Koos Kombuis het onlangs aangekondig hy het ’n nuwe album in die pyplyn, en hy maak van "crowdfunding" gebruik om dit ’n werklikheid te maak. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die album, die proses en waar hy nou staan as musikant.
Goeiedag, Koos. Hoe's dinge deesdae?
Dit gaan voor die wind, dankie, ek hoop dit gaan net so goed met jou!
Ja wat! Dit lyk ook of dit goed gaan met jou "crowdfunding"-poging vir jou nuwe album, Langpad na Lekkersing: Terwyl ek nou hierdie vrae skryf, staan jy reeds op 86% van die teikenbedrag (R100 000). Ek's seker baie mense wonder waarom jy jou tot dié soort proses wend om ’n album te befonds. Hoe ervaar jy mense se reaksie hierop (party bekendes is al gegésel oor hulle "crowdfunding" ingespan het vir projekte – ek dink byvoorbeeld aan die Zach Braff-debakel ... Wanneer en hoe het die plan tot stand gekom? Hoe het jy die bedrag bepaal wat nodig is? En hoe word "beleggers" beloon vir hul bydraes?
Wel, terwyl ek getob het oor hoe om al jou moeilike vrae te beantwoord, het die bydraes tot ons befondsing gespring tot by R112 000! Die album kan dus gemaak word. R100 000 was ons absolute minimum begroting; as ons in die paar weke wat oorbly dit nog kan opstoot, hoef ons nie meer "corners te cut" in terme van tyd in die ateljee, oplaag, ens nie. Eintlik is R100 000 nie genoeg nie, ons sal veel meer kan doen met R150 000 of selfs meer.
Die grootste rede waarom ek nie by ’n platemaatskappy aangeklop het om die CD vir my te doen nie, was dat ek aan my kreatiewe span volkome vryheid wou gee. Die finale produk gaan wel van volgende jaar af versprei word in winkels deur Select, maar dit is ons produk, geborg deur ons vriende en die mense van Suid-Afrika. Niemand gaan vir ons besluit watse hemde ons moet dra, hoe die posters moet lyk, en of ons na die tyd ons gatte af moet toer en in winkelsentrums moet handtekeninge uitdeel nie. Ons wil absoluut al ons aandag gee aan die opname, en die beste fokken album maak wat ons kan, verskoon die gekruide taal. Ek wil nie hype maak nie, ek wil iets help skep wat outentiek is en "home-made" voel, en wat lank onthou gaan word.
Wat die album self betref: in hierdie stadium beplan julle om ’n illustrasie van ’n reënboog in die nag op die albumomslag te gebruik. ’n Mens hoef nie te hard oor dié simboliek na te dink om te besef waaroor dit gaan nie! Ons kom nou-nou by die inhoud van die album, maar ek's nuuskierig: Het die moeilike tye waarin die land (en die wêreld) hom bevind ’n rol gespeel in jou besluit om weer ’n album op te neem? Hoe ’n groot deel van die weer-lekker-om-te-sing-element wat jy tans beleef het ontstaan uit die drang (of nood) om deur musiek interpretasie van die gebeure om ons (en in ons) te bied?
Ek het die laaste paar jaar baie getob oor wat ons doel is met Afrikaanse en plaaslike musiek. En ja, ek was soms baie negatief, nie net oor my eie loopbaan nie, maar ook oor die land, en oor alles. So ’n jaar of wat gelede, toe ek en Andries Bezuidenhout sulke swak resensies gekry het in Oudtshoorn vir ons show Terug na die Kombuis, was vir my soos ’n nulpunt. Tog, ten spyte van die resensies het mense aanhou kom en was ons elke aand vol. Ek weet nie of dit was omdat die show goed was en of mense ons moedeloosheid gedeel het of ons dalk wou laat beter voel nie. Ek onthou dat ek die show sonder my bandana gedoen het. Ek wou as't ware my Koos Kombuis-persona ondergrawe en vernietig. Dit was so erg dat by een vertoning ’n meisie uit die gehoor dit nie meer kon hou nie en opgestaan het en vir my haar eie bandana gebring het om aan te sit!
Bewustheid en betoging was nog nooit ver weg in jou musiek nie, maar ek verbeel my ek merk ’n groter soort dringendheid op in van jou nuwe liedjies (soos "Waantoe gaan ons nou"), en ook in die rubrieke wat jy skryf – is dit ’n korrekte waarneming? Hoe sou jy sê verskil die protesmusiek wat jy deesdae skep – veral dit wat op Langpad na Lekkersing sal verskyn – van jou vroeëre protesmusiek? Uit die aard van die saak sal die temas verskil, omdat die omgewings verskil, maar is daar ’n verskil in hóé jy kwessies wil aansny met jou lirieke? Is daar byvoorbeeld ’n strategie betrokke daarby om sulke liedjies meer toeganklik en/of "relatable" te maak vir meer ore?
