Carolyn Meads gesels met Naomi Meyer oor liefdesverhale.
Carolyn, jy is uitgewer van liefdesverhale by NB-Uitgewers. Wat behels jou werk?
Ek bestuur die proses waartydens manuskripte in boeke verander word. Dit behels onder meer dat ek manuskripte beoordeel wat aan ons voorgelê word, dit aan eksterne keurders stuur indien dit potensiaal toon, en die voornemende skrywers van terugvoer voorsien.
Indien ’n geskikte manuskrip onder die voorleggings gevind word of wanneer ek ’n manuskrip van een van ons gereelde skrywers aanvra, werk ek met die skrywer om die storielyn te ontwikkel. Wanneer ek en die skrywer met die storie tevrede is, stuur ek die manuskrip aan ’n eksterne redigeerder. Daarna gaan die manuskrip na iemand wat die proewe uitlê. Ek stuur die proewe na ’n proefleser en ek proeflees ook dikwels self. Tussendeur werk ek ook met ’n omslagontwerper om die omslae gereed te kry. Uiteindelik gaan die boek drukkers toe en beland op winkelrakke.
Onlangs het ons ’n liefdesverhaleveldtog geloods wat onder meer behels dat ek as “hartsvriendin” op ons spiksplinternuwe Liefdesverhaleblog met lesers gaan kommunikeer. Ons wil graag ’n gemeenskap rondom ons liefdesverhale skep.
Ek gee inderdaad meestal liefdesverhale by NB-Uitgewers uit, maar my titel is eintlik redakteur van Queillerie. Behalwe liefdesverhale gee ek ook tans digkuns, vertalings en chick-lit uit.
Wys my 'n roman waar die liefde nie 'n rol speel nie. Selfs in Anita Brookner wat onlangs oorlede is, se stil romans was die weglaat/afwesigheid van romantiese liefde juis so sigbaar. Wanneer beskou jy 'n teks as 'n liefdesverhaal teenoor 'n literêre werk waar die liefde 'n groot rol speel?
In ’n liefdesverhaal speel die liefdesverhouding nie net ’n rol nie – dit ís die verhaal. Die storie gaan daaroor dat twee mense ontmoet, toenemend tot mekaar aangetrokke voel, maar ook al hoe meer struikelblokke in die pad van hul ontluikende verhouding ervaar. Hulle raak op mekaar verlief en word lief vir mekaar en wanneer al die uitdagings in hul pad oorkom is, leef hulle lank en gelukkig saam.
Lesers van liefdesverhale weet dat die held en heldin op die ou einde gelukkig saam gaan wees, maar hulle weet nog nie hoe die oënskynlik onoorkomelike struikelblokke uit die weg geruim gaan word nie. Die leser kan haar in die rol van die heldin verbeel en word sáám met die hoofkarakter op die held verlief. Sy beleef weer al die emosies van ’n eerste ware liefde deur in die heldin se kop te klim. Nie net die fokus van ’n liefdesverhaal is anders nie, maar ook die rede waarom dit gelees word. Dit dien as ontspanning en bied ontsnapping van die werklikheid.
Daar bestaan 'n algemene persepsie dat dit maklik is om 'n slapbandliefdesverhaal te skryf. Dink jy dis waar?
Dit is beslis nie so maklik soos wat ’n mens sou dink nie. Om voortdurend op ’n geloofwaardige manier die spanning tussen die held en die heldin te behou, verg vernuf. Boonop word daar van ’n liefdesverhaalskrywer verwag om die emosie van ’n ontluikende romantiese verhouding so getrou uit te beeld dat die leser dit ervaar asof sy sélf weer van voor af verlief raak – nie ’n eenvoudige taak nie.
Verder bied die skep van karakters en ruimtes, die skryf van dialoog en die aanwend van perspektief net soveel uitdagings by ’n liefdesverhaal as by die skryf van enige ander fiksiegenre.
Liefdesverhale is wel ’n genre wat toeganklik is vir nuwe skrywers omdat dié verhale korter as ’n roman is (ons verhale is 55 000 woorde lank) en ’n bepaalde patroon volg. In die hande van die beste liefdesverhaalskrywers, wat hard daaraan werk om die genre te bemeester, word daar egter wondere met dié basiese patroon verrig.
