Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Albert Frost: "My soloprojek is gekompliseerd van aard"

$
0
0

Die kitaarlegende Albert Frost se jongste solo-album, The Wake Up, is onlangs uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Albert. Hoe's dinge?

Lekker, dankie Henry, hoe gaan dit met jou?

frost1grootweb
Foto: Justin Lee

Lekker, dankie man. Geluk met die uitreiking van jou jongste album, The Wake Up. As ek reg tel, is dit jou derde solo-album dié? Die vorige een, Devils & Gods, is in 2009 uitgereik, en jou eerste solo-album, Catfish, in 2002. Dit lyk dus of daar konsekwent ’n sewe-jaar-gaping tussen jou solo-albums is! Waarom neem dit gewoonlik so (betreklik) lank vir jou om ’n solo-album aanmekaar te sit en uit te reik? Of is dit ’n doelbewuste besluit – hoe langer dit neem, hoe beter is dit? Wat het jou laat besluit nou is weer die regte tyd vir ’n solo-album?

Dit is in fact my vierde album. Ek het twee jaar terug die Albert Frost Trio Live in Grahamstown 2013 uitgereik as ’n "bootleg" wat net beskikbaar is by my vertonings. Die rede vir die "gaps" is ek is konstant besig met allerhande ander projekte. Tussen my laaste twee studio-albums het ek twee Blues Broers-albums gemaak, asook albums saam met Chris Chameleon, Koos Kombuis en vele meer!

My soloprojek is gekompliseerd van aard. Omdat die materiaal so divers is, het dit lank gevat om die regte prentjie in my kop te beraam. Baie van die idees van The Wake Up kom al ’n lang pad saam en ek het nou eers gevoel ek is reg om dit bloot te stel as myself – ’n groot stap vir my as ’n kunstenaar. The Wake Up is tot ’n mate die opvolg na Devils & Gods, maar hierdie keer klink dit soos dieselfde kunstenaar en nie net ’n samestelling van "random" idees nie. Ook die feit dat my stem al ’n lang pad gekom het vanaf Devils & Gods het ’n groot invloed gehad op my "timing" van The Wake Up.

Op jou Facebook-blad word The Wake Up as "the start of a new journey" beskryf, met ’n wegbeweeg van jou blues-wortels af. Dis egter so vroeg as met die eerste snit, "Outside", duidelik dat die blues-wortels ook nou nie juis geheel en al agtergelaat word nie. Trouens, dit skemer in die hele album deur (’n mens kan seker argumenteer dit is te danke aan rockmusiek in sigself se blues-wortels). Hoeveel van ’n bewustelike, opsetlike wegbeweeg van blues wou jy met die album skep? Hoe en waarom het jy begin voel dit is tyd vir so ’n journey? Watter spesifieke musikale areas of invloede wou jy verken of mee rondspeel, en hoe beskou jy terugskouend – noudat die produk voltooi en daar buite is – oor dié proses en hoe jy dit aangepak het?

"Outside" is die "link-up"-snit wat al my blues-aanhangers bewus maak van my nuwe musikale rigting. Ek het gevoel dit is uiters belangrik om dit te beklemtoon sodat ek myself nie vervreem van my blues "crowd" nie. Die invloede strek van BB King, David Gilmour en Jimi Hendrix tot Ali Farka Toure en The Police. Alhoewel ek duidelik wegbeweeg van ’n streng blues "feel", sal dit altyd aanwesig wees in alles wat ek aanpak. Dit is nou tyd vir my om my diversiteit as veral kitaarspeler bekend te maak, so dit is ’n baie bewustelike besluit om ander invloede in te bring.

As musikant wat al meer as twee dekades in die bedryf is, voel ek ek is nou reg om alle aspekte van die bedryf te vul. Wanneer dit kom by musikale invloede het ek ’n mengsel van blues, rock, psychedelic rock, West African en South African style bymekaar gesit. Dit was ’n super-intense proses! As ek nou terugkyk, voel dit vir my alles het so te sê perfek geloop. Ek het besluit om die tyd te vat om die musiek reg uit te kry. Dit het my 16 maande in VH Studios buite die Kaap gevat om die liedjies uit te kerf, iets wat min kunstenaars kan uitrig agv budget en tyd – iets waarvoor ek vir altyd dankbaar sal wees!

