Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Boekbekendstelling: Twee digter-literators maak ‘n wintersoggend warm

$
0
0

Woorde hul storie sien ken
Bernard Odendaal
Naledi
ISBN: 9780928316360

2 Julie 2016, die Bolandse berge is wit getooi en die skraal bries byt speels toe ’n klompie Stellenbossers, ‘n paar uit die Helderberg en ek, net tien minute uit die dorp vanagter die Boereworsgordyn plaasneem in Protea se winkel in Andringastraat.

Twee persone daar is nie Kapenaars nie: Daniel Hugo van Prins Albert en die spreker, Bernard Odendaal, 'n Potchefstroomse dosent. Laasgenoemde het self net ‘n paar weke tevore in Hugo se stoel gesit het en Hans du Plessis in syne, tóé vir ‘n gesprek oor Du Plessis se boek Tussen die klippe. Op hierdie sonnige wintersdag gaan dit oor Odendaal se nuwe bundel essays en rubrieke getitel Woorde hul stories leer ken.

Daar is wyn en daar is boeke en daar is, soos meeste Saterdagoggende, ‘n interessante praatjie in die middel van die winkel, nie in die middel van die wêreld soos met Huppelkind van vanmelewe nie, maar dit voel so vir bibliofiele wat gereeld daar vergader. So hoekom sal hulle nie gou warm en gemaklik wees nie? Met Hugo met sy Bournville dark-stem en Odendaal wat spot oor studente wat hom "oom" noem, dog goedig, want hy weet dalk hy lyk inderdaad soos ‘n gawe oom, die soort mens wat seker geen vyand kan hê nie, en dan kan dit nie anders as baie lekker oppie Bos raak nie.

Maar eers was nóg ‘n digter met ‘n opvoedkunde agtergrond aan die woord, naamlik Louis Esterhuizen, bestuurder van die winkel op Stellenbosch. Hy sê rubrieke is die kraakbeen van die letterkunde, ‘n tipe rigtingwyser aan lesers, ‘n soort dagboek van idees en kommentaar op allerlei, van politiek tot prosa, met of sonder humor. Esterhuizen sê Odendaal was een van daardie weinig gelukkiges wat die letterkunde sy lewe kan maak deur literator en skrywer te kan wees, en iemand wat geen moeite ontsien om egoloos ander se werk te bevorder nie. Dit is dus heel gepas dat hy in gesprek sal wees met nog iemand wie se lewe om letterkunde wentel en ook iemand is wat dikwels ander skeppendes help.

Hugo skop af deur droogweg op te merk dat ons eers die olifant uit die kamer moet dryf deur te waag om Afrikaans op Stellenbosch te praat. En doodnugter, anders as in 1707 toe die versugting deur ‘n beskonke tienderjarige, Hendrik Biebouw,* volgens oorlewering op die einste dorp geuiter is. Ironies ook, moet ek byvoeg dat dit skyn te wees dat vandag se Afrikanerjeug nie bereid is om Biebouw se standpunt na te volg nie: "Ik ben een Afrikaander - al slaat de landdrost mij dood, of al zetten hij mij in de tronk, ik zal, nog wil niet zwijgen!" 

Nietemin - die gesprek was nie oor taalaktivisme nie, so dít net terloops - dat alles wat gebeur altyd in ‘n bepaalde konteks is en dat die sondes van die voorgeslagte terugkom soos bytende boemerangs. Overgezet sijnde: vir elke reaksie is daar ‘n teenreaksie, ook dié wat ons vandag uitvoer, of nalaat om uit te voer. Die natuur, en die geskiedenis, neig na die herstel van balans. En ons arrogansie om anders te glo ten spyt en ons eie verbeelwêrelde te skep, is ons maar deel van dit alles - soos windmeuelens kan ons waai en lawaai, maar ons fondamente is in die bodem geanker. Hier staan ons, ons kan (meestal) nie anders nie.

