Toe die heer Dennis Benneyworth my uitnooi om tog The Barretts of Wimpole Street te resenseer soos ek met die Masque-opvoerings sedert 1986 in Die Burger gemaak het, het ek ingestem, al is besprekings van Kaapse amateurtoneel al ’n paar jaar gelede gestaak. Myne het reeds teen 2008 nie meer verskyn nie weens my opstandigheid oor kunsbladjoernaliste se “verskriklikhede” met ’n mens se teks. Natuurlik hoofsaaklik vanuit jou as resensent se perspektief. Die kunsbladredakteurs moes my maar altyd waarskuwend daaraan herinner. Die dramaturge, die regisseurs, spelers, verhoogbestuur, bemarkers en getroue ondersteuners was ook maar soms of dikwels teleurgesteld oor hoe dinge verwoord is.
Maar meester Benneyworth stel dit so: ‘’I know casts and directors have always looked forward to receiving your assessment of their productions, and if not in English are always translated and circulated. Personally I have always found them to be honest, objective and fair.
“If you wanted to do one on our production I know it would be welcomed and if necessary be translated into English as they have been in the past.
“Take care and enjoy life.”
Hoe kan ’n mens nou nee sê? Veral as hy en die programopsteller te kenne gee dat hy ná 50 jaar plus afskeid neem van die teaterwese. In die Kaap is hy herhaaldelik bekroon vir sy vertolkings sedert 1978. Maar dan word daar bygevoeg: “… he is thinking about it.” Vir my laat weet hy: “I am regarding this production to be my final showing on stage – something of a landmark – I am now 78 and it is getting harder, and believing in the motto ‘quit whilst you are still up’ I have decided to retire.” (Oom Dennis sal my in Februarie 2017 met 8 jaar klop in bejaardheid.)
Ek het gretig begin navorsing doen oor hierdie “bejaarde” teks. Dis een waarvan ek eintlik net die titel ken omdat ek eers in 1947 in Worcester, Suid-Afrika gebore is. Dis die eerste toneelweergawe wat ek sien. Ek ken ook nie die films van 1934 en 1957 nie.
Ek wonder wat die Barretts se doen en late was daar in Wimpole-straat nommer 50, Londen gedurende die Victoriaanse lente van 1845 . In die regisseursnota besluit die regisseur Barrie Howard wyslik om nie te veel van die intrige te verklap nie.
Ek kom af op die mening van ‘n resensent van die New Yorker in Februarie 1931. In Engeland was Katharine Cornell die regisseur (producer), maar in New York is sy produksiebestuurder en Guthrie McClintic die regisseur. Hulle bring die produksie na New York vir 370 opvoerings ná ’n eerste speelvak by die Malvernse Fees in Engeland en daarna in Londen se Queen’s-teater vanaf 23 September 1930.
Cornell vertolk Elizabeth Barrett, ons Natasha Futeran se rol. Jo Mielziner ontwerp die stel en kostuums volgens beskrywings in ’n brief van die historiese Elizabeth. In ’n foto in Stanley Appelbaum se The New York Stage: Famous Productions in Photographs 1883-1939 (Dover Publications, New York, 1976) sien ek ooreenkomste raak tussen Jo Mielziner-hulle se ontwerpe en die skouspelagtige periodewerk van die Masque se ontwerpers, Barrie Howard en Jane Philbrick, met Tom Groves, Shirley Harper, Lesley Cornwell en ander wat dit geskep het.
Die uitsig op die buitewêreld deur Cornwell se venster trek dadelik die aandag en prikkel die verbeelding. Die kleredrag is stemmig of opwindend uitdagend soos die teks en die lyftaal van die karakters daarom vra. Die Masque-kostuums maak deurgaans die verskillende soorte maniere van stap van die spelers moontlik. Jane Cohen as Wilson die huishoudster stap vinnig en gedienstig; Andy Rabagliati se geaffekteerdheid in sy houdings help skep aan een van die humoristiese vertolkings. Leanne Ferreira se “afwykende” spraak en gesigspel is nog ’n komiese hoogtepunt. Wayne Ronné se romantiese digter Robert Browning het iets vloeiends in sy gedrag en dra meelewing, ja, liefde oor aan Elizabeth. Erika Marais het as die rebellerende Henrietta ‘n kragdadigheid in haar stem en fiere liggaamshouding; so ’n kontras met Anna Allman se Arabel se oorgawe aan onderdrukking en emosioneelheid. Finn Baumann se Octavius is wonderlik oortuigend as jongeling wat ’n probleem met sy wewenaarpa (Dennis Benneyworth) het en wat dit tog flink hanteer.
Mooi humor en tegelyk die aandoenlikste bewegingswerk kom van Flush, uitstekend en aanskoulik uitgevoer deur “Oliver Hindle”. Hondeliefhebbers sal seker veral sy slottoneel onthou. Hy protesteer om ná sy alte kort laaste verskyning weer af te gaan van die verhoog. Vind gerus uit waarom die regisseur geseënd was om hom vir dié belangrike rol te kon kies. John McConnell en Aubrey Hindle met hulle aansienlike spelervaring is netjies en lewensgetrou as die dokters Chambers en Ford-Waterlow, hulle wat hoop vir Elizabeth bring.
’n Mens sien dadelik vir Elizabeth as ’n invalide in haar sit- en slaapkamer op dieselfde soort bank as in die New Yorkse produksie.
