............
Elke keer as ek in een van ons land se groot boekwinkels instap, kan ek my nie verhelp om te voel dat baie van die boeke op die rakke met meer sorg gekureer kon gewees het nie. Die oorkoepelende doel van dié boeke is vir my onduidelik, behalwe dat hulle blykbaar veronderstel is om winste vir groot maatskappye in te bring.
..........

https://pixabay.com/photos/blue-green-crystal-glass-bright-625112/
Dink ek aan die Suid-Afrikaanse boekbedryf, kom daar altyd een spesifieke beeld by my op. Ek het dit sowat ’n jaar gelede by ’n konferensie meegemaak. Die uitvoerende hoof van ’n bekende afslagboekwinkel het ons toegespreek en het vertel hoe hy aan die begin van sy besigheid boeke per kilogram geweeg en hul pryse daarvolgens vasgestel het. (Voor my geestesoog sien ek ’n vullissak romanses en ’n paar tesourusse op ’n stowwerige badkamerskaal. 10 kg. R99,99.)
In die gehoor het ek en my medeboekeniers almal lekker saamgelag, maar innerlik, of so verbeel ek my, het ons ook ’n traan gestort. Sedertdien is die beeld van boeke wat grootskaals op ’n groot skaal geweeg word, my gunstelingmetafoor vir die besigheidsmodel van Suid-Afrika se groot uitgewerye. Uitgewerye is besighede; boeke is kommoditeite. Só is ek geleer.
...........
Sedertdien is die beeld van boeke wat grootskaals op ’n groot skaal geweeg word, my gunstelingmetafoor vir die besigheidsmodel van Suid-Afrika se groot uitgewerye. Uitgewerye is besighede; boeke is kommoditeite. Só is ek geleer.
.............
In 2013 het ek as junior redakteur in die Suid-Afrikaanse boekbedryf begin werk. Dit is nou presies 10 jaar later, maar dit wat ek destyds intuïtief aangevoel het, is in 2023 by my ’n sekerheid: Daar skort iets met die manier waarop boeke in Suid-Afrika geproduseer word. Elke keer as ek in een van ons land se groot boekwinkels instap, kan ek my nie verhelp om te voel dat baie van die boeke op die rakke met meer sorg gekureer kon gewees het nie. Die oorkoepelende doel van dié boeke is vir my onduidelik, behalwe dat hulle blykbaar veronderstel is om winste vir groot maatskappye in te bring. Ek kan hierdie growwe stelling maak omdat ek al betrokke was by die “vervaardiging” van hierdie soort publikasies.
Wat ek eintlik hiermee wil sê, is dat daar ’n onderliggende onverenigbaarheid blyk te wees tussen die besigheidsmodel van Suid-Afrika se groot uitgewerye en dit wat die boek oor die laaste 20 jaar geword het.
...........
Wat ek eintlik hiermee wil sê, is dat daar ’n onderliggende onverenigbaarheid blyk te wees tussen die besigheidsmodel van Suid-Afrika se groot uitgewerye en dit wat die boek oor die laaste 20 jaar geword het.
..............
Die Suid-Afrikaanse boekbedryf het nie ’n tekort aan kundige teksversorgers, inspirerende ontwerpers, bekwame projekbestuurders en ander staatmaker-medewerkers nie. Ongelukkig werk hulle in ’n groter stelsel waarbinne die boek byna uitsluitlik as kommoditeit gesien word. ’n Boek se waarde word gelykgestel aan die winste wat dit kan inbring, eerder as die estetiese, intellektuele en/of sosiopolitiese bydrae wat dit tot ons samelewing kan lewer. Daar is talle oorsake hiervoor, maar die vernaamste is seker die feit dat die meeste uitgewerye deur groot multinasionale maatskappye besit word. Soms voel dit vir my asof ’n gejaag na winste dié maatskappye se enigste trots is. In die raadsaal van ’n uitgewery speel dit soos volg uit: Aan die begin van elke finansiële jaar word teikens van miljoene rande aan drukname toegewys; by sommige uitgewerye word dit aan individuele redakteurs of uitgewers toegewys, wat dan daarvolgens beoordeel word. Die implisiete vraag wat dus aan elke redakteur of uitgewer gestel word, is: “Hoeveel geld kan jy vir [vul maatskappy van jou keuse se naam in] maak?” Dit dwing elke uitgewer om daardie alombekende, maar eintlik onbeantwoordbare, vraag by elke voorlegging te vra: “Gaan hierdie boek verkoop?” Natuurlik is dié soort benadering ontnugterend vir jong redakteurs, maar op die lange duur infekteer dit redaksielede met ’n diepgaande sinisme oor hul werk en die industrie. Sommige redaksielede hou nie langer as ’n paar jaar uit nie; ander sukkel weer met hul gesondheid, en ’n handjievol het senu-ineenstortings. Ek was al een van hulle.
My argument is nie dat uitgewerye nié besighede kan of mag wees nie. Ek wonder egter of die Suid-Afrikaanse boekbedryf seker is wátter soort besigheid hulle bedryf. My weddenskap is dat die huidige stand van sake, wat vir my al hoe meer soos ’n identiteitskrisis lyk, historiese oorsake het. Gedurende die laaste 200 jaar is inligting of inhoud – “content” in die internet-era – meestal versprei deur middel van gedrukte media; deur ink op papier. Dink aan pamflette, koerante, tydskrifte, boeke ens. Met die koms van die internet het dit bykans onmiddellik verander; ’n voorbeeld daarvan is die digitalisering van koerante. Inhoud in teksformaat – stories, nuus en opvoedkundige materiaal – het al hoe makliker bekombaar geword want elektroniese skerms het papier vervang. Anders gestel: Vandag speel die gedrukte boek nie meer dieselfde noodsaaklike rol in die verspreiding van inligting nie. En tog sien baie uitgewerye boeke as verbruikersgoedere wat op grootmaat vervaardig en verkoop kan word. (Ek verwys hier nie na pulplektuur en/of publikasies wat dit ten doel het om inligting aan soveel moontlike lesers te bring nie. Is dit reg om groot winste uit demokratiserende prosesse te wil maak?) Hierdie model is nie net uitgedien nie, maar hou ook nie tred met die ontwikkeling van tegnologie óf met ons verhouding met tegnologie nie. Die boekbedryf dreig om baie vinnig baie irrelevant te word.
