Die elektrogroep Academie laat die ore spits met hul debuut-EP, Volumes. Jean-Louise Parker, een van die groep se twee lede, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Jean-Louise. Hoe gaan dit?
Dit gaan goed! Aan die gang, maar goed.
Geluk met die uitreiking van Academie se eerste EP, Volumes. Dit is uiteraard moeilik vir enige groep om deesdae met ’n debuut-EP die Suid-Afrikaanse musieklandskap met ’n slag te tref wat onmiddellik die kritici en publiek se ore laat spits. Het julle ’n spesifieke benadering gehad in hierdie opsig, of was dit bloot ’n geval van die lekkerste liedjies voltooi en ’n versameling bou? Met ander woorde, hoe het julle gekies watter snitte op die album moet kom, en moes julle ’n mate van toeganklikheid/radiovriendelikheid in die agterkop hou? Wat is die ideale balans vir ’n nuwe groep om te volg in dié opsig?
Ons is baie krities oor ons werk. Dit het lank gevat om ons liedjies te voltooi tussen ander werk en projekte deur, maar dit was vir ons meer belangrik om geduldig te wees en gelukkig te wees met wat ons in die wêreld uitstuur. Van die snitte is meer radiovriendelik as ander – radio is nog baie belangrik in Suid-Afrika, so ons wou ’n goeie balans hê van toeganklikheid om mense in te trek wat nie noodwendig bekend is met hierdie tipe genre nie.
Die EP bestaan uit vyf geweldig meesleurende elektropop- (is dit die regte genre-indeling?) snitte. In dié musiekstyl is Academie strate voor die meeste ander plaaslike groepe wat uitvoering betref. Internasionaal gesproke wil ’n mens julle sommer dadelik op ’n verhoog saam met groepe soos M83, The Naked and the Famous en selfs Sigur Ros sien. Waar kom jul liefde vir die genre vandaan, en hoe het julle te werk gegaan om jul vaardighede daarin te slyp? Hoe beskou jy die verhouding tussen tradisionele instrumentwerk (kitaar, viool, saksofoon) en die meer elektroniese of dan sintetiese musiekelemente? Is daar ’n balans wat gehandhaaf moet word, of hoe sit en werk julle die ''arrangements'' vir die snitte uit?
In terme van genre sal ek dit dalk indie dream-pop noem? Elektropop is ook goed.
Dankie vir jou gawe woorde! Dit is ’n groot kompliment om geassosieer te word met daardie bands! Ons het al twee na meer alternatiewe musiek geluister toe ons grootgeword het, en het nog altyd baie wyd geluister. Ek het baie tyd op toer in Europa spandeer, en is daar blootgestel aan fantastiese bands soos St Vincent, Bon Iver, Andrew Bird, Grizzly Bear en James Blake. Ek was gelukkig genoeg om hulle live te sien by verskeie musiekfeeste waar ons gespeel het, en dit het regtig my oë oopgemaak in terme van wat moontlik is en hoe ver mens die luisteraar kan druk. Ek dink die Suid-Afrikaanse oor is nog relatief konserwatief, so dit is belangrik om die gehoor bloot te stel aan nuwe klanke en maniere van musiek maak. In terme van die verwerkings het ons maar net ons ore gevolg. Ons het ’n basiese idee gehad van die algehele klankwêreld wat ons wil skep – van daar af doen mens maar wat die liedjie voor vra! Partykeer sal ’n snit meer elektroniese elemente hê, en dan sal ons akoestiese elemente invoeg op ’n interessante manier.
In dieselfde asem: dis altyd interessant om die verskillende skeppingsprosesse aan te hoor. In julle geval is dit natuurlik anders as om met ’n kitaar ’n song te voltooi en dan bloot tromme, bas, ens in te bring. Hoe werk die skryfproses binne Academie, vandat die eerste woord en akkoord neergeskryf word tot julle gereed is om op te neem en af te rond? Hoe weet julle wanneer ’n lied "reg" is?
