Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
Maria de la Quellerie het op ‘n jong ouderdom in Batavia gesterf, net 35 jaar oud. ‘n Begaafde klavichordspeler en perfek as kommandeursvrou, omdat sy gemaklik hoë amptenare kon onthaal wat Kaap de Goede Hoop aangedoen het. Maar haar lewe was vol pyn omdat die meeste van hul agt kinders vroeg gesterf het in die 15 jaar wat sy getroud was. Haar pa, Abraham, was ‘n predikant in die Franse Protestantse beweging wat as kettery gebrandmerk was. Wonder wat sy sou gedink het van die lot wat uiteindelik haar mense in die pragtige valleie van die Boland sou tref.
In 1685 is ‘n vredesverordening rakende die Franse Protestante opgehef en vervolging het meegebring dat duisende gesinne as Hugenote uit die land gevlug het. ‘n Kommissaris van die Kaap is daarheen gestuur om toevlug aan te bied, en sowat 180 gesinne het dit tussen 1688 en 1690 met dankbaarheid aanvaar. Hul nuwe plase het knus tussen die Hollanders s’n genestel met Franschhoek in die middel. Maar dié gasvryheid het met ‘n prys gekom. Ja, hulle kon na hartelus Bordeaux-wyne maak, maar die Hollands Oos-Indiese Kompanjie wou //Hui-!gaeb (die Kaapse Khoi-naam vir “Die plek waar die wolke vergader”) op alle gebiede beheer. Onttaling het 'n magtige wapen geword.
Vanaf 1701 het die HOIK ‘n streng taalbeleid begin toepas: in skole en die staatskerk is slegs Hollands toegelaat; Frans is verbied in openbare vergaderings en alle amptelike korrespondensie moes in die taal van die maghebbers wees. Die gevolg? Teen die middel-1700’s het die Hugenote hul huistaal begin vergeet en hul kennis daarvan was iets van die verlede. Erger nog, hulle het as unieke gemeenskap met ‘n uitsonderlike identiteit en leefwyse verbrokkel. ‘n Logiese gevolg, omdat taal nie net ‘n kommunikasiemiddel is nie, maar gekoppel is aan identiteit en kultuur. Dit alles het niks met ras te doen gehad nie. Eerder magsmisbruik en manipulasie. Ondertrouery met die bure het ook tot hul onttaling bygedra. Of het hulle maar gehensop? Villion het immers Viljoen geword.
Ditto die Khoi-San. Xiri (of Gri), die oertaal van die #Karixurikwa – wat later bekend sou staan as die Griekwas – het lankal uitgesterf. Hele taalfamilies, soos Ju en !Ui- Taa, is daarmee heen. Die taal van die Koranas en Soakwas – weg. Net twee het oorleef: Nama en !Nu van die Kalahari-Boesmans. Oumense vertel nou nog hoe hul voorouers van Nama 'n "skindertaal" gemaak het deur dit net te praat wanneer hulle alleen was. So het hulle hul kinders beskerm teen swaar strawwe by die skool en kerk. Vandag word Namagowab formeel as skoolvak in sommige Noord-Kaapse skole aangebied en !Nu informeel in vrywillige taalklasse. Ouma Elsie Vaalbooi was die laaste van ‘n handjievol oorlewende sprekers van !Nu toe PanSAT rondom 2000 ingegryp het en dit op band vasgelê het.
GS Nienaber noem in sy boek Khoekhoense Stamname dat sekere clans vermeng geraak het met Europeërs en die Westerse leefstyl verkies het. Natuurlik moet 'n mens die heersende magsverhoudinge van daardie tyd begryp. Verwestersing het beter weigronde, werksgeleenthede en status meegebring. Met perd en Bybel het stamme soos die Basters en Oorlamme al meer ‘n vroeë vorm van Afrikaans, naamlik Hottentots-Hollands, in eie geledere gedryf. Teen die 1800’s het ons oertale min of meer verdwyn binne die grense van die Kaapse Kolonie. Dus: nie net die strenge onttalingstrategie van die HOIK was vir die verdwyning van ons oorspronklike tale verantwoordelik nie, maar van ons voorouers het self meegehelp om Afrikaans te vestig. Ten koste van die eie. Dié ironie wek teenstrydige gevoelens by my.