Ek is nie teen boeke nie. Ek hou van my werk en wil nie hê die gedrukte boek moet uitsterf nie. Aan die ander kant is dit vir my duidelik dat die boekbedryf sukkel om boeke as luukshede te sien, want dít is wat hulle die afgelope paar jaar geword het. Dalk wíl multinasionale maatskappye nie hul besigheidsmodelle daarvolgens aanpas nie. ’n Leersame voorbeeld van ’n bedryf wat hierdie kopskuif kon maak, is die vervaardigers van musiekplate. In die 1980’s en 1990’s het die koms van CD’s die dood van plate voorspel, en tog, 30 jaar later, is die medium gewilder as ooit. Vandag is plate nie gewild omdat kopers nét na die opnames van hul gunsteling-bands wil luister nie; die meeste musiek is immers op YouTube of stromingsplatforms soos Spotify beskikbaar. Entoesiaste sien plate as estetiese objekte, nie as die effektiefste medium om na musiek te luister nie. Hoewel hulle maar ’n nismark is, is plateliefhebbers uiters toegewyde kopers. Hulle weet presies wat hulle wil hê, maar meer nog beskou hulle plaathandelsmerke (“labels”) as kurators. Hierdie kopers is nie bang om duisende rande te bestee nie, want hul waardeoordeel van ’n kunstenaar en sy musiek is ingebou in die plaat-as-objek-en-ervaring. Hoewel hulle nie dieselfde is nie en elkeen sy unieke uitdagings het, het die boekbedryf baie om by die musiekbedryf te leer. Ek voorspel dat spesifieke markte se leeservaring van ’n boek – insluitend hoe dit lyk en voel – al hoe belangriker gaan word.
’n Besigheidsmodel wat geskoei is op die vervaardiging van brood of blikkieskos wérk eenvoudig nie vir boeke nie. Kyk ’n mens na boeke se dalende verkoopsyfers, asook uitgewerye se soms komiese pogings om “relevante” boeke vir “die man op straat” (wie dit ook al is) te publiseer, is dit duidelik dat ’n verandering nodig is. Ek huil altyd effens binnetoe wanneer ons land se kreatiefste, interessantste omslagontwerpers gevra word om hul skeppings só aan te pas dat “die meeste mense dit sal wil koop”. Hoe op aarde lyk ’n boek wat “die meeste” Suid-Afrikaners sal wil koop? As ons gefokuste marknavorsing doen, kan ons uitstekende boeke vir spesifieke lesers publiseer, wat ook al die genre, teikenmark of doel van die boek is.
.........
Die gedrukte boek is nie iets van die verlede nie, maar as die boekbedryf in die toekoms wil belê, moet vernuwing plaasvind.
.............
Die gedrukte boek is nie iets van die verlede nie, maar as die boekbedryf in die toekoms wil belê, moet vernuwing plaasvind. Daar is verskillende soorte lesers en verskillende soorte boeke; daarom kan uitgewerye beter besluite neem oor waarop hulle hul geld uitgee. ’n One-size-fits-all-benadering werk nie vir elke titel nie. Daarom hoop ek op ’n toekoms waar organisasies drukname en redaksies sal vertrou om lesers aan inspirerende, uitdagende idees en keurig vervaardigde objekte bloot te stel. Die besluit om ’n boek uit te gee kan nie berus op verbeelde verkope aan verbeelde massas lesers, of slegs die terugvoering van boekwinkelbestuurders nie. Daar móéet ander maniere wees waarop belangstellende – spesifieke – lesers getrek kan word. Sekerlik is daar ander kanale waardeur boeke verkoop kan word.
Ek het beslis nie ’n oplossing vir al hierdie kwessies nie, maar soms is dit nodig om probleme uit te wys sodat ons dit kan regmaak. Soos die meeste van my kollegas in die boekbedryf is ek ’n idealis wat my brood aan albei kante gebotter wil hê. Is dit régtig onmoontlik om uitstekende boeke te publiseer én geld te maak? Ek weier om dit te glo. Kom ons weeg boeke in goud, nie kilogramme nie.
- Caren van Houwelingen is ’n senior redakteur by Jonathan Ball Uitgewers
Lees ook:
Van bromied tot kuber-ink: Die produksie- en leesproses by uitgewers
Toyota US Woordfees 2022-diskoers: Konteksveranderinge in die Afrikaanse letterkunde
Die tasbaarheid en die on(aan)tasbaarheid van literatuurteorie: ekokritiek en die nuwe materialisme
’n Moeilike geboorte en skielike grootword: Suid-Afrikaanse misdaadfiksie
Twintig jaar na demokrasie: Realiteitshonger, die populêre wending en transnasionalisme
Afrikaanse geskiedskrywing: ’n Nuwe geslag, ’n nuwe ruimte, ’n nuwe uitdaging
The post Tien kilogram boeke, asseblief appeared first on LitNet.