Al is daar ’n mate van ’n goue draad wat musikaal deur die album loop, is dit ook geweldig divers. Eintlik kan ’n mens skaars glo dis dieselfde kunstenaar wat sing op byvoorbeeld sagter snitte soos "Tonight" en "Morning Pages", en dan klipharde woede-rock-snitte soos "Home no more" en "Modern romance". Hoe belangrik was dit vir jou om daardie diversiteit op die album te kry? Was daar sterk beplanning betrokke by die samestelling van die album in die opsig van die vloei tussen die snitte en hoe die songs met mekaar "praat", of beskou jy dit bloot as ’n rits sterk songs (wat dit wel ook is)? Hoe belangrik is die rol van ’n album nog deesdae – in teenstelling met die sporadiese uitreiking van online singles, soos baie bands verkies? Hoe belangrik is dit vir jou persoonlik?

Die diversiteit van The Wake Up is wat die album spesiaal maak. Ek het met ’n klomp idees begin en dit so afgewerk na ’n gebalanseerde musikale stuk, wat uiters belangrik was om Albert Frost te verduidelik, tot ’n mate. Omdat ek so lank gewag het om die album te maak, kon ek al die beste idees gebruik. Dit was ’n bewuste besluit om rustige en "hectic" elemente saam te bring en dan natuurlik alles tussenin. Die uitdaging was om ’n formule te kry om al die invloede in een te sit en dit het baie lank gevat!

So, alhoewel dit baie divers is, kan jy nog steeds hoor dit is dieselfde kunstenaar, nie ’n ongeluk nie ... Die album vloei vir my perfek tot die punt waar ek met die vertonings met die "launch" die album van begin tot einde lewend opgevoer het.

Vir my was dit noodsaaklik om ’n vollengte-studio-album uit te bring as ’n "statement" van my ware self. Dit is baie moeilik om kunstenaars se "vibe" te vang van "singles" – mense is tog meer gekompliseerd as net drie en ’n half minute.

Die album bevat verskeie sterk snitte wat ’n mens as ''radio-vriendelik'' kan sien (dis eintlik ’n kak ou term daai – mens wil eintlik net sê dis een wat baie mense gaan “dig” en onthou en oor en oor luister). Vernaam die titelsnit, "The Wake Up", is een wat ’n mens nogal kan sien as ’n top-20- (top-1-?) treffer. Hoe werk jou liedskryfproses? Vind jy eerste jou "hook" of refrein en bou daarrondom, of wat is vir jou die vonk wat die res laat gebeur? Hoe verloop die geboorte van ’n lied by jou, van die oomblik waarin die eerste woord en akkoord neergesit word tot jy die laaste noot opneem? Hoeveel verandering vind plaas in daardie tyd?

Die befaamde klawerspeler Simon Orange het jare terug vir my gesê: "Al, the first rule of songwriting is there are no rules", en dit is werklik so. Vir my is dit gewoonlik eers ’n "hook" wat dinge aan die rol kry, maar dit kan ook ’n beeld, woord of net ’n gevoel vat om iets te vonk. Die groot uitdaging is om te kies hoe jy dit gaan laat klink, want daar is ’n duisend maniere om een ding te speel ... trial and error!

In jou lang loopbaan het jy al met ’n menigte verskillende kunstenaars opgetree en ook opgeneem. Mens sou raai dit het alles ’n unieke invloed gehad op jou eie styl as musikant en liedskrywer, en ook hoe jy dink oor musiek, songs en wat dit moet wees. Is daar spesifieke kunstenaars wat ’n besonderse invloed op jou gehad het? Hoe sou jy daardie invloed beskryf, in balans met die belangrikheid om jou eie stem en styl te behou en uit te bou?

Daar is werklik te veel om rêrig uit te brei. Kunstenaars en groepe soos Robin Auld, Simon Orange, Hunter Kennedy, Arno Carstens, Blues Broers, Springbok Nude Girls en Sugardrive het my definitief plaaslik beïnvloed.

frost2grootweb

Jy is nou al meer as 20 jaar een van die mees prolific musikante op die Suid-Afrikaanse toneel. Sommige kunstenaars is kwaai negatief oor die geleenthede (of gebrek daaraan) hier, ander is weer geweldig positief oor die hoë gehalte van feeste en dies meer. Wat is jou gevoel? Wat is vir jou kief aan die plaaslike musieklandskap, en wat suig? Hoe sal jy dit graag wil sien verander oor die volgende paar jaar?

