Die rockgroep Thieve is ná ’n betreklik lang stilte terug met ’n nuwe album, Extra Ordinary. Een van die drietal, Fred den Hartog, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Fred. Hoe's dinge?
Hallo Henry. Dit gaan uitstekend, dankie.
Baie geluk met die onlangse uitreiking van Thieve se nuwe album, Extra Ordinary. ’n Nuwe album deur Thieve is nie iets wat aldag gebeur nie – trouens, as ek reg onthou is dit maar Thieve se tweede album, met die eerste een wat 2008 rond verskyn het. Ek neem aan die lang wag het baie te make met jul betrokkenheid by ander projekte (jy en Sheldon by DHF, Andrew by aKING) en ander verpligtinge? Hoe lank beplan julle al aan ’n nuwe Thieve-album? Waarom het julle besluit om dit juis nou te doen? Hoe het die opnameproses met Thieve nou vir jou verskil van dit wat jy met ander projekte ervaar?
Ek en Andrew (Davenport) het van die dag wat ons mekaar ontmoet het in 2008 gewerk aan idees. Ons is ook goeie vriende en het saamgewoon in ’n huis in Oranjezicht.
Omdat ons toegang tot ateljees het, het ons weekliks nuwe idees opgeneem. Toe Sheldon ons gejoin het, het ons reeds baie idees gehad en boonop nog nuwe goed geskryf saam met hom op die tromme.
Op die ou end het ons te veel materiaal gehad en was geforseer om die beste 13 liedjies te kies vir die album, wat nogal lekker was. Ons het baie liefde ingesit, en ons is trots op die resultaat.
Extra Ordinary is heerlik divers – dit skop af met ’n soort somertreffer in "Wild Western Cape", galop deur harder snitte soos "Just to get by" en neem ook ruskans met talle meer intricate, minder beat-driven snitte soos "If it was all up to you". Is die uiteenlopendheid iets wat julle spesifiek wou skep op die album, of het dit toevallig so gebeur? Hoe het julle binne die groep tot ’n besluit gekom oor watter snitte moet bly en watter moet gly vir die album, en hoe dit moet vloei? Wou julle ’n spesifieke ''soort'' album uitreik met hierdie terugkeer, of hoe het daardie gesprekke verloop?
Ek dink die diverse gevoel is die gevolg van ’n vyf jaar lange tydperk van skryf. Die album is ook vervaardig en opgeneem oor ’n lang tydperk, omdat ons skryf en vervaardig op dieselfde tyd.
Toe die songs te veel raak, het ons holisties daarna gekyk, 13 gekies, klaargemaak en geplaas waar hul hoort.
Ons het wel van die begin af gesê ons wil ’n spesifieke Britse aanslag inneem en het getooi met verskeie klanke en verwysings (Blur, Orange Juice) en ander idees wat ons wil maak, hoor en voel.
Met ’n "reünie"-uitreiking soos dié (of ten minste wat met eerste oogopslag mag lyk soos ’n reünie-uitreiking) wonder aanhangers dikwels of dit ’n net-vir-die-pret-ding is, en of dit ’n volledige terugkeer vir die band beteken. Julle het ’n landswye toer aangepak vir die uitreiking van die album – is dit ’n teken dat Thieve met mening terug is? Wat voorsien jy op die oomblik vir Thieve, en hoe sien jy Thieve se plek op die plaaslike (en internasionale?) musieklandskap?
Ons is bitter opgewonde oor die album en sy potensiaal. Dit het baie beter uitgekom as wat enigeen van ons verwag het. Ons wil graag hê dat soveel mense moontlik die album moet hoor. Ons het ’n goeie span en ons mik om die band (en die songs) te push sover ons kan.
