Die folkmusikant Albert de Vos is al dekades aktief, en het sy eie manier van kyk na die musiekbedryf, die rol van die kunstenaar daarin en hoe hy omgaan met musiek. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Albert. Hoe's alles?
Goeiedag, Henry. Kan nie kla nie, veral met die wind wat ook ’n bietjie rus hier in Vredehoek. Ek hoop ek sal jou vrae bevredigend antwoord – ek sal nie die antwoorde Google nie. Vergewe my maar as die antwoorde te bondig is – selfs my liedjies is nooit veel langer as drie minute nie.
Ek het jou onlangs vir die eerste keer sien optree by die Blah Blah Bar in Kaapstad – groot spyt oor ek jou so laat eers ontdek, maar groot vreugde oor die ontdekking! Jy het al drie albums uitgereik, waarvan die jongste, Gemengde gevoelens, in my besit is. Dit wil voorkom of jy kies / gekies het om jou musiek effe onder die radar uit te leef, buite die oog van die hoofstroom. Hoe sou jy jou musiekloopbaan tot dusver in hierdie opsig beskryf? Moes jy in ’n stadium bewustelike keuses maak oor hoe jy jou musiek wil “bestuur”, of wat is jou filosofie hierrondom?
Ja, ek is eintlik hééltemal onder die radar en sal niemand kwalik neem as hulle nog nooit van my gehoor het nie. Ek dink dit was Andries Bezuidenhout wat na ons groep musikante verwys het as “ondergronds” en daar is ook verskillende redes waarom ons nie deel is van die hoofstroom nie. Wat myself betref, het ek van die begin af geweet dat my soort musiek nie in die meerderheid mense se smaak gaan val nie en dat ek skugter vir daardie radar gaan wees. Ek wou egter nie net vir myself sit en liedjies skryf nie en het toe die eerste album gemaak en maar gehoop dat dit by ore sal uitkom wat op my golflengte is. Ja, so van “bestuur” was daar nie eintlik sprake nie en boonop was ek al in my veertigs met die eerste album en kon ek nie my werk los vir ’n loslyflewe met musiek nie. Port Elizabeth, waar ek op daardie stadium gewoon het, was ook baie afgesny van die kunswêreld, maar ten spyte daarvan het Diep Karoo darem ’n review in die tydskrif Insig gekry.
Dit voel of ’n goue draad van melankolie deur die Gemengde gevoelens-album loop – dikwels met skerp storievertelvernuf (soos mens sou verwag van ’n goeie folkalbum), gepaardgaande met persoonlike onthullings en bytende refreine (waarvan my gunsteling moontlik "Weet jy hoe dit voel/ as jy nie terug kan draai nie/ weet jy hoe dit voel/ as jy nie vorentoe kan gaan nie, maar nie stil kan staan nie"). Sonder om nou te veel oor invloede te praat (ons kom nou-nou by ’n ooglopende een), hoe beskou en onthou jy die ontwikkeling van jou kunstenaarskap en die manier waarop jy liedjies wil laat leef, vir wie jy sing en hoekom jy sing? Is dit deesdae anders as toe jy begin het? Wat was musiek nog altyd vir jou, en wat is jy vir musiek?
Noudat ek daaraan dink – lirieke was vandat ek ernstig na musiek begin luister het baie belangrik vir my. Selfs toe ek op hoërskool ’n vurige Creedence Clearwater Revival-aanhanger was, het ek altyd probeer uitvind wat die woorde van hulle liedjies was. In my vroeë twintigs het die lirieke van liedjies nog meer belangrik geword soos ek dit vereenselwig het met my eie wankelrige emosies, en later ontdek ek toe dat mens ook in liedjies kan protesteer teen die onregte van ons wêreld. As ek my drie albums moet vergelyk, sou ek sê dat die eerste twee heelwat sosiale kommentaar bevat en dat ek op die derde een amper weer teruggekeer het na my jonger self, broos en melankolies, soos jy sê. Ek sal nie sê dat dit nou anders is as wat dit was nie – ek het nog altyd gehou van lirieke wat outobiografies van aard is, en selfs al is dit ’n protesliedjie is dit tog ook subjektief van aard. Musiek, en dan veral lirieke, is soos met ander kuns seker maar ’n manier hoe jy die wêreld om jou probeer verwerk, en soms is daar selfs versteekte belydenisse in die lirieke!