Daar in die New Yorker van 1931 is dit die gedugte Dorothy Parker wat haar só uitlaat oor dié invoerproduk uit Londen: “Now that you’ve got me right down to it, the only thing I didn’t like about The Barretts of Wimpole Street was the play.” (Ronald Harwood:The Faber Book of the Theatre, Faber and Faber Limited, Londen, 1994, bl 204.)
Daar’s nog verbintenisse tussen ons en die oorspronklike geselskappe. In 1930 is Cedric Hardwicke vader Edward en Gwen Ffrangcon-Davies Elizabeth in die Queen’s in Londen. Dié Elizabeth sal van 1940 af Shakespeare hier kom opvoer met byvoorbeeld Lydia Lindeque as Viola in Twelfth Night. In 1950 volg Macbeth. Sy word ook goed bevriend met Hendrik en Mathilde Hanekom. Sy en Marda Vanne is raadgewers met die totstandkoming van die eerste toneelrade.
In 1967 versamel Denis Hatfield sy teaterkritiek in Cape Theatre in the 1940’s (Purnell, Kaapstad). Hy bespreek op bl 35-36 die Cape Town Repertory Theatre Society se opvoering in die Little Theatre onder spelleiding van die formidabele Rosalie van der Gucht in Desember 1943. Hy noem dit “Path of Love”. Want Elizabeth Barrett Browning het mos geskryf (in die opvoering word uit sonnet XLII aangehaal):
How do I love thee? Let me count the ways.
I love thee to the depth and breadth and height
My soul can reach, when feeling out of sight
For the ends of Being and ideal Grace.
I love thee with the breath,
Smiles, tears, of all my life! – and , if God choose,
I shall but love thee better after death.
Neville Nuttall (samesteller): English Verse. Juta & Co, Kaapstad, 1950, bl 65.
Hatfield gee iets weer van die inhoud en die spel. Dit gaan om die invalide aan die begin van haar digtersloopbaan op 39 en Robert Browning wat sy “first impetuous protestations of love” teenoor haar wil bevestig. “Elizabeth has long accepted the view of her family that normal life and normal love are beyond her, but she gains strength and hope from Robert’s ardent vigour, and finally leaves the fond tyranny of affectionate brothers and sisters, and the almost Cencian tyranny of a monstrous father, for a new life with Browning in Italy.” (“Cencian”dui aan dat iemand jaloers is op ’n familielid en laasgenoemde dan dood maak. In dié toneelstuk het dit deels met geestelike geweld te doen.)
Hatfield het nie vrede met “an over-facile air about the supporting figures” nie. “The visiting cousins are completely unreal.” Nee, dit vind ek nie in 2016 nie. Die regisseur gee ewe veel gewig aan die humor en die “cathartic relationship” tussen vader en dogter. Hatfield bewonder die moed van Henrietta, “the candid strength of Robert, the serene and humble beauty of Elizabeth” (gespeel deur ’n jong Joyce Burch). Ek stem saam dat ook ons Elizabeth “played with skill and delicacy”. Ek glo ook egter dat daar soms “a certain monotony, hard to define” ingeglip het in Elizabeth se spraak. Vir my kon sy tog sterker stemprojeksie gebruik het aan die begin, maar dit is tegnies moeilik om ’n lydende karakter met ’n kragtige stemvolume steeds oortuigend te maak.
Hatfield se beskrywing van Victor Evans as Edward Barrett kan ook op Dennis Benneyworth van toepassing wees. Hy “looked menacing enough and reared and pounced with sinister effect. This was almost a very good performance, but now and again the grim façade would waver, and the implacably poised voice would break apart, with a curiously disconcerted air. His final moments, however, were well caught: The last passionate interview with Elizabeth; the sudden weakening and self-disgust; … the cold frenzy by the darkening window… these were the best scenes in the play.”
Die verbouereerdheid en die sagter kant van die dominerende pa wat Hatfield ophaal kan beskou word as ’n oortuigende opbou van die slot. Benneyworth kon myns insiens wel ook soms meer gedreig en vrees ingeboesem het; daar was net soms ’n sekere tamheid wat sy karakterisering flou gemaak het. Maar dis terselfdertyd juis ’n oortuigende voorbereiding op daardie uiteindelike onthulling …
The Barretts of Wimpole Street bly ’n mens by. Dit maak amateurteater die moeite werd.
The Barretts of Wimpole Street
deur Rudolf Besier
Met Dennis Benneyworth, Natasha Futeran, John McConnell, Jane Cohen, Erika Marais, Anna Allman, Finn Baumann, Leanne Ferreira, Andy Rabagliati, Wayne Ronné, Aubrey Hindle en Oliver Hindle.
Regie: Barrie Howard
Agter en voor die verhoog: Barrie Howard, Jane Philbrick, Aubrey Hindle, Helen Mathers, Shirley Harper, Tom Groves, Lesley Cornwell, Gary Fargher, Gail Duguid Smitsdorp, Mark Jennings, Masque Theatre Bemarking en Besprekings, Wayne Ronné, June Edwards, Lynda Jennings, en die voorportaalpersoneel vir die voortreflike kulinêre vreugdes.
’n Produksie van Fish Hoek Dramatic Society in die Masque Theatre, Hoofweg, Muizenberg. Het van 22 tot 30 Julie 2016 gespeel.
The post Teaterresensie: The Barretts of Wimpole Street appeared first on LitNet.