Terug dan by die twee here se gesprek. Odendaal se bundel is ‘n keur uit dié rubrieke wat hy vir Bloemnuus en Volksblad geskryf het, aanvanklik net 423 woorde elk, maar darem effe aangepas vir die doeleindes van die bundel. Hy erken ook dat nie alles feitelik korrek is nie, maar dat essayiste subjektief mag wees en "‘n bietjie kan bylieg". Inderdaad. Is dit nie subliem nie? Met die verbeelding kan ons kommentaar lewer en mekaar se denke beïnvloed, subtiel of blatant. Nooit moet ons die krag van die woord, wanneer hy ‘n platform gevind het, onderskat óf vergeet nie.

Wat my herinner aan die gesegde: "Set thine heart on being a scribe, that thou mayest direct the whole earth,"* en het Alan Paton nie gesê nie: "To give up the task of reforming society is to give up one's responsibility as a free man." Is dit nie wat sosiale kommentators, en eintlik meeste skrywers, ook poog om te doen nie?

Ook, vra-sê Hugo, is dit nie so dat rubrieke dit toelaat om in verskillende style kommentaar te lewer nie? En daar is heelwat humor in Woorde hul stories leer ken, dis van die eerste bladsy al opmerklik, maar daar is ook heelwat erns in – wanneer humor sartire word, soos met spotprente, is die doel nie slegs vermaak nie. Dit, terloops, is juis wat rubriekskrywers en sportprenttekenaars gemeen het – net hulle mag onbeskaamd en onverbloemd hulle voor- en afkeure voor die voete van die dikwels beoogklapte publiek uitstort. Nogal soos Biebouw. Uitdagend. Dit kan hulle doen, dog die beste boodskaplewering skyn subtiel te wees, en die leser moet deelnemend interpreteer. Die leser moet glo hy/sy het die dieper betekenis gesnap en in ‘n gloed van selvoldaanheid met die skrywer of tekenaar saamstem.

Hierdie soms oopgelate kringe (met apologie aan Van Wyk Louw) vind ‘n mens ook in Woorde hul stories leer ken – wanneer die leser ‘n eureka-oomblik ervaar ná ‘n berekende denksprong of vertolking van ‘n metafoor. Tereg sê Hugo dat die hand van die digter in hierdie rubrieke te sien is; die liriese aanbod en die skepping van neologismes bywoorbeeld. Soos "internetskaats" (web surfing) en "liggieting" in stede van die gewone "sonskyn". Die skrywer beken en gee lewe aan mooi metafore van ander deur hulle in sy skrywes te gebruik – "uitgerolde tinfoelie" (die blink streep van die Vaalrivier), en "uitgeskudde juweelsnoere" (die ligte van die diamantmyne). Vir die leser is die ontdekking van hierdie woordskatte deel van die plesier om die bundel deel van sy/haar lees-oeuvre te maak.

"Maar hoekom nog net twee publikasies?" wil Hugo weet - oftewel waarom ná soveel die jare van woorde absorbeer is nie méér geweegde en gepolitoerde weergawes daarvan geproduseer nie? Odendaal gee sy enigmatiese glimlag en antwoord met die woorde van ‘n oudkollega, Jaap Steyn: "Die doodskoot vir kreatiwiteit is om in die akademie op te gaan." Myns insiens is daar waarheid in, maar het Steyn hom (juis) aan tipiese kreatiewe oordrywing skuldig gemaak – doodskoot is dit nie, net ’n potensieel-hinderlike verwonding. Al is dit, soos Odendaal tereg beweer, so dat die las van akademiese werk lei tot ‘n mate van geestelike uitputting, het dit in sy geval ook as stimilus gedien: Hy het gevoel dat as hy kreatiewe werke van sy studente verwag, hy ook die daad by sy woord moet sit. En daarom het die twee bundels (benewens talle akademiese artikels) uit sy pen verskyn. Odendaal sê hy was skaam om van ander te verwag wat hy nie self doen nie en hierdie etiese merker in die DNS van Bernard Odendaal sal vir my altyd uitstaan: Dat hy iemand is wat na sy gewete luister en ander meelewend behandel. In beide sy werk en sy persoonlike aura is dit onmiskenbaar hy.