Interessant – toe ek jou daardie aand in Blah Blah hoor speel, het ek onmiddellik gedink daar's ’n sterk Bob Dylan-invloed op jou kitaarspel. Later sou ek natuurlik uitvind daar's ’n baie sterk Dylan-invloed op jou musiek in die geheel – soveel so dat jy een van sy liedere, "I want you", vertaal en op die album ingesluit het. Koos van der Merwe het onlangs skerp kritiek uit verskeie oorde gekry oor sy vertalings van Leonard Cohen- en Bob Dylan-liedjies. Wat is jou gevoel oor die vertaling en herinterpretasie van musiek wat verskeie mense as heilige grond beskou? Is daar ’n onus op jou om op ’n sekere manier so na as moontlik aan die oorspronklike weergawe te bly, of is die groter kompliment juis om inspirasie vir ’n soort nuutskepping daarin te vind? Hoe ver strek "eienaarskap" van musiek vir jou, en hoe dink jy gaan dinge op die musieklandskap nog verander in hierdie opsig? En waarom het jy spesifiek "I want you" gekies?
Miskien moet mens vir Bob Dylan vra oor hoe hy voel as iemand sy liedjies vertaal. Ag ja wat, ek dink nie hy gee om nie. Mens moet darem sy lirieke respekteer en ek dink dit moet so na as moontlik vertaal word aan die oorspronklike liriek, en die digterlike eienskappe daarvan moet behoue bly. Ek het nie ’n behoefte om enige ander liedjies te vertaal nie, maar “I want you” het ’n melodie waarvan ek baie gehou het en met die lirieke wat op daardie stadium gepas het by my gemoed, wat vol hunkeringe was. Wat kopiereg betref, dink ek darem ’n mens moet ten minste iemand se toestemming vra voordat jy ’n werk naboots, en as jy een van die groot kokkedore is wat baie geld uit musiek maak, is dit natuurlik ’n ander saak. Nou met die internet wat so gelaai is met musiek en foto’s en ander kuns wat so maklik beskikbaar is, weet ek nie hoe kopiereg beskerm word nie.
Daar is ’n baie sterk poëtiese inslag in jou lirieke – meesleurende en prikkelende frases duik orals op, soos in "Duiwel in haar oë", wat nou weer hier by my speel: "Lolita dans/ dans op die tafel/ en sy kyk na ons/ hoe ons uitrafel/ en sy verloor haar klere/ daar onder die neon/ sy's die koningin/ ek's die pion ..." Wat is jou filosofie oor die balans tussen liriek en musiek? Watter een dien nou eintlik die ander? Wat is vir jou belangriker in terme van die definisie van ’n lied? Dink jy liriekskryfkuns het agteruitgegaan in die afgelope jare en dekades, of het dit bloot in ’n ander rigting gegroei?
Daar is definitief liedjies of liedere waar die lirieke nie so belangrik is nie. Ek dink nou aan opera waar ’n mens nie ’n woord kan verstaan nie of gewone popliedjies waar die melodie en ritme en hoe goed die liedjie uitgevoer word, baie meer belangrik is as betekenisvolle lirieke. Die balans en wisselwerking tussen musiek en liriek is nogal interessant: dikwels as ’n mens ’n liriek lees, verloor dit die trefkrag wat dit het saam met die musiek. So, ’n mens hoef nie ’n goeie digter te wees om ’n goeie liedjie te skryf nie. Wat die liriekskryfkuns betref, dink ek nie dit het agteruitgegaan nie, ek dink net dat die goeie liriekskrywers nie op die voorgrond is nie. In die sestigs en sewentigs sou ’n mens darem nog Bob Dylan, Paul Simon of Joni Mitchell soms op die radio hoor, maar nou …
Hoe verloop die geboorteproses van ’n liedjie by jou, vandat die eerste woord of akkoord neergepen word tot dit uiteindelik opgeneem of uitgevoer word? Wanneer weet jy ’n liedjie is nou "reg" soos hy is? Hoe het jou instinkte en toetsprosesse wat dit betref verander in die verloop van jou loopbaan tot dusver?
