die Koue Bokkeveld gebore en getoë, iemand wat daarvan hou om woorde in te span dat dit uiteindelik kunswerke word. Ek het in 1984 aan die Senior Sekondêre Skool Fred Gaum in Ceres gematrikuleer. Al was my ouers plaaswerkers, het hulle groot drome vir hulle seun gekoester en na skool het ek ingeskryf by die Universiteit van Wes-Kaapland. Dit was in die tyd van boikotte en betogings en na ses maande het ek huis toe gekom.
Hierna sluit ek by die Suid-Afrikaanse Polisie aan vir ’n tydperk van sewe jaar. Die boerdery en die plaaslewe het hard bly roep en in 1991 word ek toesighouer by Westland Boerdery. Ek sou nog twee maal na ander plase skuif voordat ek in 2006 geland het by die plaas waar ek geweet het ek graag sal wil aanbly: Ceder Fruit Farm.
Ek het hier begin werk as ’n besproeiingsvoorman, maar tans is ek produksiebestuurder op die plaas. Die besigheid, wat aanvanklik uit vier plase bestaan het, het deel geword van ’n bemagtingsprojek. Tans is daar ses plase wat deel vorm van Bokkeveld Partnership en die werkers besit 40 persent van die aandele in die vennootskap. Ek is die voorsitter van die Bokkeveld Werknemers Trust en ek verteenwoordig ook die Trust as direkteur op die Bokkeveld Partnership-direksie. Ek glo dat indien my pa vandag nog gelewe het, hy my voorwaar ’n klop op die skouer sou gee vir dit wat ek in die afgelope paar jaar vermag het.
Ek is getroud met Katriena en ons het drie kinders. In die eensame wêreld waar ons woon, ver van die stad en al sy bedrywighede, hou ek baie daarvan om te sit en skryf wanneer ek die kans kry.
Op ’n dag het ek een van my gedigte op Facebook gelaai, en dit het ’n hele kettingreaksie tot gevolg gehad. Ek is genooi om aan te sluit by ’n groepie digters op Facebook, Solovlug, en later het ek ook by ander groepe wat fokus op digwerk aangesluit.
In 2013 het ek ingeskryf vir ’n kursus by die Carpe Noctem Digkuns Akademie, aangebied deur Nini Bennett. Ek het uitstekend met die kursus gevaar en word in 2014 aangewys as die digter van die jaar by die Carpe Noctem Digblad.
Deel van die prys was ’n kontrak om my debuutbundel in drukvorm uit te gee, en dis waar die digbundel Ons ontstaan het. Van my gedigte en prosa is al in verskeie ander bundels opgeneem.
Ek verwys na myself as ’n klong uit die Bokveld, en het ’n besondere waardering vir my ouers by wie ek ’n diep liefde vir Afrikaans geleer het. Behalwe my liefde vir my vrou en my kinders, staan Afrikaans volgende in die ry. Rugby moet maar agter dit inval.
Ek het baie respek vir iemand soos Adam Small en probeer met my eie skryfstyl om ook te skryf soos wat daar in die Koue Bokkeveld gepraat word. Die gedig moet nie net uit my mond uitkom en van my tong afrol nie. Dit moet uit my hart kom en daarom skryf ek soos die Bokvellers hom praat. Dit is immers hoe my ma Afrikaans vanuit haar moederskoot in my mond gelê het. Heerlike Bokveld-Afrikaans.
Waaroor handel jou bundel? Waaroor skryf jy graag?
Ek skryf graag oor ons mense in landelike gebiede, veral diegene op plase wat as speelbal deur ander, soort van, op vele maniere uitgebuit word. En hier verwys ek geensins na kleur nie. Hoegenaamd nie. Ons mense kan vir onsself dink en handel. Hierdeur probeer ek ‘n stem wees vir diegene wat nie namens hulleself kan praat nie. Die afgeskeeptes, mishandeldes ens. Armoede, kleur, ontkenning, miskenning ens “kykie byrie gesig’ie, as hy jou wil hê da vat hy jou”. Of jy daarvan hou of nie, sukses en groei is vir niemand gewaarborg nie. Dit word bereik deur harde werk en baie deursettingsvermoë. Daarom dat die titel van die bundel Ons is, sodat almal hulself daarmee kan vereenselwig.
Jou digbundel is op Vrouedag by die Kunstekaap bekendgestel. Hoe voel jy as haan tussen die henne daaroor dat hierdie spesiale dag ook die dag is wat jou digbundel verskyn?
