Een van die voorregte van die joernalistiek is dat jou pad met dié van uiteenlopende mense kruis. Een van die besonderse mense wat ek so leer ken het – binne werksverband en later in ‘n besonderse vriendskap – is Wilfrid Cooper. As advokaat was hy in die apartheidsjare met verskeie opsienbare sake verbind, soos dié van Dimitri Tsafendas, wat die oudpremier HF Verwoerd in die Volksraad vermoor het, maar die galg vrygespring het; Steve Biko wat onskuldig uit die hof geloop het en nooit formeel voor sy dood aangekla is nie; en Marlene Lehnberg, die berugte skêrmoordenaar, wie se doodsvonnis na tronkstraf omgekeer is.
As verslaggewer het ek verskeie van die hofsake gedek en later het daar, in die konteks van vriendskap, ‘n ander vorm van samewerking ontstaan. Na sy aftrede as regter op die Kaapse Bank het ons saam gewerk om sy memoire te skryf. In hierdie tyd het ons diepliggende gesprekke gehad oor sy moeilike en uitdagende loopbaan. Jammerlik het verswakte gesondheid verhoed dat hy die boek skryf wat hy in gedagte gehad het.
Gelukkig het ‘n biografie oor Wilfrid Cooper deur sy seun, Gavin, onlangs verskyn. Dit is meer as ‘n verslag oor ‘n lewe – dit is ‘n insig in ‘n stuk regsgeskiedenis van die jare 1960–1990. Veral is dit ‘n belangrike verrekening van ‘n man wat hom in die donkerste jare van apartheid herhaaldelik bevind het in ‘n posisie waar hy, as advokaat van die verdediging, die sluier moes lig oor die dikwels bose optrede van die destydse veiligheidspolisie.
Rondom die relaas van sy regsloopbaan voeg ek ’n paar kantaantekeninge. Ek het ‘n groot deel van hierdie geskiedenis eerstehands meegemaak.
My eerste “kennismaking” met Cooper was toe ek as student die opspraakwekkende moordverhoor van die Duitse edelman baron Von Shauroth in Die Burger gevolg het. Cooper het vir Marthinus Rossouw, wat van die moord aangekla is, verskyn. Die verweer was dat Rossouw deur Von Schauroth gehuur is om die moord te pleeg toe lg ernstige finansiële probleme ondervind het.
In die boeiende verhoor het dit geblyk dat Rossouw ‘n eenvoudige man was wat gevlei was deur Von Schauroth se aandag en vriendskap. Dit was ‘n “skoon” moord in die sin dat waar Von Schauroth se lyk in die bosse duskant Malmesbury gevind is, niks van hom verwyder was nie, en daar is selfs ongeslypte diamante op die toneel gevind is. Die getuienis wat op ‘n huurmoord sou dui, is nie deur die hof aanvaar nie. Rossouw is ter dood veroordeel.
Terugskouend blyk dit dat die moord op baron Von Schauroth ‘n voorloper kon gewees het van ‘n soortgelyke opspraakwekkende verhoor vier dekades later, nl dié van Brett Kebble.
In 1966 was ek in die Volksraad die dag toe Demetri Tsafendas die eerste minister, Hendrik Verwoerd, in sy bank met ‘n mes dood gesteek het. Kort daarna was ek in die Kaapse hooggeregshof waar Tsafendas van moord op Verwoerd aangekla is. Cooper het namens Tsafendas opgetree. Ek het as jong verslaggewer na vore gegaan en my aan hom voortgestel en vertel dat ek hom juis wou ontmoet het oor die wyse waarop hy die Van Schauroth-saak hanteer het.
Te midde van die drama van die dag – internasionale fokus van die media op die beskuldigde en die hof wat onder strenge polisiebewaking funksioneer – het Cooper aandag aan my gegee en gesê dat ons ná die hofverrigtinge sou praat. Dit was die begin van ‘n besonderse vriendskap waarin ek Cooper en sy vrou, Gertrude, toe ‘n verslaggewer by die Cape Times, oor die jare tot met hul dood baie goed kon leer ken.
