Sing Street
Draaiboek en regie: John Carney
Spelers: Ferdia Walsh-Peelo, Aidan Gillen, Lucy Boynton, Ben Carolan, Mark McKenna, Percy Chamburuka
Ierse flieks het ’n reputasie van rof en onbeskof, waarskynlik omdat dit meestal die werkersklas uitbeeld. Sing Street roep herinneringe op van die Alan Parker-treffer The Commitments (1991), gegrond op die gelyknamige roman deur Roddy Doyle. Sing Street gaan ook oor ’n jongeling uit ’n arm buurt in Dublin wat ’n band stig, maar dis minder hardebaard, wat beteken jy en jou ouer tieners kan saam gaan fliek.
Dis 1985 en Ierland beleef ’n kwaai resessie. Omdat die vyftienjarige Connor (Ferdia Walsh-Peelo) se gesin hul rieme dunner moet sny, word hy uit sy goeie skool gehaal en na die buurt se Katolieke skool gestuur. Daar gaan dit rêrig rof. Die Ierse aksent is dik en die skoolhoof-priester is ’n sadis (“pedofiel” is ’n begrip wat in die agtergrond huiwer).
Tuis baklei Connor se ouers soos kat en hond. Sy ouer broer lê heeldag en dagga rook ná hy sy kollegestudie opgeskop het. En hy luister musiek – ’n puris wat hou by langspeelplate in die tyd van musiekkassette. Die heel nuutste is musiekvideo’s. Oorsese popgroepe soos Duran Duran, met groot hare en grimering, word aanbid. Elke jong Ier wil ontsnap, wegkom – indien dan nie na Amerika nie, ten minste na Londen.
Eendag sien Connor vir Raphina (Lucy Boynton). Sy is ouer en baie geheimsinnig en dis liefde met die eerste aanblik. So met die opchat vra hy haar om in ’n musiekvideo te speel, en toe sy instem, moet hy baie vinnig ’n band bymekaar kry.
Hierdie pragtige, bittersoet verhaal hoort op die kyklys van elke toegewyde fliekvlooi. Die klomp jong akteurs is ’n openbaring, veral Ferdia Walsh-Peelo en Lucy Boynton in die hoofrolle, en die musiek is heerlik verby.
Sterre: 4
The post Filmresensie: Sing Street appeared first on LitNet.