Dit was definitief ‘n lekker “haan onder die henne”-gevoel vir my, omrede daar soveel henne is wat ‘n rol in my lewe gespeel het, en nou nog speel. Hier dink ek sommer onmiddellik aan my ma (aan wie die boek ook opgedra is), my vrou en twee dogters, en vier kleindogters, my suster en skoonsusters, en dan ook my mentors Nini Bennett en Diana Ferrus. Dit is laasgenoemde twee vroue wat die saadjie om te skryf behoorlik laat ontkiem het. Sonder hulle sou ek ‘n nul op ‘n kontrak wees.
Deel asseblief een van jou gunsteling-gedigte uit jou digbundel met ons lesers?
Ôs
ôs issie kinners vannie grond
die blackberry chatters haasbeksmilers
wat skarrel virre stukkie brood airtime
enne gatejeans mette fake brand oppie sak
spore va ôs ouers lê oppie kerkgrond rond
stofbedek gemix mette va riebeeck
khoi san enne geelblond duits hollandse pama
’n snaphaan is deur ôs hanne houvas
later deure world war groot depressie griep
en aparthyt om ôs nekke gehang
die brinks smalls breytenbachs boesaks
woorde op papier in pyn-ink gedoop
anie wêreld verkoop vertel ôs storie
baar trane berou enne lyklathaal inne fancy kis
yte wegkrypland watte begraweland word
ôs colour isse issue mettie einastrepies op
inbetweeners wat oppie rand vannie mirrel sta
diekantoe enne daaikantoe issie genoeg’ie
disse dasbesluit mette twaalftaal aksent
fancy woorde enne spekvet beursie
wat in ôs id’s ko krap
klipkap hanne ’n deurie traliekyk gesig
het ôs tronksel raakgesien en ytgebreek
na sewe en twintig jaar die kers doodgeblaas
‘n balb ingesit ‘n lyf ‘n stem gegee
die donkerbril afgehaal ennie oë lat oopgan
nousit anners va riebeeck kry’rie skuld
assitie so wassie sy skippietjies verbygehou het
het amacoloured nou in duitswes sy lê gekry
ôs issie kinners vannie grond
ôs bloed lê in Suid-Afrika rond
Waar kan mense jou bundel koop?
Die bundel was te koop by die bekendstelling van die boek op Vrouedag by die Kunstekaap in Kaapstad. Die verkope word behartig deur Clarke’s Bookshop in Kaapstad en ‘n paar is ook by Protea Boekwinkel in Stellenbosch en die Ceres Togryers Museum beskikbaar. Ek het ook nog ‘n klompie by die huis.
Aangehaal uit stories en annerlike goeters
14 Oktober 1966. Dalk ‘n dag sonder enige betekenis vir ander, maar vir Andries Hermanus en Katrina Paulse, brandarm plaaswerkers van die Koue Bokkeveld, ‘n heuglike een met die geboorte van ‘n seun, Andreas Hermanus. Hy is die tweede van vyf kinders wat uit hierdie huwelik gebore is, vernoem na sy pa. Onder naby familie bekend as Broer, onder ander, bekend as oompie Ampie of Neef. Pappa Ampie was die seun van ‘n skaapwagter van Elandskloof daar neffens Citrusdal, wat ook maar agter beter lone aangetrek het.
Katrina, oudste dogter van oupa Hottie en ouma Sarah, dra die naam Tikka. Sy was ‘n nooi Coetzee daar uit die Cederberge se wêreld. As kind was die verbintenis tussen Tikka en Katrina nooit aan ons verduidelik nie. ‘n Vrou, ongetwyfeld enig in haar soort, wat pappa Ampie se hart kon steel. Haar deugde het geen einde geken nie, van bobaaskok tot voorslag-uieplanter en voorsanger in meester Nel se koor. Haar hande het eenvoudig vir niks onder hierdie son verkeerd gestaan nie. Harde werk het haar nie afgeskrik nie. Sy is grootgemaak daarvoor. Gysbert du Toit III beskryf in sy boek Gehaltekruin: 1930 – 1990 DuToit die werksomstandighede van destyds: “Op Kromfontein het die klok soggens om 3-uur gelui, dan kom die mansmense en begin appels opvrywe om sodoende ‘n voorraad op te bou vir die dag se pak. Ligdag gaan die mansmense appels pluk en dan neem die ouer kleurlingvrouens en kinders hierdie werk oor.” Klinkklare bewys dat niks ontsien is, en geen taak te groot was om vir ons kinders ook ‘n plekkie in die son te beding nie. Haar positiewe uitkyk op die lewe kry betekenis in haar liefde vir sang, en veral vir die Sionsgesang “Blye versekering Jesus is myn”. Dit sou ook ons afskeidslied wees toe ons haar aan die Hemelse Vader terugbesorg. Met verwysing na Meester Nel haal ek die volgende aan uit Gysbert du Toit III se boek. “’n Geskiedkundige gebeurtenis het die pakstoor op Kromfontein te beurt geval toe die eerste Staatspresident, Sy Edele, Advokaat CR Swart, die pakstoor besoek het gedurende die pakseisoen van 1962. Die groot swart ampsmotor het tot binne in die pakstoor gery! Meester Nel is deur die Staatspresident met die hand gegroet. Vir hom soos hy dit gestel het die grootste oomblik in sy lewe!”
