Verlede Woensdag was nie ’n goeie dag vir Hlaudi se SAUK nie. Eers is hulle in die hooggeregshof bloedneus geslaan toe die hof die Helen Suzman-stigting gelyk gegee het. Daarna moes hulle teenoor ICASA sekere toegewings maak. Om alles te kroon, is daar binne 48 uur ’n reusebedrag ten bate van die SAUK-8 ingesamel.
Ek is nie oortuig dat dit alreeds rede is tot feesviering nie. Die ware toets is nie of die hof ten gunste van een of ander party beslis nie. Die ware toets van enige hofbeslissing is nie eers of die verlorende party die letter van die beslissing gehoorsaam nie. Vir my is die ware toets of die gees van die beslissing gehoorsaam word – en ek is nie oortuig dat Hlaudi Mosoeneng al gereed is om dit te doen nie.
Die toegewings wat aan ICASA gemaak is, kan bloot slim regsadvies wees. Die ICASA-ondersoek kan hulle nie wen nie. Deur daai toegewings te maak, het die SAUK-regspan effektief die hoofbasis waarop die SAUK-8 die grondwetlike hof genader het, onder hulle uitgeslaan. Een van die basiese beginsels van ons regstelsel is dat die grondwetlike hof onder normale omstandighede net as hof van laaste instansie genader word. Dit beteken dat alle ander remedies, insluitend appèlle, uitgeput moet word voordat die grondwetlike hof genader word – behalwe in uitsonderlike omstandighede. Die SAUK-8 het dringendheid aangevoer as rede hoekom hulle direk na die grondwetlike hof gegaan het terwyl die ICASA- en arbeidshofgedinge nog hangend was. Dringendheid is effektief nou geneutraliseer deur die ICASA-toegewings.
Die letter van die ICASA-ooreenkoms is dat die SAUK nie deur hulle beleid, of deur handelinge, die beeldsending en rapportering van protes, of negatiewe rapportering oor politici sal verhoed nie. Die gees van intimidasie is egter alreeds goed gevestig binne die SAUK. Selfs al word die SAUK-8 heraangestel, is die vyandigheid wat Mosoeneng teen hulle en ander koester, alreeds gevestig.
In arbeidsreg is die beginsel van konstruktiewe afdanking goed gevestig. Dit gebeur wanneer ’n werkgewer, indien hy nie in staat is om op wetlike gronde op te tree teen ’n werknemer nie, agteraf die werknemer se lewe so ondraaglik maak dat hy/sy bedank. In die meeste sulke gevalle wat voor die arbeidshof dien, sal die hof eerder beveel dat die werknemer ’n bedrag geld uitbetaal word as om te beveel dat die werknemer weer in die toksiese werksomgewing teruggeplaas word. Hou ook in gedagte dat die arbeidshof nie noodwendig joernalistieke reg op persvryheid in ag sal neem wanneer hulle beslis nie, maar eerder na die arbeidsverhouding sal kyk. Om dieselfde rede het die arbeidshof op verskeie geleenthede nie besluit ten gunste van byvoorbeeld gay predikante nie, ten spyte van die feit dat hulle grondwetlike regte rondom seksuele oriëntasie geskend was.
Solidariteit se persverklaring voor die hofsitting op Donderdagoggend, waarin hulle te kenne gee dat die hofsaak eintlik Hlaudi vs die demokrasie is, mag dalk goed lyk op die 6-uur-nuus, maar is nie gegrond op ’n regsbasis waarvan die arbeidshof by magte is om kennis te neem nie.
Daar is twee kwessies wat opgeklaar moet word voordat daar met enige sekerheid verklaar kan word dat daar ’n oorwinning vir persvryheid behaal is.
Die eerste hiervan is: Hlaudi lyk, ten spyte van die terugslae hierdie week, asof hy koeëlvas is. Hoekom is hy so selfversekerd? Wie beskerm hom? En, belangriker, wie word bevoordeel deur sy optrede? Almal spekuleer hieroor, maar tot tyd en wyl daar regsbevindinge hieroor gemaak is, is dit sinloos om te spekuleer.
Ten tweede: solank as wat Hlaudi en die groepie rondom hom nog in beheer by die SAUK is, kan daar geen oortuigende veranderinge ten gunste van persvryheid wees nie. Enigiets wat nou gedoen word, kan afgemaak word as blote beeldpoetsery. Slegs as Hlaudi, en die raad aan wie hy veronderstel is om verslag te doen, vervang word deur ’n bewese onafhanklike groep, kan daar daadwerklike veranderinge by die SAUK kom.
Emosiebelaaide retoriek en protes kan dit nie verseker nie, al lyk dit ook hoe goed in die koerante.
Die enigste manier waarop persvryheid beskerm kan word, is om die waghonde tande te gee. Die skuimrubbertande wat ICASA en ander organisasies het, moet vervang word sodat hulle daadwerklik kan optree indien ’n organisasie soos die SAUK oor die tou trap. Die waghonde moet hulle onafhanklikheid behou. Dis so maklik om die integriteit van ’n organisasie te vernietig deur die persone in beheer te vervang met marionette wat hulle verskuilde poppemeester slaafs gehoorsaam. Kyk maar net na die Cape Times.
Organisasies wat protes aanteken, moet begin om ’n fonds op te bou waaruit hulle joernaliste en ander in gevaar kan help – nie net deur persverklarings uit te reik nie, maar deur regsgedinge te begin, klasaksies in te stel en te lobby om wetgewing te verander om die waghonde tande te gee. Daar moet gelobby word om ’n samelewing wat gelate toelaat dat hulle regte onder hulle neuse weggevat word, aktivisties te maak. Daar moet bewusmakings- en opvoedingsveldtogte gehou word. Dit kan nie oornag gebeur nie, maar dit moet nou reeds begin word. Dit gaan miljarde rande kos, maar dit kan gedoen word. Meer as dit, dit móét gedoen word.
Hlaudi gaan nie vanself ophou nie. Hy moet gestop word. Hy sal net gestop word as sy beskermheer aan die kaak gestel word. Hy sal net gestop word as sy beskermheer sy politieke mag verloor. Dít kan net by die stembusse gebeur.
Die SAUK-8 het nie outomaties beskerming teen intimidasie en afdanking as hulle terug werk toe gaan nie. Beskerming moet afgedwing word, nie net vir die agt nie, maar vir elke ander joernalis wat nou twee keer dink voordat hulle ’n storie dek. Daar moet beskerming wees vir elke joernalis wat nou, voordat hulle ’n storie dek, eers die huishuur, karpaaiement en kosgeld opweeg teen die reg van die publiek om te weet. Die kultuur van selfsensuur wat alreeds begin posvat het, moet gebreek word. Daar moet ’n weldeurdagte, proaktiewe plan wees hoe om dit te doen.
Sover sien ek nog geen teken daarvan nie.
The post Hlaudi vs die SAUK-8 appeared first on LitNet.