Cooper se verweer was dat Tsafendas, weens ‘n obsessie met ‘n “wurm” wat aan hom dikteer en hom van binne opvreet, nie toerekeningsvatbaar was nie. Hy het so ver as kon op Tsafendas se lewenspad terug geloop om aan die hof deur te gee dat hy in verskillende sielkundige inrigtings oor die wêreld was. Tsafendas is deeglik deur psigiaters ondersoek en die uiteindelike bevinding was dat Tsafendas geestelik versteurd was. Die saak het nie ver gevorder voordat regter-president Andrew Beyers in sy uitspraak die verweer aanvaar en Tsafendas ‘n pasiënt van die staatspresident verklaar het.
Ek het daarna talle gesprekke met Wilfrid gehad. Ons het in een stadium selfs saam gewerk aan ‘n teks omdat hy spesifiek oor die saak wou skryf. Hy het privaat ook ‘n ander opinie gehad. Hy was van mening dat daar in die verhoor ‘n “los draad” was. Hy was verhinder om dit op te volg. Dit was dat die staatspsigiater aanvanklik ‘n standpunt gehuldig het dat Tsafendas wel verhoor kon word. Hy het in die hof die standpunt van die verdedigingspsigiaters omskryf dat Tsafendas nie toerekeningsvatbaar was nie. Wat Wilfrid gepla het, was dat die regter hom nie wou toelaat om die staatspsigiater te ondervra nie. Die besluit van die regter was finaal – geen opvolgvrae nie. Dit het Wilfrid altyd gefassineer waarom ondervraging nie sou kon geskied nie.
Wilfrid het ook ‘n ander storielyn gehad. Hy het ook ‘n eie ervaring met Verwoerd gehad. As nagraadse student moes hy homself finansieel onderhou. Hy het toe as bode in die senaat gewerk – ‘n soortgelyke posisie aan die een wat Tsafendas twee dekades later in die Volksraad verrig het. Wilfrid se eerste werksdag het saamgeval met die eerste verskyning van Verwoerd as senator, die begin van sy openbare loopbaan. In sy dagboek skryf Wilfrid dat hy besorg was oor die trant waarop Verwoerd in sy toesprake oor “wit baasskap” kon praat. Vir hom het gevaarligte gebrand.
Vir Wilfrid, ‘n arm seun van ‘n spoorwegwerker, wat op Klawer gebore en getoë is, was hy vroeg gekant teen diskriminasie op grond van kleur en status. Toe hy op Stellenbosch in die regte studeer, stig hy die eerste tak van die linkse studenteorganisasie Nusas om ‘n platform te skep vir opposisie teen die heersende standpunte wat apartheid onderhou het.
Die Tsafendas-saak, wat allerlei beskrywings sou kry, soos “the case of the century” en “die dood van apartheid”, het Wilfrid geboei. Vir hom was Verwoerd se dood “die begin van die einde van apartheid”. Hierdie siening was juis gegrond op sy waarnemings destyds as bode in die senaat. “Niemand kon apartheid weer so fanaties as geregverdig voorhou as juis Verwoerd nie,” het hy gesê. Wilfrid het Tsafendas as ‘n tragiese figuur beskou wat ‘n eie wêreld geskep het as ontvlugting van sy persoonlike pyn, lyding en intense gevoelens van verwerping. Was Tsafendas, wat destyds op ‘n stukkie afgeskeurde papier in die handskrif van ‘n kind aan Wilfrid geskryf het om hom te bedank, dalk iemand wat vanuit sy persoonlike trauma kon dink dat hy dalk “goed” doen om die moord te pleeg? Wilfrid het aan my genoem dat hy sy lewe lank gedink het aan die “talle onbeantwoorde vrae” wat nooit beantwoord sou word nie.
Seker die senutergendste verhoor waarby Wilfrid betrokke was, was die Swakopmund-Swapo-verhoor, wat aan die absurde gegrens het. Die aanvanklike taak was om die moord op 16 Augustus 1975 op hoofman Filemon Elifas te ondersoek. Elifas is in die donkerte voor sy sjebien geskiet. Die moordenaar het in die bosse verdwyn en is nooit weer gesien nie.
Elifas is destyds deur The Windhoek Advertiser beskryf as “a victim of a political murder, perpetrated by his many enemies who had regarded him through the years as a puppet of the South African government”.
