Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument bied weer hul gewilde reeks kursusse en werkswinkels in die Paarl aan. Die reeks fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Rekordbestuur- en Argiefwerkswinkels vind in Julie plaas, Boekherstelkursusse in September, en ‘n “Skryf beter Afrikaans”-werkswinkel later in die jaar.
- Die Inleidende Rekordbestuurwerkswinkel (4 tot 5 Julie) en die Inleidende Argiefwerkswinkel (6 tot 8 Julie) is geskik vir bibliotekarisse, museum- en erfenisbeamptes, rekord- en dokumentering en argief-assistente. Dit word aangebied deur Pétria de Vaal-Senekal, ‘n gekwalifiseerde argivaris en rekordbestuurder met baie jare ervaring in die veld. Die werkswinkels sluit praktiese sessies in. Die Rekordbestuurwerkswinkel fokus op wetlike verpligtinge, liasseerstelsels, elektroniese dokumentstelsels, en beleid en prosedures. Die Argiefwerkswinkel fokus op insameling en aanwins, waardebepaling, sortering, indeksering, bewaring, rampbestuur, en die ontsluiting van argiewe.
- Die Inleidende Boekherstelkursus (19 tot 21 September) en die Gevorderde Boekherstelwerk (22 tot 24 September) word aangebied deur die boekherstelspesialis Peter Packery. Geen vooraf kennis word vir die inleidende kursus benodig nie. Die gevorderde kursus is geskik vir deelnemers wat reeds basiese boek- en papierherstelwerk onder die knie het.
Vir meer inligting, kontak Amira Clayton by tel 021 863 0543/4809 of stuur ‘n e-pos na kommunikasie@taalmuseum.co.za.
The post Leer oor argiewe en boekherstel appeared first on LitNet.