...
Die agape-liefde sou ek sê kom eers later, lank na eros. Eros is die eerste vonk, die deel waaroor ek so graag skryf, en dis belangrik,
...
Elsa, jy skryf baie en jy skryf met baie variasie, maar het jy al ooit ’n boek geskryf wat nie oor die liefde gaan nie?
Ek het vanjaar ’n boek met dagstukkies saam met my sus, Sonja Goldberg geskryf, Leef jou nuwe lied (Lux Verbi). Arendsvlerke vir Siebert (Luca), wat ook vanjaar verskyn het, het verslawing as tema – dis dus nie ’n gewone liefdesverhaal nie, alhoewel daar ’n liefdesverhouding ter sprake is.
Ek weet jy skryf in Engels én in Afrikaans. Net vir perspektief: Hoeveel boeke het jy al geskryf?
53 in Afrikaans en agt Engels. Daar is ook ’n kinderboek en nog een word in die nuwe jaar uitgegee.
Ek wil jou graag oor twee onlangse werke invra. Kom ons begin by ’n Liedjie vir Anine. Hier meng jy ’n spanningsverhaal met ’n liefdesverhaal. Daar is jagende karre en slim tegnici wat ingespan word. Jy bou selfs ’n tipiese cliffhanger in. Lekker. So leen jy idees by spanningskrywers vir jou liefdesverhaal. Hoe het dit gebeur?
’n Liedjie vir Anine is die derde storie in ’n reeks van drie wat handel oor die manier waarop sibbe die wrede dood van hulle sus hanteer. Anine is ’n joernalis en kom agter sy word agtervolg. Ek is ’n groot aanhanger van Agatha Christie se stories. Sy het die wonderlike vermoë gehad om menslike gedrag goed te verstaan – iets wat my baie interesseer – en ek dink iets daarvan slaan af en toe deur in ’n storie.
Die manlike hoofkarakter is ’n sanger wat allerlei avonture beleef – sommige goed en ander aaklig. Ek wil my verstout om te dink dat Zander Breedt gebaseer is op jou seun. Is ek reg?
Roem is ’n eienaardige situasie en die “verheerliking” (adulation) van ’n sogenaamde beroemde raak uiteindelik moeilik om te hanteer. In die tyd toe Heinz Idols gewen het, was daar ’n baie interessante artikel juis oor hierdie onderwerp. Ek onthou een stelling uit die artikel so goed: “Eventually adulation becomes unbearable.” Vir die storie het ek baie met Heinz oor musiek gesels en hy het my baie gehelp om te verstaan hoe die proses werk om ’n album te maak. En ja, daar is van die situasies wat Zander beleef wat hy ook beleef het.
Ek weet jy doen baie moeite om jou karakters te leer ken, met Pinterest-borde en dies meer. Anine Vos, wat uiteindelik Zander se klank weer vir hom teruggee, is ’n oulike meisie en joernalis. Het jy ’n “model” vir haar gehad?
Ek hou daarvan om ’n prentjie in my kop te hê wanneer ek karakters skep – prente/foto’s op Pinterest help hiermee. Ek gebruik ’n A3-notaboek waarin ek vir myself notas maak oor die karakters van die storie waarmee ek besig is. Dit help dikwels wanneer ek in die middel van die storie vasval en nie weet waarheen die storie op pad is nie. Wanneer ek dan weer na die notas en die prentjie kyk en die karakter se eienskappe en geite onthou, vloei die storie weer makliker. Die foto’s of prente is teen die rak bokant die lessenaar terwyl ek aan die storie werk en agterna plak ek die prentjies by die notas. En ja, Anine en Zander se foto’s pryk by my notas oor die storie.
Ek wil ook ’n ander onlangse roman nader trek, naamlik Arendsvlerke vir Siebert. Dit gaan oënskynlik oor ’n seun wat aan dwelms verslaaf is, maar uiteindelik seëvier die liefde in soveel verskillende vorme in hierdie boek. Hoe het hierdie boek gebeur?
Jy het die eerste saadjie vir die storie gesaai, Izak, nog terug in 2018, as ek reg onthou. Ek en Heino du Plessis het ook lank gesels oor wat in die storie sal kan werk. Die opdrag was uiteindelik om ’n storie oor verslawing te skryf, maar om ook ’n boodskap van hoop oor te dra. Ek was baie skepties toe ek met die storie begin het. Ek het al so baie gesien hoe gesinne sukkel wanneer een van die lede met dwelms deurmekaar raak, maar in my soeke na antwoorde het ek tog onder die indruk gekom daar is wel hoop vir verslaafdes, soos heelwat nuwe navorsing bewys. En vir ’n Christen is daar altyd die hoop van bonatuurlike krag en hulp wanneer jy dit nodig het.
