(onthou die ewige optimisme as wesenskenmerk van noodhulp)
o my neuroos, sedert ek jou so die slag gesien het,
bly ek op besorgdheid se gloeiende kole
jou welstand en jou welgang neem nou definiёrend die voorrang
waar my verswelgende wellus (hoe skoon breinaf tog)
vir die algemene baltsritme gechoreografeer
eers oorheers het
die dag is te kort om my kommer van iedere sekonde te speen
omdat ek aand na aand gebuk gaan onder die las op die bobeuk
van my skouers
met die brandreuk van onsekerheid pal aan die orde
onstigtelik te woeker in my neus, o roos
ek moet weet dat jy veilig is
ek moet glo dat jy verlig is
gevare wat jou daagliks met elke asemtrek of strek van jou kuit kan konfronteer
is legio
kon my wens op die vloer maar bepaal met welke voet jy uit die bed opstaan
om die badkamer en lessenaar te bereik
nee die ouderdom van die plafonstroke bokant jou kop kan veroorsaak
dat ‘n frats soos vertigo
vermom jou mos meteens oorval
– om nie van die suwwe hemel self te praat nie!
bloed op jou dierbare skouers
- onvoorstelbaar reg dwarsdeur my verbeelding en gemoed
pasop vir vyfuur in die middag veral
ek voel swak o roos kyk waar gryns my senuwees
laat my dus dadelik van alles weet wat jy doen
- van neussnuit en ore tuit en parfuum en boeke opvat
tot by die derde uur van elke nagwaak en wat jy die kat vertel
net om my gesus te kry, belowe?
(olke-bolke-riebekie-stolke … vou jou voete same)
The post inborsstorie appeared first on LitNet.