Wat ek gevind het, is dat my gunstelingliedjies dié is wat op ’n manier net gebeur het – die melodie en die woorde het amper gelyktydig ontstaan. Die ritme van die liedjie was dan egter dikwels nog nie reg nie en soms was dit maande voordat dit in plek geval het. Dan was daar ander liedjies waarvan ek eers die lirieke geskryf het en daarna die melodie bygesit het en hulle klink gewoonlik heeltemal anders aan die einde, na weke of maande, as toe ek daarmee begin het, maar ’n mens weet sommer dadelik wanneer dit die regte gevoel het. Ek weet nie hoe dit met ander mense werk nie, maar ek kan nie ’n liedjie forseer nie; soms vat dit maande voordat ’n idee vir ’n liedjie by my opkom.
Een van die besonder boeiende liedere op Gemengde gevoelens is "Een setlaar, een kitaar". Wat was jou gedagtegang met die skep van die lied, en hoe sou jy die boodskap daarvan opsom? Hoe belangrik dink jy is "socially conscious" musiek in die konteks van ’n veranderende samelewing, en is daar genoeg daarvan in ’n komplekse land soos Suid-Afrika? Hoe sou jy graag jong musikante dié speelveld wou sien verken?
In die vorige dekade het ek ’n paar jaar in Johannesburg en toe in Pretoria gebly, waar ek heelwat, meestal “ondergrondse”, musikante ontmoet het in kroeë en venues met hulle kitare. Gedagtig aan die opruiende “one settler, one bullet” kon ek nie help om te wonder waar ons inpas nie, ons met ons Afrikaanse liedjies in leë venues, soms net jou vriendin wat half versteek agter ’n pilaar na jou sit en luister. Die boodskap van “Een setlaar, een kitaar” kan dalk verkeerd verstaan word met ’n soort van ons-teen-hulle-sentiment, terwyl ek eerder vrae omtrent my identiteit in die land probeer beskryf het. Destyds toe die Voëlvry-beweging aan die gang was, het Bles Bridges gesê dat kunstenaars eerder oor die mooi dinge in die lewe moet sing, en dit is waar dat musiek ook die funksie het om mens te laat ontspan en vergeet van probleme. Ek dink dit is egter ook belangrik dat kuns die minder aangename en donker dinge in die lewe konfronteer en daarvan sin probeer maak. Ek is nie op hoogte van wat aangaan in die jongmense se musiekwêreld nie, maar ek neem aan dat “socially conscious” musiek wel gemaak word, maar nie deur dié wat hulle stem op die radio wil hoor nie.
Ek sien in ’n onderhoud op Versindaba met Andries Bezuidenhout sê jy jy sal nie sommer weer ’n album opneem nie, maar eerder enkelliedjies aanlyn plaas. Dis baie interessant – dis gewoonlik iets wat ’n mens by jonger musikante aantref wat minder gewoond is aan die ''magiese'' idee van ’n album. Wat is die motivering hierby vir jou, en hoe voel jy oor die album-as-storie versus liedjie-as-genoegsame storie? Wat dink jy verloor ’n mens met sporadiese enkelsnitte eerder as ’n album, en wat dink jy wen ’n mens?