Beide ’n Liedjie vir Anine en Arendsvlerke vir Siebert het ’n grondige Christelike inslag. Tog het ’n Liedjie vir Anine onder die gewilde LAPA-druknaam verskyn, terwyl Arendsvlerke vir Siebert onder Luca verskyn het. Luca behoort aan dieselfde stal en word deur dieselfde mense bedryf. Het jy iets met hierdie besluit te doene gehad?
’n Liedjie vir Anine en die res van die reeks is ’n heruitgawe wat voorheen by ’n ander uitgewer verskyn het. As ek reg onthou, is die eerste twee stories, Ware noord en Om weer te droom, weer deur LAPA uitgegee nog voor Luca bestaan het.
As ek die verskil tussen die twee mag uitlig, sou ek sê dat ’n Liedjie vir Anine gaan oor mense wat hulle geloof baie ernstig opneem, maar dat Arendsvlerke vir Siebert gaan oor ’n ma en ’n seun wat worstel met geloof, dan God se liefde ervaar. Klink dit aanvaarbaar?
Ek dink in beide stories word mense se geloof getoets. In Arendsvlerke vir Siebert is die “toets” weliswaar ’n bitter moeilike, uitmergelende pad, maar om die dood van ’n sib te verwerk is ook ’n baie moeilike stryd. Ek het heelwat daaroor gelees en onder die indruk gekom hoe groot die leemte is wat ’n broer of suster se dood veroorsaak. Die dinamiek in ’n gesin verander vir altyd en gesinslede sukkel lewenslank om die “gat”, die gemis te verwerk.
Arendsvlerke vir Siebert bied geen maklike godsdiensoplossings nie. God word nie voorgeskryf soos ’n pilletjie wat jy soos iets vir hoofpyn kan sluk nie. Godsdiens word eintlik nie eers as die antwoord voorgehou nie. Die pastoor laat die gesin, nie net die seun nie, besef dat hulle self moet opstaan vir God om hulle te help. Is ek reg?
Daar is verskillende skole met verskillende idees oor wat uiteindelik iemand wat verslaaf is, kan help. Sommiges reken die verslaafde moet “rock bottom” bereik, terwyl ander ’n saak uitmaak om iemand eerder te help voor daardie punt bereik word, want dis dikwels dan reeds te laat. Na al my soeke na antwoorde weet ek dis belangrik om iemand wat verslaaf raak, by die regte mense te kry wat kan help en ek weet ook g’n mens kan die pad stap sonder jou hand in die Here s’n nie.
Ek het ook groot waardering gehad vir die pastoor se liefdevolle manier waarop daar na ’n gay seun verwys word – kom ons verklap nie daardie deel van die storie nie. Wel wil ek vra oor liefde versus verdoemenis, laasgenoemde wat te gereeld deur Christene gebruik word om ander seer te maak. Het jy ’n rolmodel gehad vir hierdie pastoor toe jy oor daardie onderwerp geskryf het?
Ek dink dis my eie siening wat hier deurskemer – ek glo as Christen is my rol om lief te hê – ’n siening wat radikaal met baie ander s’n verskil. Siebert se ma verseker hom sy pa aanvaar alle mense soos hulle is en hy sou beslis nie ’n probleem gehad het met iemand wat gay is nie.
In beide Arendsvlerke vir Siebert en ’n Liedjie vir Anine is agape-liefde dus belangrik, en dan eers word mense verlief. Is ek reg?
Die agape-liefde sou ek sê kom eers later, lank na eros. Eros is die eerste vonk, die deel waaroor ek so graag skryf, en dis belangrik, maar soos CS Lewis so mooi skryf in sy boek oor die Griekse terme vir liefde, The four loves, “Eros needs a nest of storge.” Storge is die warm gevoel wat jy kry wanneer jy byvoorbeeld van musiek hou, of wanneer jy by jou gesin is. Maar ja, die agape-liefde word in beide boeke weerspieël – die liefde wat nie oor jouself gaan nie, maar oor die ander persoon. Ek hou ook so van die Hebreeuse woord “hesed” – amper eerder ’n werkwoord, wat die pa beskryf wat nagte lank rondry in die stad op soek na sy kind en hom uiteindelik in ’n hool kry.
Jy het vroeër Ware noord en Om weer te droom geskryf. Was hulle anders as Arendsvlerke vir Siebert en ’n Liedjie vir Anine?
