Beste Angus
Jy sê jy verstaan nie wat ek met ‘verkeerde woord’ bedoel nie. Ek sal maar in algemene terme verduidelik want, lyk dit my, gebruik ek ’n spesifieke woord fokus jy net daarop en sien nie die groter prentjie nie.
Hier is die groter prentjie: Daar is Engelse woorde wat lyk of hulle Afrikaanse ekwivalente het omdat die spelling of die klank baie naby aan mekaar is maar die Afrikaanse ekwivalentlykende woord het ’n ander betekenis. Met dié nou dat Afrikaners oor die algemeen so hard daarna streef om goed Engels te praat, en met dié nou dat hulle elke dag by die werk en in die openbare lewe Engels MOET praat, begin hulle hierdie betrokke woorde gebruik asof dit dieselfde betekenis het as wat dit in Engels het. Omdat hierdie woorde dan nou so algemeen ‘verkeerd’ gebruik word, swig woordeboekmakers naderhand en neem die woord in die woordeboek op as sou dit die betekenis hê wat dit in Engels het.
Dit is nou wat Engelse invloed betref. Dan is daar Afrikaanse woorde wat gewoon verkeerd gebruik word en naderhand, weens algemene gebruik, verskyn hulle in die woordeboek en nou is hierdie voorheen verkeerde woorde ook reg.
Nou is ons weer waar ek met my eerste brief gesê het dat hier ’n teenstrydigheid is: Woordeboeke word geraadpleeg as mens wil seker maak van korrekte taalgebruik maar indien verkeerde taalgebruik genoeg voorkom word dit in die woordeboek opgeneem en dus voortaan as korrek aanvaar. Dis nie ’n aantyging, of ’n aanval op enige instansie, of ’n klagte nie; dis bloot ’n interessantheid en terselfdertyd ’n anomalie wat, ek is seker, in alle tale voor kom.
Benewens jou geneigdheid om tangensiaal rigting in te slaan, lees jy ook verkeerd want jy sê, dat ek sê, ek gaande is oor die gebruik van ‘sondebok’, ‘vir dit’ ens. Ek het dit nooit gesê nie, dit was maar ander voorbeelde nadat jy beweer het ek is ‘gaande’ oor ‘braaf’ (sien, dis die dat ek spesifieke voorbeelde wil vermy want dit bring jou heeltemal van stryk af).
Dit verbaas my dat jy so aankarring oor ‘ons’. Dit is wel so dat die dativ of akkusativ ‘verkeerdelik’ in die nominatiewe naamval gebruik word maar Engels is vrot van hierdie verskynsel en dit skyn jou nie te pla nie.
Jy sê as ek enige klagtes oor die spelreëls het moet ek die Akademie van Wetenskap en Kuns laat weet. Ek het geen klagtes nie behalwe nou as jy verwys na los- of vasskryf. As hulle deesdae agter Engels aanloop en toelaat dat jy ’n begrip wat uit twee snw’e bestaan los skryf sal ek beslis my misnoeë uitspreek. Maar ek glo nie hulle sal so simpel wees nie; dit sal altyd ‘tamatiekonfyt’ in plaas van ‘tamatie konfyt’ wees. En voor jy nou sê ek is gaande oor ‘tamatie’, dieselfde geld vir ‘vyekonfyt’, ‘nastergalkonfyt’ en ‘waatlemoenkonfyt’.
Groetnis
Jan Rap
The post Antwoord op Angus se twee stukkies kommentaar onderaan my brief van 14 deser appeared first on LitNet.