In ons nuwe reeks onderhoude gesels ons met die mense agter boeke – van uitgewers tot bemarkers; redakteurs, vertalers, argivarisse en meer – wat boeke moontlik maak en bewaar. Nadat Leserskring / Leisure Books onlangs aangekondig het dat hulle na ’n kort afwesigheid in Augustus herbegin, gesels ons in hierdie week met die uitvoerende hoof, Lana Barnett.
Beskryf asseblief jouself in een sin?
Ek is vir die afgelope tien jaar nou al boekbedonnerde uitvoerende hoof van Leserskring, verknog aan die maatskappy en met die grootste waardering vir dit wat die maatskappy vir al die lesers in die land beteken het.
Verskaf asseblief ’n kort biografie van jouself?
Gebore en getoë op Citrusdal. Ek het op ’n lemoenplaas grootgeword en die ou dorpsbibliotekie waar mev Niehaus die bibliotekaresse was, deurgelees! Die liefde vir boeke het gemaak dat daar net een loopbaankeuse kon wees: dié van bibliotekaresse! Daardie tyd het niemand gedink aan werksmoontlikhede nie – dis mos sommer as vanselfsprekend aanvaar as jy van boeke hou! Na skool is ek na die Universiteit van Kaapstad vir ’n B-graad in tale en nagraads biblioteekkunde. Gaan werk op Graaff-Reinet in 1970 as 22-jarige streeksbibliotekaresse vir die Provinsiale Biblioteekdiens en leer sommer als wat daar te wete is van die blou biblioteekwa se busbestuurder! Was getroud met Chris Pieterse en het een seuntjie, Andrew. Ons het op Hermanus gebly, waar Chris oorlede is en ek en Andrew terug Kaapstad toe verhuis het. Ek werk verder by die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens as boekkeurder. Hier maak ek vir die eerste keer met Media24 kennis (toe nog Nasionale Boekhandel) en tree gereeld op as keurder vir hulle literêre pryse. In 1991 word ek by Leserskring aangestel as boekaankoper en trou in dieselfde jaar met Richard Barnett. Ons bly nog steeds in dieselfde ou huis in Nuweland ...
Vir iemand wat dit glad nie ken nie, hoe werk Leserskring?
Die konsep van Leserskring is gebou op die oorspronklike Duitse mediagroep Bertelsmann se resep, waar daar ’n kwartaallikse katalogus aan lede gestuur word waaruit ’n boek, musiek of DVD’s bestel kan word en dit dan per pos of per koerier afgelewer word. Die katalogus is die “winkel” en bied ’n spesiale uitgesoekte versameling produkte/boeke aan leesgieriges wat dalk nie die toegang tot boekwinkels het nie, en ook lesers wat dalk drempelvrees het vir boekwinkels. Ons neem boeke na al die uithoeke van die land, tot in mense se huise, sodat hulle ’n erfenisbiblioteek kan opbou ... Al vir 36 jaar!
Vertel ons asseblief van die nuwe lewe wat IMD Logistics in Leserskring blaas en wat hulle oorname aan huidige en nuwe lede sal bring?
IMD (Independent Music Distributors) Logistics is ’n maatskappy wat musiek na al die uithoeke van die land versprei. Hulle was een van die ou Leserskring se verskaffers en nadat hulle die kennisgewing gekry het dat Leserskring sou sluit, het hulle besluit dat dit ’n ikoniese handelsmerk is wat net nie toegelaat kon word om te sterf nie. Hulle wou hê ek moes aan die stuur bly en dit nadat ek al in aftrede-“mode” gegaan het! Maar dit is baie opwindend om saam met ’n kleiner maatskappy te werk wat vinnig kan beweeg. Al ons lede se voordele en data word behou, maar terselfdertyd word ons ou “legacy”-IT-stelsels vervang en dit sal alles ’n baie positiewe uitwerking hê op ons lede se ervaring van die klub. Ons kyk na beter voordele vir lede, beter verspreidingsopsies, en ons sal die besigheid soos ’n “start-up” bedryf. Ons sal voortbou op dit waaroor die lede so gaande was, en die haakplekke uitstryk.
Waar kom jou liefde vir boeke vandaan? Vertel ons so ’n bietjie meer van jou kinderjare? Wie was jou gunstelingskrywers en watter boeke het ’n invloed op jou gehad?
Ek het as kind ’n wonderlike geleentheid gehad om op ’n plaas groot te word, en met ’n ma wat ’n onderwyseres was en ’n groot belangstelling in boeke en skrywers gehad het. Ek onthou hoe sy destyds gepraat het van Jan Rabie en die Sestigers, en ek onthou spesifiek dat sy Ons die afgod gelees het toe ek in die laerskool was. Hoe sy daarvan geweet het, sonder al die nuus oor skrywers en boeke waaraan mens vandag blootgestel word, weet ek nie. Dis een van die vrae wat ek nog wou vra voordat sy ’n paar jaar gelede oorlede is, maar nooit by gekom het nie. Ons het baie boeke in die huis gehad en sy het vir my boeke deur die pos bestel – so ek is al van kleins af gewoond aan “magic by mail”! So lees ek ook Sy kom met die sekelmaan deur Hettie Smit, Oupa Landman se Viool deur JG Joubert, Kas van den Bergh se Pad na eensaamheid en Man uit die vreemde. Baie daarvan het by die laerskooldogtertjie verbygegaan, maar ek sal hierdie boeke op my ma se boekrak tot in ewigheid onthou! En met elke Kersfees kry ek ’n eksemplaar van Little Women van Louisa M Alcott, Lorna Doone deur RD Blackmore en Anne of Green Gables deur Lucy Maud Montgomery ... En Polyanna!