Elke liedjie ontwikkel deur sy eie proses. Partykeer sal ek ’n liriek, of selfs net ’n woord of ’n “hook” hê, en sal dan die res om daardie idee bou. Partykeer kan dit net ’n akkoord, of ’n spesifieke “synth”-klank of tekstuur wees. Partykeer sal Alex ’n hele lied se musiek geskryf hê, en dan skryf ek die melodieë en die lirieke daarna. Elke liedjie se proses is anders, maar ek en Alex sal vir lank ’n lied workshop totdat ons voel dat hy reg is.
Jy en Alex het ’n diverse agtergrond in musiek op die Suid-Afrikaanse toneel – jy was betrokke by Dear Reader en Fulka, en Alex by ISO, Tumi Molekane en Ross Jack. Hoe het jul ervaring by dié acts julle geslyp in terme van die musiek wat julle wil maak, en ook wat julle intussen geleer het oor die plaaslike bedryf en hoe julle Academie deur daardie waters wil stuur?
Ek dink die ervaring wat ons klank die meeste beïnvloed het, was die tyd wat ek oorsee saam met Dear Reader spandeer het. Alex het ook ’n toer saam met ons gespeel. Baie van die besluite wat ons geneem het in terme van hoe ons live speel, is beïnvloed deur ons ondervindings van op die pad wees. As mens op toer is, spandeer jy die hele dag op die pad, kom by die venue aan, pak als uit, doen ’n klanktoets, speel, pak als op, ry na die hotel, en die volgende dag doen mens dit weer. Ek het niks daarvan gehou om die dromstel so heen en weer te dra nie – ek dink dit was die grootste rede hoekom ons op elektroniese dromme besluit het! Mens wil natuurlik nie hê die elektroniese dromme moet soos akoestiese dromme klink nie, so dit het ’n groot invloed gehad op die manier waarop ons elektroniese klanke gebruik in die dromme. As mens op toer is, wil ’n mens so beweeglik as moontlik wees, met so min as moontlik wat kan fout gaan, so om toerusting te kies wat hierdie faktore in ag neem het ’n groot invloed gehad op die sonoriteit van die musiek.
In terme van die plaaslike musiekbedryf is ek nog nat agter die ore. Voorheen was ek ’n session-musikant – so ek daag op en speel my parte en gaan huis toe, die res is klaar vir jou gedoen. Om self iets vry te stel en konserte te reël is definitief ’n nuwe ervaring, maar ek geniet dit en leer verskriklik baie.
Jy en Alex is die enigste twee lede van Academie, en julle is ook eggenote in die "regte lewe". Dis ’n situasie wat soms plofbaar kan wees, in die opsig van kreatiewe meningsverskille wat meng met huishoudelike meningsverskille! Hoe hanteer jy en Alex die kreatiewe prosesse in terme van rolle wat ingeneem word? Wat sou jou raad wees vir ander paartjies/eggenote wat intens kreatief saamwerk, of dit nou met musiek of ander kunsvorme is? (Dis nogal ’n meer algemene verskynsel as wat mens sal raai …)
Ons het ’n derde lid, Gerhard Geyser, wat saam met ons live speel. Hy is een van ons beste vriende, so dit help om hom by te hê om skeidsregter te speel! Ha! Ek spot net. Ek en Alex het ’n baie goeie werksverhouding. Dit is baie spesiaal om saam met iemand te kan musiek maak wat mens nie net op ’n persoonlike vlak verstaan nie, maar ook op ’n musikale vlak. Ons geniet dit om saam kreatief te wees. Ek dink dit is baie belangrik vir enigiemand wat saam met ander mense werk (nie net eggenote nie) om mekaar se sterkpunte te verhef. Ons spandeer baie tyd op toer saam met ander mense (Alex se ander band, ISO, se lede is soos familie vir my), en as daar een ding is wat mens leer as ’n musikant op toer, is dit dat mens maklik moet wees om mee saam te werk. Dit mors so baie energie om kwaad/geïrriteerd te raak oor iets simpel.
As lid van ’n "nuwe" band, hoe beskou jy die toestand van die Suid-Afrikaanse musieklandskap soos dit vandag lyk? Wat is lekker daaromtrent, en wat is aaklig? Is daar genoeg ruimte vir bands van alle genres en inslae om naam te maak? Hoe sal jy dit graag wil sien verander, en hoe beskou jy Academie se rol op die toneel in die tye wat kom?