’n Paar jaar gelede het ek ’n goeie mikrofoon gekoop en ook die sagteware gekry om liedjies tuis op te neem en op dié manier het ek so ’n halfdosyn liedjies aanmekaar geslaan, nie genoeg vir ’n album nie. Verder voel ek dat waar die drie albums wat ek gemaak het, elkeen ’n deurlopende tema gehad het, die nuwe liedjies baie los van mekaar staan en nie lekker op ’n album gaan werk nie. Natuurlik ook: om ’n album te maak is ’n duur storie en vir iemand wat onder die radar is, nie baie lonend nie. Ek het onlangs ’n Engelse liedjie en ook ’n nuwe Afrikaanse liedjie op cdbaby se webwerf geplaas, en as enkelliedjies dink ek dit werk goed, alhoewel ek bewus is dat dit heeltemal verlore raak tussen al die miljoene ander stemme op die internet.
Al hou jy jouself weg van hoofstroomverhoë, is jy al ’n geruime tyd ’n deel van die plaaslike musieklandskap – jou eerste album, Diep Karoo, het immers reeds in 1997 verskyn. Dit is interessant om op te lees oor hoe jy in die ’70's in Port Elizabeth met folk- en protesmusiek kennis gemaak het. Enige hoogtepunte wat uitstaan as jy terugkyk op die loopbaan tot dusver? Enige agter-die-skerms-gebeure te vreemd om te glo dit het waarlik gebeur? Enige aande wat jy hoop eerder anders verloop het as wat dit het?
Die hoogtepunte vir my is maar al die kuiers en gigs saam met die begeesterde musikante en liedjieskrywers wat ek deur die jare ontmoet het. Mense met kitare en woorde op die musiekpad omdat dit hulle passie is – mense soos Marcia Moon, oorlede Drikus Barnard, Bacchus Nel en Andries, om net ’n paar te noem. Ja, ek is nie altyd so lief vir die verhoog nie, maar die meerderheid van my optredes het ek geniet. Daar was soms onaangename gigs en ook die snaakse dinge wat gebeur. Een aand het ek in Johannesburg by my gig met my kitaar opgedaag en toe uitgevind dat daar ’n misverstand was en dat die gehoor kom luister het na Albert Frost, nie Albert de Vos nie! Ek het toe maar meer van my blueserige liedjies uitgehaal en die mense het darem nie te teleurgesteld met die aand gelyk nie. Op ’n ander keer het ek en Fanie de Villiers (Kleinboer) agter die skerms gewag vir ons show by ’n kunstefees om te begin en toe kom die verhoogbestuurder na ons en deel ons mee dat daar nog nie ’n enkele toeskouer opgedaag het nie. Toe gaan ondersoek ons maar Bloemfontein se naglewe en kroeë.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Albert de Vos, in soverre jy dit kan beheer?
In my geval beteken die nabye toekoms volgende week en die verre toekoms volgende maand. Ek wil nie te ver vorentoe dink nie. Ek dink nie dit sal ’n goeie idee wees om binnekort my “day job” te laat gaan nie en dinge soos musiek sal op naweke moet gebeur. Ek stel nog altyd baie belang in teater en dalk wil ek ’n drama skryf, maar dis ’n ander storie.
Wat is die sin van die lewe?
Ek dink ek gaan hierdie laaste vraag dop, maar ek sal ’n raaiskoot vat: Die lewe het nie sin nie, ’n mens moet dit self sinvol maak. Dit is daardie leë bladsy waarvan die filosoof Sartre gepraat het en waarvan hy gesê het dat dit jou eie verantwoordelikheid is om iets daarmee te doen. Mens moet besig bly en nie te veel dink oor die sin van die lewe nie, alhoewel dit soms nogal moeilik is vir ’n introverte alleenloper. Kurt Vonnegut, die Amerikaanse skrywer wat baie erge dinge gedurende die Tweede Wêreldoorlog deurgemaak het, het goeie raad gegee kort voor sy dood: “And how should we behave during this Apocalypse? We should be unusually kind to one another, certainly. But we should also stop being so serious. Jokes help a lot. And get a dog, if you don’t already have one …”
The post Albert de Vos: "Ek is eintlik hééltemal onder die radar" appeared first on LitNet.