In die vyftiger- en vroeë sestigerjare was daar ’n opbloei van biblioteke in die platteland en het ek die voorreg gehad om wyd en syd te kon lees. En ook boeke wat eintlik as “gewaagd” beskou was: die biblioteektannie het maar oë toegeknyp toe ek in st 5 al die Angélique-stories van Sergeanne Golon verslind het, en in die hoërskool Die Ambassadeur en natuurlik later Kennis van die aand.
Vertel ons meer oor jou studies en watter skrywers en boeke toe ’n invloed op jou lewe gehad het? Enige spesifieke aanhalings uit boeke wat jou bybly?
Ek was bevoorreg om die opspraakwekkende Sestiger-lesing tydens die Universiteit van Kaapstad se somerskool te kon bywoon. Ek dink dit was in 1973. Breyten Breytenbach en Yolande, sy vrou, het uiteindelik daarin geslaag om ’n visum vir Yolande in apartheid-Suid Afrika te bekom, waar hy vir die eerste keer sedert hy na Parys is, weer in Suid-Afrika voor ’n gehoor kon optree (en dit was ’n gehoor van 800 mense). Dis waar ek die eerste keer regtig van “littérature engagée” bewus geword het en die invloed wat die Suid-Afrikaanse apartheidspolitiek op skrywers en hulle oeuvres gehad het.
Aan die UK was ek in die bevoorregte posisie om Nederlands-Afrikaans te studeer onder leiding van Merwe Scholtz, John Kannemeyer, Edith Raidt en Ernst Lindenberg. Inderdaad ’n uitgelese groep akademici wat ’n onuitwisbare indruk op my gemaak het. Destyds in 1966 was die UK baie duurder as Stellenbosch, en gelukkig het my gekerm om UK toe te gaan nie op dowe ore geval nie en behalwe die akademie, was dit die wonderlikste “universiteit van die wêreld”! (Ek het in ’n Sap-huis grootgeword op Citrusdal waar daar Van Der Merwe-Natte en Van der Merwe-Sappe was – en ons was Sappe! Generaal Smuts en sir De Villiers Graaff se portrette het in almal se huise gehang!) Ek neem ook Engels as vak en lees al die boeke van Jane Austen (Emma is een van my allergunstelingboeke,) van die Brontë-susters, ek sukkel deur James Joyce se Ulysses, maar die wêreld van die Engelse literatuur ontvou soos ’n blom!
Vertel ’n bietjie meer van jou loopbaan, benewens wat jy al hier bo beskryf het? Wat was al van die hoogtepunte in jou loopbaan?
Dalk eers ietsie meer oor my tyd in Graaff-Reinet as streeksbibliotekaresse: elke ses weke moes ons die streek deurkruis met die reisende biblioteek (die ou blou boekwa) en ek met ’n ou Holden-stasiewa agterna. Weer eens besef ek watter wonderlike bydrae die tannies (dikwels nie opgeleide bibliotekaresses nie) in die klein dorpies maak om kinders aan die lees te kry. En veral in die kleurlinggemeenskappe. My “pienk” bloed het aan die begin bitterlik kapsie gemaak teen die idee van ’n biblioteek in die “bodorp” en ’n biblioteek in die “onderdorp”, maar per slot van rekening, solank kinders net kon lees! By Leserskring moes ek leer hoe om boeke te koop wat sal verkoop en nie op biblioteke se rakke gaan lê nie, maar die doel heilig die middel en solank ek kan help om altyd ’n “boekwinkel in jou voorhuis” te hê, is ek gelukkig. Dit was Leserskring se heel eerste leuse! Ek dink die hoogtepunt van my loopbaan was toe ek besef het dat ek en my kollegas daadwerklik ’n verskil kan maak om boeke in mense se huise in te bring. Dit is wat Leserskring is: ’n kleurvolle katalogus vol boeke wat in mense se huise rondlê! Ons is die enigste boekhandelaar wat dit doen! En dit is en sal altyd vir my die bydrae wees van Leserskring wat erfenisbiblioteke in mense se huise bou. In 2006 het ek die uitvoerende hoof geword nadat ek vanaf 1991 die boekaankoper was. Dit het nuwe uitdagings gebring, want nou is alles uiteindelik my verantwoordelikheid! En ek leer nog steeds elke dag.
Ook met verwysing na Leserskring, wat is die grootste uitdagings en geleenthede wat die plaaslike boekbedryf vandag in die gesig staar?