Na die Elifas-moord was daar vigilantes wat by verskeie Swapo-leiers (dit was toe ‘n wettige organisasie) ingebreek het. In plaas daarvan om jag te maak op die vigilantes, is die slagoffers as misdadigers verklaar. Die polisie het die Swapo-leiers en ander wat verdink is dat hulle bondgenote was, in hegtenis geneem. In een stadium is berig dat sowat 200 mense gevangene geneem is.
Uiteindelik is vier verpleegsters verbonde aan ‘n Lutherse hospitaal in Ovamboland en twee ander mans aangekla van terrorisme en ‘n oortreding van Proklamasie 17. Laasgenoemde was ‘n noodmaatreël wat net in Ovamboland van krag was. Daarvolgens kon enige polisielid ‘n persoon in hegtenis neem as hy sou vermoed dat die persoon by terreurdade betrokke kon wees. So ‘n aangeklaagde kon slegs met die verlof van die Suid-Afrikaanse minister van justisie regshulp kry.
Die saak wat veronderstel was om die moordenaar van hoofman Elifas uit te wys, Die Staat vs Aaron Mushumba en vyf ander, het as “die Swapo-saak” bekend geword. Eers sou dit in Windhoek aangehoor word, maar is op die nippertjie na Swakopmund verskuif.
Cooper het vir die verdediging opgetree in ‘n saak met eindelose vertragings en frustrasies. Daar was beperkte geleenthede vir onderlegpleging en voorbereiding. Op ‘n persoonlike vlak het hy hiervoor ‘n hoë prys betaal, want vanweë die tydshantering deur die staat kon hy weens die onsekerhede nie ander werk aanvaar nie.
Ek onthou Wilfrid se innerlike stryd om sy beste vir sy kliënte te gee. Hy was sensitief ingestel op hoe hulle hom en sy regspan sou kon vertrou. Só het hy dit gestel: “Why should six blacks, already held for several months under the hostile care of the police, immediately trust and confide in four white strangers just because the latter had been hired by a church that the prisoners did trust?”
Dit was hoe ek Wilfrid as mens leer ken het. Iemand wat intens besorg was oor die waardigheid van die ander. Herhaaldelik het hy aan my deur die jare gesê dat wedersydse vertroue en respek vir hom van kardinale belang was om sy werk te doen. Daar was ook ‘n ander sy. Ondanks Wilfrid se bynaam, Tiger, vanweë sy deeglike kruisondervraging, was hy ‘n sensitiewe en meelewende mens. (Terloops, die bynaam het Albie Sachs aan hom gegee na Wilfrid se kruisondervraging in sy verdediging van Sachs se eerste vrou, Stephanie Kemp, op ‘n terreuraanklag.)
Wilfrid het deernis vir die underdog gehad en gevoel dat dit sy roeping was om juis vir hulle in die bresse te tree. Sou jy al sy sake nagaan, sal jy vind dat dit ‘n uitstaande kenmerk van sy loopbaan wees. Reg vir hom sou kon geskied net as albei partye se saak professioneel, op gelyke voet, voorgelê kan word.
Uiteindelik het die Swapo-saak op 16 Februarie 1976 in aanvang geneem. Die uiteinde van die uitgerekte hofsaak, wat die aandag van die internasionale regsgemeenskap getrek het, was dat die reg vreemde weë gevolg het wat bitter min met die Elifas-moordverhoor te make gehad het. Dit het geëindig met die doodsvonnisuitspraak van die aangeklaagdes op grond van terreur. Vir Cooper, wat in wese teen die doodstraf gekant was, was dit ‘n tragedie.
Intussen kom dit aan die lig dat ‘n prokureur en ‘n klerk van die firma in Windhoek wat namens die verdediging opgetree het, tussendeur dokumente van die verdediging en hul voorbereiding vir die saak aan die veiligheidspolisie deurgegee het. Cooper en sy span slaag daarin om die saak op appèl te neem na Bloemfontein, waarin die doodstraf ter syde gestel is.