Nog was dit nie al wat pappa Ampie en mamma Tikka moes deurmaak nie. Tyd vir kindwees was daar nie veel nie. Hulle moes reeds op ‘n baie jong ouderdom help om die pot aan die kook te hou. Gysbert du Toit III maak ook melding van die werk wat deur die skoolhoof en skoolkinders op Kromfontein gedoen is. “Elke namiddag het die prinsipaal van die kleurlingskool op Kromfontein, Meester Nel, ook met hierdie funksie (die skryf van tickets) gehelp. Die kleurlingskool het gedurende paktyd ook soggens vroeër begin, sodat van die groter skoolkinders namiddae vroeër kon help in die pakstoor, asook in die boord. In die boord het hulle gehelp met die opdra van kissies sodat die kleurlingmans kon help pluk.”
Willem Adriaan en Cathrine Gertrude Marilyn, oudste seun en jongste dogter het die gesin voltallig gemaak. Willem Adriaan is vernoem na pappa Ampie se broer, Willem. Hy’t later Wimpie geword. As ek nou daaraan dink was die engelse Cathrine Gertrude Marilyn dalk die enigste luukse wat pappa Ampie en mamma Tikka waarskynlik kon bekostig. Dalk was hierdie einste engelse benaming ‘n versugting na beter omstandighede, die engelsheid daarvan het dalk vertroosting gebied vir die feit dat sy op ‘n plaas sou opgroei en moontlik verdoem sou wees tot dieselfde omstandighede waaraan hulle gewoond was. Engels wees en engels praat was immers gesien as ‘n statussimbool. Geen wonder pappa Ampie se neef, Jan Tarrieks het my ook Andy McDonald genoem nie. Jan het reeds sedert sy kleinklonkie en natpiepie jare hierdie ding oor name gehad. So byvoorbeeld het hy sy klonge Skirimpischimp, Tjoekelakkie en Ketoet genoem. Gerieflikheidshalwe verswyg ek liewer die geskiedenis van Wimpie se tartnaam, Anneries Beesklou, met verwysing na die uwe. Wat my betref moes dit soos André P Brink se “Kennis van die aand”, summier verban gewees het. Dan was daar nog Lucy van wie ek nie veel kan onthou nie en ook George, wat na oupa Hottie vernoem is. Hulle het ons reeds op baie jong ouderdomme ontval. George, of Georgie, soos ons hom genoem het, was omtrent deur almal in die familie bederf. Hy sou beslis ‘n haan onder die henne gewees het. Sou, ja ongetwyfeld as hy nog geleef het. Die bietjie onthou wat ek van hom het, is die keer toe ek byna ons huis afgebrand het toe ek my skoene onder die bed met ‘n brandende kers gesoek het. Georgie het op daardie oomblik op die bed gelê. Gelukkig vir my was dit nie fataal nie, en kon ons die vlamme gou blus. Natuurlik met die nagevolge van ‘n brandende agterstewe. ‘n Geraamde portret is al wat ons nog vandag van Georgie oor het.
Met net standerd vier kon pappa Ampie en mamma Tikka nie juis hoop op ‘n ander lewe beter as die op ‘n plaas nie. Albei het egter iets van onskatbare waarde gehad wat niemand hulle kon ontneem nie: Die droom om, ten spyte van hulle meer as beskeie en arm lewensomstandighede, hard te werk om vir hulle kinders ‘n plekkie in die son te bewerkstellig.
‘n Gesin van vyf, gebore en vergestalt in vyf paragrawe.
The post Onderhoud: Andy Paulse oor sy digbundel, Ons appeared first on LitNet.