Langpad na Lekkersing gaan nie ’n protesalbum wees nie. Met een of twee uitsonderings gaan dit waarskynlik ook nie ’n rockalbum wees nie. Daar is hartseer liedjies, daar is hier en daar snaakse liedjies, en, belangrikste van alles, daar is liedjies wat nasiebou moet bevorder en mense ’n gevoel van "belonging" moet gee. Ons oorweeg dit baie sterk om, reg aan die einde, of as hidden track, ’n nuwe weergawe van die "Fokkol Song" in te sluit: die sogenaamde "Trots Suid-Afrikaanse Fokkol Song" ... "Fokkol rede om te fokof, want ... ONS is die beste land!"
Want wat jy ook al dink van Suid-Afrika in die jaar 2016, dit gaan elders kakker as hier. Ons het nie die Zika-virus nie. Ons het min tornado's. Ons kom oor die weg met ons plaaslike Moslems, Goddank. Hier's nie aardbewings of tsunami's nie. Om die waarheid te sê, waar volke in die noordelike halfrond grootskaals hul geloof in hulself verloor het, is daar besig om ’n samehorigheidsgevoel pos te vat in Suid-Afrika wat oor kultuurgrense strek. Hier is iets aan die roer hier. Dis nie net Trevor Noah nie, hier's ook ander ouens met baie talent wat nog ’n groot impak op die wêreld kan maak.
In die lokvideo vir die album se "crowdfunding"-veldtog sê jy onder meer die nuwe album sal poog om dit duidelik te maak "Afrikaners is nie dose nie! Ons is nie almal so nie! Ons is eintlik baie nice." Ek besef dis half tong-in-die-kies gesê, maar dit is tog ’n interessante vraagstuk: Hoe stel ’n mens so iets ten toon met musiek? Ook: dit is natuurlik nou ’n warm kwessie in die media, ná Max du Preez se rubriek waarin hy AfriForum en Solidariteit se "kaping" van die "Afrikaanse hoofstroom" kritiseer. Waarom is daar die persepsie dat Afrikaners dose is? Of dalk is ’n beter vraag: Hoekom kry so baie Afrikaners dit reg om alle Afrikaners soos dose te laat lyk? Wat kan en moet die Afrikaanse kunstenaars en media – en Afrikaanse mense in die groter openbare diskoers – doen om minder doosagtig te wees / voor te kom?
Dis dalk nie vir my om te sê of Afrikaners dose is of nie. Ek was self ’n doos. Die tyd van die Kombi's was veral nie my beste tyd nie, al dink baie mense ek was ’n moerse hero of iets. Vir die grootste deel van my openbare loopbaan was ek selfgesentreerd, arrogant, argumentatief, en ek het gedurig probeer bewys ek is beter as ander. Ek het dit self nie eens besef totdat ek begin werk het aan hierdie album nie! Die liedjies was ’n poging om my eie masker af te haal en uit te vind wie ek regtig is. Wie ons is.
Op ’n ligter noot – verskeie musikante het reeds aangedui hulle sal wil deelneem aan die opnames en voorbereiding vir Langpad na Lekkersing: Onder meer Riku Lätti, Ramon Alexander, Anna Davel en – wat sekerlik ’n hoogtepunt sal wees – David Kramer. As jy ’n wish list kon saamstel van enige musikante – lewend of dood, plaaslik of internasionaal – om saam met jou aan ’n album te werk, wie sou dit wees en hoekom? Wie sal jy graag nié op jou album wil hê nie?
Toe ek nou eers besef het watse doos ek was, het ek gewonder of ek regtig ’n betekenisvolle rol gespeel het. Ek het eindelik tot die slotsom gekom ons hedendaagse roots vir Afrikaanse musiek lê nie meer so ver terug soos Voëlvry nie. Ons moet ons metafore gaan haal by ’n ander ou met ’n ander Kombi. Toe David Kramer in die vroeë jare van 2000 die Karoo ingevaar het op soek na kitaarblues, het hy as't ware vir ons soos ’n Moses gewys waarheen ons moet gaan. Hy het die vraag van "Waantoe gaan ons nou?" toe al beantwoord, maar ons het hom nie gehoor nie. Ek hoor hom nou. Dis hoekom ek hom gevra het om ’n draai by die studio te maak as ons opneem. Al pose hy net vir ’n kiekie. Hierdie album is opgedra aan hom! Selfs die titel is ’n verwysing na sy liedjie "Matchbox full of Diamonds". En, soos die toeval dit wou hê, het Jan Horn – die einste ou wat destyds die "Langpad"-video vir kykNET geskiet het oor David se reise – by my kom koffie drink die oggend toe ek die titel Langpad na Lekkersing gekies het. Ek het hom gevra wat hy dink. Hy het gesê: "Ja, Koos, maak hierdie album." Toe skryf ek vir David ’n e-pos, en hy sê hy's in. Dit is hoe hy dit op Facebook gestel het:
Koos se spore en myne het al baie oor die jare gekruis. Ons het die ou land met bicycle en bakkie platgery. Nou stap hy in die rigting van Lekkersing en nooi my om saam ’n draai daar te kom maak. Lyk vir my ek moet my rooi vellies afstof en my blikkitaar instem. Wie weet, miskien kry ons ’n diamant of twee langs die pad.