Die lewe is vinnig, inligting is blitsvinnig, op reghoekige skerms! Maar dit neem lank en verg baie energie van ’n hele ketting van mense om ’n boek te maak, of dit nou fiksie of niefiksie is, en hoe ook al dit “verbruik” word. Dan moet iemand dit koop, of aflaai, en mens wonder of – en hoop dat – vandag se “millennials” nog die waarde van ’n boek in die toekoms sal besef. Ek weet dit klink soos ’n vreeslike cliché en daar was ’n tyd toe die gewilde siening van die gedrukte boek dié van ’n “vanity”-produk of slegs ’n “kulturele artefak” was. Dit lyk my dit het nou genadiglik bietjie gaan lê, want verkope van die d-boek styg tog weer stadigaan. Om die toekoms van die boek en die boekbedryf te voorspel is regtig om soos deur ’n spieël in ’n raaisel te kyk.
Wat is jou top 10 boeke van alle tye? En wat het hierdie boeke oor die algemeen na jou lewe gebring?
Nie in enige beduidende volgorde nie:
Graham Greene: The Power and the Glory
Ernest Hemingway: A Farewell to Arms (Ontsluit vir my die Amerikaanse letterkunde.)
Han Suyin: A Many-splendoured Thing (Ek leer vir die eerste keer oor die konflik tussen oos en wes aan die hand van hierdie Chinees-Belgiese skrywer. Love is a Many-splendored Thing het later ’n baie gewilde fliek geword.)
PG du Plessis: Fees van die ongenooides (Die mooiste, mooiste Afrikaans ooit.)
Ayn Rand: The Fountainhead (Watter student in die sestigerjare het nie al Ayn Rand se boeke gelees nie?)
Frank McCourt: Angela’s Ashes (Oor armoede en swaarkry in Ierland.)
JD Salinger: The Catcher in the Rye (Ikoniese boek wat elke jongmens moet lees.)
Khaled Hosseini: The Kite Runner
Daphne du Maurier: Rebecca (Kan daar ’n meer romantiese spanningsverhaal wees?)
Alan Paton: Cry the Beloved Country (Oor ons wye en droewige land!)
En die tweeluik van Elsa Joubert: ’n Wonderlike geweld en Reisiger (Baie moeilik om te kies!)
Behalwe boeke, wat is die ander passies in jou lewe? Gee ons asseblief ’n bietjie meer persoonlike blik op jou lewe.
Ek en my man Richard bly in ’n rambling ou huis in Nuweland. Dis pragtig koel en groen in die somer en nat en drup-drup en snoesig in die winter. Hy is afgetree en maak groentetuin (en maak die kos!) en gee my graciously die geleentheid om aan te hou werk. Ons is al twee lief vir draf in die mooi omgewing waar ons bly en ek het vanjaar my 14de Twee Oseane-halfmarathon gedoen. Ons stap baie in die berg en is al twee baie lief vir die natuur. Ek dink die Nuwelandse woud is die besbewaarde geheim in Kaapstad! Elke wegbreekkansie wat ons kry gaan ons kuier op Citrusdal, waar my broer nog op die familieplaas boer. Verder is ek versot op die Skandinawiese Nordic Noir TV-reekse (The Killing, The Bridge, ens) asook die ikoniese Britse “village detective”-reekse soos Inspector Banks. Geen Amerikaanse TV vir ons nie! Ek en Richard het elk ’n seun wat in Engeland bly en elke kans (en Britse pond!) wat ons kry, gaan kuier ons in Devon waar my seun Andrew met sy Britse vrou Ali en hulle twee seuntjies, Toby en Albert, bly. Richard se seun Richard John bly in Brighton. Verder stel ek intens belang in die sakewêreld, politiek, en ook die wêreldpolitiek, en is tans saam met my kinders angstig oor Brexit! Ek is ’n “nuus-junkie”!
Watse boodskap het jy vir huidige en potensiële nuwe lede van Leserskring?
Leserskring bied die unieke geleentheid vir lede om boeke vanaf die gerief van hulle rusbank te kies, hulle meer te vertel oor boeke en skrywers, toegevoegde waarde soos ’n mooi katalogus aan lede te bied, skrywers aan hulle bekend te stel en ’n lewenslyn te wees na Afrikaanse boeke en skrywers. Die aanlyn wêreld het ’n rol te speel, maar so ook Leserskring wat rigting gee vir lesers in ’n wêreld van oppervlakkige en soms sensasionele beriggewing oor skrywers en boeke. Leserskring sal ’n Suid-Afrikaanse instelling bly en in die toekoms sal alles makliker en vinniger geskied en sal ons die krapplekkies van die verlede uitstryk
Enigiets anders wat jy met ons wil deel?
My man Richard se geliefkoosde opmerking oor my: “She goes through life in a state of furious alertness!”
The post Mense agter boeke: Jaco Botha gesels met Lana Barnett – uitvoerende hoof van Leserskring / Leisure Books appeared first on LitNet.