Die verslag oor die Swakopmund-Swapo-verhoor is ‘n geskiedenis wat so absurd is dat dit moet registreer as een van die skandvlekke op Suid-Afrikaanse regspleging. ‘n Saak wat begin is as ‘n moordaanklag het nooit die moordenaar(s) uitgewys of ondersoek nie. Selfs hoofregter Rumpff het in sy appèluitspraak na die saak verwys as “uniek” in die Suid-Afrikaanse regspraak. Wilfrid het privaat gesê dat so iets selfs tydens die Franse revolusie ondenkbaar sou gewees het!
Hierna het dinge vir Wilfrid drasties verander. Hy is nou deur baie gesien as ‘n man wat “die vyande” van die staat verdedig, veral toe hy kort hierna aangestel is om Steve Biko by te staan.
Die Biko-saak het Wilfrid diep ontstel. Veral het hy na Biko se dood dikwels geworstel met die vraag hoe so ‘n verloop van regspraak moontlik kon wees. Biko was in 1973 weens sy swartbewussyn-aktiwiteite verban, maar nie aangekla nie. In 1976 word hy vir 101 dae aangehou – weer sonder om aangekla te word. Op 21 Maart 1977 word hy gearresteer en vir die eerste keer aangekla – vir regsverydeling. Hy word in Oos-Londen verhoor en op 11 Julie vrygelaat nadat die saak onder Cooper se kruisondervraging gevou het. Op 8 Augustus word Biko in ‘n padblokkade aangekeer en in Port Elizabeth aangehou. Die geskiedenis van sy kruisondervraging deur die veiligheidspolisie is wel bekend. Op 12 September sterf Biko weens wrede polisiegeweld. ‘n Moord wat die destydse minister van justisie, Jimmy Kruger, “koud gelaat het”.
In ons gesprekke hieroor het Wilfrid vertel watter indruk Biko op hom gemaak het. Dikwels het hy gewonder hoe anders dinge sou kon gewees het as Biko toegelaat was om ‘n rol in die breër Suid-Afrikaanse politieke toneel te speel. In Wilfrid se lêers is daar die korrespondensie wat Biko deur sy prokureur met hom gevoer het. Die hoflikheid in Biko se briewe het my opgeval, en toe ek met Wilfrid oor hom praat, het hy na Biko as “’n besondere man van sy tyd” verwys.
Verslae van nadoodse ondersoeke op aangehoudenes wat tydens ondervraging so wreed aangerand is deur hul ondervraers dat hulle daarvan gesterf het, het dikwels na Wilfrid gekom. Wat hom betref, was hy die verteenwoordiger vir families van geliefdes, mense wat aangehou is en nooit die binnekant van ‘n hof gesien het nie. Hierdie gevangenes het in eensame afsondering gesterf en vir Wilfrid was dit baie erg om daarna hulle pyn en marteling van die foto’s af te lees wat deel was van die getuienis van ‘n nadoodse verhoor.
“Ek verloor die sake voordat ek begin,” het hy aan my gesê en toe verduidelik dat dit vir hom belangrik was om ‘n stem te wees teen die gefabriseerde getuienis van die polisie. Die onderbeklemtoning van feite deur distriksgeneeshere en dat landdroste doof en blind vir feite kon wees, was altyd vir hom ‘n saak van diepe ontsteltenis. Later, met die Waarheid-en-Versoeningskommissie se verhore, kon hy dit ten minste ervaar dat ontbloot is wat hy destyds nié in die verhore aan die lig kon bring nie.
‘n Saak waarin ek nou met hom kon saamwerk (as hofverslaggewer), was die destydse opsienbare skêrmoordsaak waarin Marlene Lehnberg en Marthinus Choegoe, na ‘n marathonverhoor in die Kaapse hooggeregshof, ter dood veroordeel is weens die wrede skêrmoord op Johanna van Lingen, die vrou van Lehnberg se middeljare minnaar.
Cooper het eers met die appèlverhoor in Bloemfontein aan boord gekom. Sy verskyning hier is as ‘n tour de force beskryf. Sy hantering van die emosionele onvolwassenheid van Lehnberg, wat seksueel uitgebuit is deur Van der Linde, en Lehnberg se patetiese intrek van die kreupel Choegoe met beloftes van seksuele gunste, het ‘n gans ander lig op die doodveroordeeldes gewerp. Hulle is die galg gespaar en moes tronkstraf uitdien.