Intussen het ander musikante ook hul hande opgesteek. Anna Davel het ’n toonsetting gedoen. Ramon Alexander is in. Dalk selfs die Skynmaagde? (Skimp, skimp!) Ek het die lys name vir my producer, Schalk Joubert, gegee, en gevra dat as hy nog ouens wil kry, hy hulle moet kontak. Dis nou oor na hom! Ek kan nie wag om te hoor wat hulle gaan maak met my songs nie.
Wie ek nog sou wou hê? Katlego Maboe, baie graag. En ek hoop Stef Bos is nie so besig dat hy nie kan kom inloer nie. Hy skuld my juis ’n bottel Calvados uit Frankryk wat hy my belowe het, die bliksem.
Ek kan nie dink aan iemand wat ek onder geen omstandighede nié op my album wil hê nie. Dalk Justin Bieber?
Skimp ontvang! Maar eers – dit is interessant om te luister na die lied wat jy uitvoer op daardie lokvideo – ’n mens wil amper sê dis onmiskenbaar Koos Kombuis, in die melodie, sangstyl, ritme en dies meer, maar daar's beslis ook ’n wil tot nuwe, onontdekte elemente te hoor. Hoe sou jy sê het jou styl van liedjieskryf onlangs nuwe rigtings begin inslaan, beide in terme van hoe jy die skryfproses aanpak, en hoe dit dan op die ou end uitgevoer word? Op watter maniere wil jy spesifiek nuwe goed probeer met die liedjies op Langpad na Lekkersing?
Ek het nie besef my nuwe liedjies slaan ’n ander rigting in voor mense dit vir my gesê het nie. Iemand soos Erns Gründling, wat die nuwe stuff gehoor het, het gesê ek moet dit opneem. Dit was ook hy wat crowdfunding voorgestel het. En Hanné Koster, wat die loodsvideo vir Jumpstarter gemaak het, het gesê my goed klink anders. Dalk nie in terme van vreeslike nuwe akkoorde nie – dis maar nog steeds Koos Kombuis en sy vyf note – maar in terme van gevoel en lewensuitkyk, so iets. Daar was terapie in hierdie songs, daar was heling, daar was vergifnis; ook selfvergifnis. Space cadets sal dit ’n "journey" noem. Dit klink corny, maar ja, dit was vir my nogal die einde van ’n baie lang pad. Soos die GPS sê, "You have reached your destination." Ek dink ek weet nou wie ek is, as mens en ook as Suid-Afrikaner. Dis ’n moerse verligting.
In die persverklaring vir jul "crowdfunding"-poging noem jy daar was ’n tyd op Oudtshoorn toe jy besluit het jy wil nie meer live optredes doen nie. Vir iemand soos jy, wat al soveel gigs oor die land heen gedoen het en reeds ’n ontvanger van die Oppikoppi-kampioenskapbelt is, is daar seker nie te veel oor om "af te tick" in terme van optredes nie. Wat sal jy egter nog wil doen in terme van toer en optree voor jy die Kombi finaal in die garage trek? Wat maak jou voor (of ná) ’n optrede nog opgewonde omtrent toer en live gig?
Ek wil nie eintlik baie hê nie. Die enigste droom wat ek nog het, is om ’n internasionale bestseller te skryf soos JK Rowling. Fantasy, dalk science fiction. Is dit te veel gevra? Ek is seker dis makliker as wat dit lyk.
Wat is die sin van die dood?
Ek dink ek het daai een ook uitgefigure. Jy kan die sin van die dood, en die lewe, en al daai kak, vind in my aanlyn selfhelpboek, The Bronkhorstspruit Book of the Dead.
En dit is verniet, by the way, jy hoef nie geld te stuur of te pledge nie!
As enigeen van julle egter ’n paar rand het wat jou beursie brand, en jy wil nog saamstap op ons "Langpad na Lekkersing", trek jou vellies aan, maak jou hart oop, en kliek hier! Gou, voor die aanbod sluit!
The post Koos Kombuis: "Ons wil die beste album maak wat ons kan" appeared first on LitNet.