Ware noord en Om weer te droom en ’n Liedjie vir Anine vorm ’n reeks. Alhoewel al drie oor geloofkrisisse handel en ook aan die onderwerp van mishandeling van vroue raak, is die liefdesverhaal in al drie die stories die fokus. In Arendsvlerke vir Siebert is die liefdesverhaal ’n bysaak, die fokus is op die agteruitgang van die verslaafde en die moeilike pad wat sy mense noodwendig moet stap om by ’n oplossing uit te kom.
Om verlief te word is natuurlik iets wat noodsaaklik is vir Romanza, die druknaam wat in romanse spesialiseer. Jy is ’n doyenne van hierdie genre en is vereer met ’n versamelitem waarin twee van jou gewildste romanses opgeneem is. Dit was seker lekker?
Jy praat van die nostalgie-Romanzas? Ja, dit is ’n groot lekkerte. Ek bly dankbaar vir lesers wat mal is oor ons stories en ons selfs in moeilike tye ondersteun.
Dan was daar boeke soos Vir ewig my altyd wat heelwat dikker is as die gewone Romanza. Hoe het so ’n boek verskil van iets soos ’n Liedjie vir Anine?
Bewustelike joune en Vir ewig my altyd is twee van die SuperRomanzas wat LAPA op ’n stadium uitgegee het. Soos die gewone Romanza fokus die stories op die ontwikkelende liefdesverhouding tussen die hoofkarakters, maar omdat die SuperRomanza 75 000 woorde lank is, is daar meer ruimte om dieper in karakters te delf en om verskillende onderwerpe te ontgin. In Bewustelik joune word die heldin wreed aangerand en wat haar uiteindelik help, is bewustelikheid (mindfulness). Die held in die storie is weer ’n ultramaratonatleet, ook ’n heerlike onderwerp om oor te skryf. Alhoewel ’n Liedjie vir Anine ook ’n liefdesverhaal is en die fokus op die ontwikkelende verhouding bly, word die element van geloof en geloofsvertwyfeling ook ingebring. Dis ook ’n langer verhaal as die gewone romanse en daar is meer geleentheid om geloofkwessies te ontgin.
By ROSA, die Romance Writers Organisation of Southern Africa, doen jy heelwat vir jonger skrywers. Hoekom sou jy tyd spandeer om ander in dié genre te help?
Ek het aanvanklik baie moeite gedoen om veral ook Afrikaanse romanseskrywers by die organisasie te betrek. Ek is nie deesdae meer so betrokke nie, maar dis vir my heerlik om te sien hoe baie nuwe en jonger skrywers nou deel is van die organisasie. ROSA skep so baie geleenthede waar gesels word oor ons gunstelingonderwerp, die liefde. Daar is soveel talent daar buite; soms het iemand net ’n helpende hand nodig.
Jy het ook al ’n erotiese romanse die lig laat sien – Liefde in die tyd van Corona het genoeg stoom in gehad om enige virus hok te slaan. So hier kom eros ook ter sprake in jou palet? Dis nie juis asof erotiek afwesig is in jou Romanza-boeke nie. Was dié een anders?
Ek het ook al vir NB Uitgewers meer stomende stories geskryf, so dit was nie vir my heeltemal nuut nie. In die Romanzas is daar wel stomende tonele, ja, maar die klem bly op die ontwikkelende liefdesverhouding, terwyl in ’n meer stomende storie soos Liefde in die tyd van Corona is die fokus op die lyflike, alhoewel die liefde uiteindelik seëvier.
Heelwat van jou boeke word vir die oorsese mark geskryf. Hoe vergelyk Suid-Afrika se smaak vir die liefde met wat jy oorsee ervaar?
Die Engelse mark is baie anders. Daar is, om mee te begin, baie meer subgenres – enigiets van paranormaal tot cowboys tot bikers tot shift shapers – en elke genre het sy eie konvensies. Wat genoem word die “heat level” (hoe stomend die storie is), verskil ook hemelsbreed. Wat in Afrikaans as taamlik stomend gesien word, sal in Engels as ’n 3 uit 5 beskryf word. In erotika word hoegenaamd niks aan die verbeelding oorgelaat nie; sekstonele word in detail beskryf; geen eufemismes word gebruik nie. Aan die ander kant is “sweet romance” en selfs ook “inspirational romance” ook baie populêr en is daar ’n geweldig groot mark daarvoor. Baie van dié romanses word byvoorbeeld opgeraap en verfilm deur Hallmark en die nuwe GAC-kanaal.
Lees ook:
Leef jou nuwe lied deur Elsa Winckler en Sonja Goldberg: ’n onderhoud met die skrywers
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: ’n Brief vir Reina deur Elsa Winckler
Arendsvlerke vir Siebert deur Elsa Winckler: ’n lesersindruk
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Bewustelik joune deur Elsa Winckler
The post Elsa Winckler, iemand wat lief is vir die liefde appeared first on LitNet.