Laat die aand, nadat ek al my berigte per teleks afgestuur het (terloops, die saak het destydse die Suid-Afrikaanse dagblaaie ‘n stewige hupstoot in sirkulasie gegee), was ek met ete besig toe Wilfrid by my in die hotel aansluit. Hy vertel toe hoe die Lehnberg-familie, wat tydens die moordverhoor in Kaapstad deurgaans afwesig was, hom na die uitspraak gekontak het om hom te bedank. Dit was die eerste en enigste berig wat ek daarna kon skryf waarin die familie regstreeks aangehaal is.
In donker tye het ek Wilfrid dikwels as baie besorgd en selfs moedeloos ervaar. Juis oor sy betrokkenheid by die “vyande van die staat” as sy kliënte is hy nie geken om sake te hanteer waar groot fooie geskryf word nie. Soms het hy vir maande geen werk gehad nie. So erg was dit dat hy in sulke tye selfs finansieel afhanklik was van lesings wat hy by die Regsfakulteit van die Universiteit van Kaapstad gelewer het.
Hy het selfs ‘n aansoek laat bring om hom na die sybalie te skuif om prokureurswerk te doen, maar sy hart was nie daar nie. Later het hy die tye waarin hy geen werk gehad het nie, gebruik om regsboeke te skryf wat vandag steeds in gebruik is. Hy het 12 regspublikasies op sy naam en was ‘n voorste outoriteit op Suid-Afrikaanse motorreg. In dié tye het hy twee doktorale proefskrifte voltooi en ‘n PhD en LLD verwerf.
Wilfrid was ‘n gunsteling op partytjies en ‘n wonderlike gasheer. Hy en Gertrude het dikwels op ‘n Sondag vriende by hulle huis in Nuweland onthaal. Cooper was ‘n wynkenner en iemand wat fyn cuisine geniet het. Kwinkslae, anekdotes en grappies was deel van sy sosiale arsenaal.
Nog ‘n besonderse aspek van hom was sy intense belangstelling in die letterkunde. Wat vir hom van groot belang was, was sy liefde vir en studie van die werk van die Ierse skrywer James Joyce. Hy was ‘n lid van die internasionale Joyce-genootskap en is steeds die enigste voorsitter van die uitgelese groep wat nie uit Europa of Amerika gekom het nie. Hy het ook artikels oor Joyce se skrywerskap gepubliseer.
Dalk was dit sy Klawer-agtergrond en die Afrikaans van sy maatjies van sy kleintyd wat aan hom ‘n groot liefde vir Afrikaans gegee het. Hy was bevriend met die Afrikaanse skrywers Klaas Steytler en Elsa Joubert en het in die later jare van sy loopbaan, toe hy uiteindelik as regter benoem is, vir Etienne van Heerden as vriend geëien. Hy is, nadat hy herhaaldelik vir bevordering oor die hoof gesien is, uiteindelik as regter aangestel op die Oos-Kaapse regsbank met sitting in Grahamstad. Van Heerden was toe aan Rhodes-universiteit verbonde en ‘n belangrike gespreksgenoot vir Wilfrid. In later jare was Wilfrid selfs ‘n medewerker van LitNet.
As ek aan Wilfrid Cooper dink, onthou ek hom as ‘n baie besonderse en lojale vriend en mens. Ons talle gesprekke – tot kort voor sy dood – was altyd eerlik, prikkelend en verrykend. As gespreksgenoot het hy ruim van sy ervaring en kennis gedeel. Hy het my daarvan oortuig dat dit die moeite werd is om vir elke mens se lewe, wat ook al die omstandighede is, te veg. As regsman sal hy altyd vir my uitstaan as die man van ononderhandelbare beginsels en integriteit.
Sy seun, Gavin, se herinneringe aan sy pa is ‘n noodsaaklike tydsdokument van ‘n briljante advokaat wat veel meer erkenning verdien het as wat hy óóit ontvang het. Hoewel dit destyds nie so gelyk het nie, was hy ‘n baken van hoop in die donkerste tyd van apartheid. Hy was ‘n helder lig in ‘n nagdonker tyd van ons land- en regsgeskiedenis.
The post Hoe ek vir Wilfrid Cooper as mens geken het appeared first on LitNet.