Uiteraard is julle almal teen hierdie tyd gesoute musikante. Hoe werk die liedskryfproses binne Thieve? Wie gooi die eerste woorde en akkoorde, en hoe werk die afrondingproses tot die laaste slypwerk gepleeg word? Hoe sou jy sê verskil hierdie proses deesdae van toe julle destyds as Thieve begin het? Hoe dink jy het jou betrokkenheid by DHF en ook jou rol as vervaardiger by ander kunstenaars se albums beïnvloed hoe jy deesdae daaroor dink?
Ons het baie oor en weer geskiet met idees, en agterna gesê wat's cool en wat's nie so cool nie. Die meeste van die lirieke is geskryf deur Andrew. Hy het my in werklikheid destyds blootgestel aan die nodige gereedskap om ’n vervaardiger te wees. Met Thieve se eerste album in 2008 het ek begin ernstig aandag gee aan musiekprogrammering, -verwerkings en -vervaardiging as ’n beroep. Die proses was egter met Extra Ordinary baie meer uitdagend as vantevore, omdat ons wou seker maak ons skep ’n unieke en outentieke klank.
Julle het ’n swetterjoel gaskunstenaars betrek by die album – van Hunter Kennedy, Francois van Coke en Jed Kossew tot Xander Ferreira. Natuurlik is dit kunstenaars wat julle teen hierdie tyd goed ken. Hoe was dit om in hierdie nuwe konteks met hulle saam te werk, en hoe het julle die spesifieke keuses vir die spesifieke snitte gemaak? Hoeveel “directing” dink jy moet daar vir ’n gaskunstenaar wees in so ’n konteks, of plaas jy hulle bloot voor ’n mikrofoon en kyk wat gebeur?
Dit was alles meer ’n "skryf-collab" liewer as ’n "guest performance". Ons sit saam met die gaskunstenaars met kitare, ’n klavier en/of enige instrument wat rondlê, speel dan deur idees en skryf die lirieke totdat dit mooi gefraseer is en almal gelukkig is met die rigting van die lied. Daarna gaan ons ateljee toe en neem dit op. Ons het die album in vyf verskillende ateljees opgeneem, so elke collab het soort van sy eie unieke storie.
Die Suid-Afrikaanse musiektoneel, waarin jy al ’n lang tyd geweldig doenig is, is beslis ’n unieke dier. Wat is jou gevoel oor die Suid-Afrikaanse scene, en ook die Afrikaanse scene? Wat is kief daaraan, en wat suig? Wat dink jy is die mees noemenswaardige verwikkelinge, veral in die post-MK-tyd, en hoe sal jy dit graag wil sien verander in die volgende paar jaar?
Ek hou daarvan as daar baie aan die gang is, en veral wanneer nuwe talent na vore kom. Ek dink almal like dit! My opinie is egter dat elke ou op sy eie manier kreatief moet wees en hard moet werk om homself te laat floreer. Daar is baie geleenthede, veral in Suid-Afrika.
Soos gemeld, was jy al in die voorste sitplekke vir talle musiekavonture (ons onthou nog Merry Melodies en Die Helde) en as lid van DHF, wat al ’n magdom toere aangepak het. En dan ook nog agter die skerms. Enige aande of oggende wat as hoogtepunte uitstaan? Enige tot dusver onbekende gebeure in dié tyd wat mense nie glo as jy hulle vertel nie? Enige gebeure wat jy eerder sal wil vergeet?
Ek (en baie van my vriende wat in bands speel) was al gedonner in Hatfield Square. Dit was ’n laagtepunt. Die hoogtepunt is dat ek doen wat ek wil elke dag.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Thieve en vir Fred den Hartog, in so verre jy dit kan beheer?
As jy in ’n band is, moet jy gig. So dit sal ons doen, beslis. Nog nuwe musiek is op pad – ons is klaar aan die skryf. Ek is ook besig met Arno Carstens se debuut Afrikaanse album en ’n paar ander projekte.
Wat is die sin van die lewe?
42?
The post Thieve: "As jy in ’n band is, moet jy gig" appeared first on LitNet.