Suid-Afrika is maar moeilik, om verskeie redes. Ek het baie hard gewerk en self gesukkel om te kom tot waar ek is. Diés wat negatief is, moet besef dit is baie werk. Ek het al ongeveer 2 500 vertonings agter die rug hier plaaslik, en dit beteken ek het elke geleentheid gebruik om op enige verhoog te klim net vir die ondervinding (al is dit partykeer net die bar staff wat jou hoor en sien)! Daar is wel baie musikante wat dieselfde doen en as gevolg hiervan is die kwaliteit van musikante baie hoog. Dit maak dit maar moeilik vir "average muso Joe" om vinnig ver te kom en ek dink dit is reg so. Mens kan nie net ’n drie-maande-kursus doen en verwag almal moet jou respekteer en al jou vertonings bywoon en al jou produkte koop nie. Die bedryf is iets wat jy moet verstaan, bewerk en gebruik. Ons land is baie klein en kompetisie is groot, so ons almal werk maar saam om mekaar te ondersteun.

Ons plaaslike feeste is van uitstekende gehalte en dit is iets waaroor ons baie trots kan wees. Mense besef glad nie wat dit vat om enige tipe fees bymekaar te sit nie. Dit is hoekom byvoorbeeld Oppikoppi onder die top tien beste feeste in die wêreld beskou word. As dit kom by verbetering van ons "scene" sou ek sê ons is op die regte pad, alhoewel dit ’n lang en stadige een is. Ongelukkig is Suid-Afrikaners min blootgestel aan internasionale kunstenaars se vertonings, so mense besef nie ons plaaslikes is net so goed of selfs baie beter as die meeste internasionale groepe nie. Dit maak dit baie moeilik om mense opgewonde te kry oor local musiek. Dit is wel besig om te verander, as gevolg van groepe wat meer en meer in Suid-Afrika kom speel. Solank musikante en kunstenaars getrou bly aan die musiek en musiek as geheel respekteer, sal alles regkom oor tyd.

Soos gemeld, het jy reeds ’n bitter ryk geskiedenis as musikant – plaaslik en internasionaal. Enige spesifieke hoogtepunte wat vir jou uitstaan as jy terugdink? Enige minder aangename herinneringe wat jy wens anders verloop het? En agter-die-skerms-stories wat mense nie glo as jy hulle vertel nie?

Die Spanje-Stones-ervaring was en is nog die mees surreal ervaring van my lewe. Bietjie soos om uit te hang met Santa Claus. Bizarre! Die dudes van Simple Minds was incredible – mens besef eers as jy sulke ervare groepe ontmoet hoe plat op die aarde jy moet wees om die bedryf te oorleef. Selfde met REM. Ek het ook probeer om met Michael Stipe ’n gesprek te voer en halfpad deur my praatjie oor hoe awesome die Cradle of Humankind is, besef ek hy's toe besig om my uit te check. Nie cool nie.

As dit kom by uiters spesiale ondervindings sal ek nooit vergeet die interview wat ek gevoer het met Kris Kristofferson nadat Griffin van WatKykJy? my gevra het om te help nie. Tussen vrae oor zol rook in die White House en toere met Willie Nelson en Johnny Cash het hy herhaaldelik gesê hoe gelukkig en geëerd hy is om musiek te kan maak. Wat ’n legende!

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Albert Frost, in so verre jy dit kan beheer?

Aanhou doen wat ek doen is aan die orde van die dag. Hopelik meer geleenthede vir toer oorsee en nog vele meer interessante samewerkings sal my gelukkig hou.

Wat is die sin van die lewe?

Lewe gaan gepaard met tyd. As jy konstant positief kan bly sal jy vorentoe beweeg en gelukkig wees. It's really as easy as that!

frost3grootweb

The post Albert Frost: "My soloprojek is gekompliseerd van aard" appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>