Hugo reken dat hy TT Cloete en sekere Duitse digters in Odendaal se digkuns raaksien en Odendaal erken ruiterlik dat dit oneerlik sou wees as ‘n mens nie die invloed op jou pad erken nie.

"So," verander Hugo skielik van rigting, kan ‘n mens iemand leer skryf?", verwysend na Odendaal se werk by die Potchefstroomse skryfskool. Odendaal lag weer sy laggie: "Nee, maar jy kan iemand leer om beter te skryf." Nogal. En soos hy eens aan my gesê het, "meer waarderende lesers kweek". Hy en Hugo lag oor ‘n spesifieke skryfskoolganger wat nou al vir sy tiende maal na die skryfskool gaan, maar lankal besef het hy sal nooit self skryf nie. Dié man, sê Odendaal, gee te kenne dat dit eenmaal ‘n jaar vir hom ‘n plesier is om is tussen mense te wees wat skryf en omdat hy self graag lees, dit sy leeswerk gunstig beïnvloed. Soos Odendaal dan genoem het, is dié leser ‘n meer ingeligte, en daarom waarderende leser.

Soos altyd sit die skrywer by ‘n tafeltjie en teken boeke. Ek besit reeds ‘n eksemplaar van Woorde hul stories leer ken, maar het twee dinge vergeet toe ek die pad Stellenbosch toe gevat het; om te skeer en om die boek saam te bring om geteken te word. Ons wissel toe maar ‘n paar gedagtes oor Potch se skryfskool – ek was daar in Maart 2013, en ek merk daar lê twee eksemplare van Odendaal se ander publikasie, die digbundel Onbedoelde land (2007, Tafelberg-Uitgewers, waarvan elf gedigte in Brink se 2009-uitgawe van Groot Verseboek opgeneem is). Ek neem een en laat dit teken. In my motor, in die bergholte van die deur, is hoeka ‘n eksemplaar van Hugo se nuutste digbundel Takelwerk, waarin ek lees elke maal wanneer ek kans kry. Ek is amper klaar daarmee, en nou het Takelwerk ‘n waardige opvolger.

Die son skyn heerlik oor die Boland op my weg huis toe en ek dink aan Odendaal se eerste stuk in die nuwe bundel, oor die student wat hom daaraan herinner het om met ‘n vars oog na bekende dinge te kyk – ‘n pragtige voorbeeld van wisselwerking tussen nieskrywer en skrywer. Want dis wat skrywers doen: Hulle verwerk en verwoord wat ander sê en maak die wêreld nogmaals vir almal mooier.

  • Tik in die woorde "Afrikaans" en "Biebouw" op Google (ja, googeloer gerus – dankie, Joan Hambidge) en kyk wat sê Wiki oor ons volksgroep.
  • Die titel Onbedoelde land is uiteraard ‘n sinsepling op werke van FA Venter, Karel Schoeman en Alan Paton. Odendaal sê ironie speel hier ‘n rol: Dié land is en was nog nooit vir een volk "bedoel" nie.
  • Tik in "Raak- en verskilpunte tussen gedigte en liedtekste" op Google om ‘n interessante dog toeganklike akademiese bespreking deur prof Odendaal hieroor te lees te kry.
  • "Set thine heart on being a scribe, that thou mayest direct the whole earth," is nie deur iemand soos Shakespeare geuiter nie, maar so lank gelede as 2600 jaar voor Christus geuiter deur ‘n onbekende Egiptenaar. Bron: Quote/unquote quotations on freedom of speech, journalism, the new media and a world of words, saamgestel deur Lizette Rabe, en in 2016 uitgegee deur RAP, ‘n druknaam van Sun Media Uitgewers.

The post Boekbekendstelling: Twee digter-literators maak ‘n wintersoggend warm appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>