Daar is definitief ruimte vir nuwe klanke in die Suid-Afrikaanse bedryf. Om deel te wees van Wêreld Records het dit definitief makliker gemaak om ons in aanraking te sit met ons teikengehoor. Die meeste van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is “partytjiemusiek”. Musiek wat mense laat dans en drink. Ek dink nie daar is enigiets fout met daardie deel van die industrie nie, maar dit sal lekker wees om venues te hê wat meer van ’n luister-ervaring aanmoedig. Al die kunstenaars wat geaffilieer word met Wêreld Records se teikengehoor, is ’n gehoor wat luister, en wat oop is vir nuwe klanke, so dit was fantasties om ons eerste paar konserte te speel vir so ’n gehoor. Ek weet nie of ons teikengehoor groot genoeg is in Suid-Afrika vir ons om ’n bestaan van Academie te maak nie, maar Academie is net wat die naam sê. Dis ’n leerskool. Ons wil nie gebonde wees aan ’n spesifieke klank net om die musiekspasies tegemoet te kom nie. Ons wil kan groei in enige rigting wat die musiek ons vat. Wat fantasties is van ons bedryf, is dat dit baie klein is. Dit klink nie noodwendig soos ’n positiewe ding nie, maar dit maak dit aansienlik makliker om raakgesien te word. Ons het ons eerste vertoning laasjaar Augustus gespeel. Hierdie jaar Augustus speel ons ons eerste Oppikoppi as Academie. Mens sal nie so vinnig kan groei oorsee nie!
Soos vroeër genoem, het julle albei al heelwat en uiteenlopende ervaring opgebou as toerende en uitvoerende musikante in Suid-Afrika. Enige hoogtepunte wat uitstaan tot dusver, wat betref Academie en jou vorige projekte? Enige minder aangename herinneringe? Natuurlik is daar altyd ook iewers agter-die-skerms-staaltjies wat mense nie sommer glo as dit oorvertel word nie …
Om oorsee te toer en die “festival circuit” te doen saam met Dear Reader was definitief ’n hoogtepunt vir my. Ek dink van al die feeste was Latitude Festival, Haldern Pop Festival en Berlin Festival my gunstelinge. Ons het êrens in 2010 by die Michelberger Hotel in Berlyn ’n konsert saam met The National, Heather Woods Broderick, en ’n klomp ander fantastiese kunstenaars gespeel. Dit was ons eerste opvoering saam met ’n klomp nuwe spelers en ons was almal baie op ons senuwees. Ek kry toe op die dag van die vertoning baie erge mangelontsteking. Teen die tyd wat ons speel is my stem weg en ek kon skaars ’n piep uitkry. Ek was so teleurgesteld. Maar ek kon nie huis toe gaan nie, en ek was nog baie siek na die vertoning. Die “hospitality manager” het vir my tee met gemmer gemaak, maar Peaches was ook by die konsert en sê toe ek moet eerder schnapps drink. Ek het dadelik die konsert baie meer geniet, en was die volgende dag sonder ’n stem, maar gesond! Alex was in 2010 op toer saam met ISO in Duitsland, en het vir die eerste keer sy halfbroer ontmoet, wat ook ’n musikant is! Academie se shows is nog redelik klein, maar hopelik lê ons hoogtepunte nog voor ons!
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Jean-Louise Parker en vir Academie, in so verre jy dit kan beheer?
Op die oomblik is ons besig om voor te berei vir ons vertoning by Oppikoppi, wat ’n koor gaan insluit! Ons is baie opgewonde daaroor. Ons is ook besig om die musiek te doen vir ’n kortfilm wat PJ Kotze, die regisseur van ons “Volumes”-musiekvideo, besig is om te maak vir die Silwerskerm Fees. Tussendeur probeer ons nuwe materiaal skryf. Ons beplan ook om volgende jaar April in Europa te gaan toer.
Wat is die sin van die lewe?
Die antwoord hierop hang af van op watter dag jy my vang! Vandag weet ek self nie. Meer liefde en minder haat.
The post Academie: "Ons is baie krities oor ons werk" appeared first on LitNet.