Die teenstrydigheid lê in die feit dat Khoi-vissergemeenskappe vanaf die laat 1500’s ‘n gebroke marktaal begin ontwikkel het met die verbygaande Europeërs wat op pad na die Ooste was: die moeisame geboorte van Afrikaans. Al meer Portugese, Engelse, Hollanders, Franse en ander het ruilhandel aangegaan met die veeryke inboorlinge aan die suidpunt van Afrika. Die fokus was op geldmaak, maar hoe praat jy besigheid as julle nie mekaar kan verstaan nie? Taalvaardigheid was ‘n absolute moet. Geen wonder dat die Engelse die leier van die Goringhaikwa, !Kora, met sy krale teen die hange van Hoeri ‘kwaggo (Tafelberg, soos wat die Hollanders die “Berg by die See” herdoop het) teen sy wil vanaf 1613 tot 1614 na Londen geneem het nie. Hy moes ‘n tolk word. Met dieselfde doel in gedagte het hulle vanaf 1631 tot 1632 die leier van die klein Goringhaikona-vissergemeenskap na Java geneem. Autshumao is (spottenderwys?) King Harry genoem wat later “Herry die Strandloper” vir die Hollanders geword het. Die punt is dat taalbeheer in die hande van die koloniseerder ‘n belangrike wapen was en die onttaling van die gekoloniseerde ‘n selfs magtiger een.
Uiteindelik, vertel Christo van Rensburg in sy So kry ons Afrikaans, begin die GRA vanaf 1875 orde uit die warboel van variëteite skep en kom te vore met ‘n kragtige wetenskapstaal. Die Khoikhoin en slawe se bydraes was opgeneem in Standaardafrikaans, maar nie erken nie. En dan praat ons nie van ‘n woordjie hier en ‘n uitdrukking daar nie. Volgens Nienaber het Afrikaanssprekende Khoikhoin “ook tot die vorming van die taal bygedra, sy aard, karakter en seggingskrag. Ons weet van Oud-Hessekwa te Genadendal wat in die middel-1800’s al Afrikaanse nuusbriewe en maandblaaie uitgegee het – nogal met hul eie drukpers. Meer nog, toe lord Charles Somerset vanaf 1822 Engels as die enigste skooltaal probeer deurdruk, het die Genalers hul daarteen verset. Die Khoi-San is vandag ‘n volledig Afrikaanssprekende gemeenskap. Wanneer Breyten Breytenbach dus skryf: “Wat gaan dan word van die opkomende geslag jong mense in die Karoo en die Klein-Karoo en die Bokkeveld en Namakwaland en die Overberg en die Vlakte en die Boland?”, verwys hy bedoeld of onbewus grootliks na die nasate van die Khoi-San.
Onttaling is ‘n lang, uitgerekte sterfbed, en ‘n gesonde uitlewing van die taal is die enigste manier om dit te verhoed. Verset vorm deel hiervan. Daarom vererg ek my vir mense in verantwoordelike posisies en poste wat verengelsing nie net toelaat nie, maar bevorder, weens “transformasie”; “te min Afrikaanse teksboeke”; “vertaling neem te lank of is te duur”; “die ouers, kinders en studente verkies Engels”; “meertaligheid is onprakties”; blablabla. Ons sal nooit met so ‘n hensophouding die taal as erfenis lewend hou nie. In sy wese is onttaling ‘n magspel met manipulasie as doel. Dis soveel makliker om mense in een (lees: vreemde) taal te manipuleer as om hulle toe te laat om krities in hul moedertaal te dink.
Dis ‘n polities-gedrewe proses. Kyk maar hoe Afrikaanse enkelmediumskole geleidelik parallelmediumskole word en uiteindelik volledig verengels. Na onttaling volg ontsteltenis, ontnugtering, ontgogeling, ontheemding, ontbering, onteiening, ontmagtiging, en vir ons kinders se kinders se kinders: onterwing. Nóú is die laaste kans om die drywers en medewerkers van onttaling te stop, anders gaan ons nageslag eendag in argiewe lees van die eens-bestaande Afrikaanse gemeenskap … as onttaaldes.
Willa Boezak
The post Ont-taling appeared first on LitNet.