Waar is al die manlike skrywers? Of liefdesverhale uit die man se perspektief?
Dit gebeur wel dat mans ook liefdesverhale skryf; toegegee, hulle is in die minderheid. En statistieke van ’n Romance Writers of America-studie in 2014 het getoon dat 16% van Amerikaners wat romantiese fiksie koop, mans is.
Hoewel romanses tradisioneel uit die heldin se perspektief vertel word, wissel NB-liefdesverhale se skrywers soms die held en die heldin se perspektief in hul boeke af. (Net nie voortdurend in dieselfde toneel nie, want dan gaan die redakteur raas!) So, daar ís boeke wat voorsiening maak vir lesers (vroulik én manlik) wat die held se kant van die storie ook wil hoor.
Jy werk ook met die heruitgawe van ouer liefdesverhale in omnibusse. Hoe het liefdesverhale oor die jare verander?
Soos die samelewing verander het, het liefdesverhale ook aangepas. Die verhouding tussen die held en heldin is vandag op ’n meer gelyke voet. Die heldin word nie op vyf-en-twintig al as ’n oujongnooi gesien nie, sy is dikwels net so (of meer!) beroepsgedrewe as die held en om te trou en kinders te kry is nie noodwendig haar grootste hartsbegeerte nie. Die held is sterk, maar nie oordonderend nie, en hy kan maar sy sagte kant wys. Geen moderne vrou gaan op ’n man verlief raak wat nét met haar baklei nie – hy moet darem op ’n stadium sy skanse laat sak en sy liefdevolle, goedhartige eienskappe wys.
In ons Satyn-reeks is seks ook nie so taboe soos dit in ouer liefdesverhale was nie. Van toeka tot nou bly die kern van hierdie verhale egter die liefde.
Die ouer verhale is tog mooi en steeds gewild, en daarom gee ons die omnibusse uit. Vir sommige mense het dit nostalgiese waarde en vir ander bied dit ontsnapping na ’n vervloë tyd wat nie vir hulle so bekend is nie.
Weet jy waar liefdesverhaalskrywers hul idees kry?
O, ja! Nes ander skrywers leen hulle ’n ietsie hier en ’n ietsie daar uit dinge wat hulle hoor en waarneem. Wanneer jy ’n liefdesverhaalskrywer ontmoet, gaan sy jou waarskynlik een of ander tyd vra hoe jy jou ander helfte ontmoet het. Natuurlik gee dié skrywers ook hul verbeelding vrye teuels. Alles kom darem nie uit persoonlike ervarings nie! Net so min as wat ’n misdaadskrywer self moorde pleeg.
Liefdesverhale is wêreldwyd ’n topverkopergenre. Waarom is dit so gewild?
Ek haal graag uit Kristan Higgins se artikel in Publishers Weekly van Augustus verlede jaar aan om hierdie vraag te beantwoord: “This is a billion-dollar industry, and it’s not built on vapidity and cliché. It exists and thrives because romance authors offer readers an emotional experience that mirrors an elemental desire in life: to find a constant and loving companion; to become our best selves; to forgive our mistakes of the past and learn from them.”
Dink jy liefdesverhale behoort resenseer te word?
Waarom nie? Mits die resensent die genre ken en dit daarvolgens beoordeel.
Oorsee is daar allerhande subgenres vir liefdesverhale: van romanses met ’n spanningselement tot verhale met bonatuurlike karakters soos vampiere. Sal só iets in Afrikaans werk?
Image may be NSFW.
Clik here to view.Wel, verskeidenheid is glad nie ’n slegte ding nie. Ons probeer tot ’n mate vir verskillende leesvoorkeure voorsiening maak met ons drie reekse: Melodie, Hartklop, en Satyn. Romantiese verhale met tradisionele waardes word onder Melodie uitgegee; liefdesverhale wat teen ’n mediese agtergrond afspeel, val onder Hartklop; en die Satyn-druknaam is vir sexy liefdesverhale wat die moderne vrou se begeertes weerspieël. Ons het ook al liefdesverhale met ’n spanningselement uitgegee, byvoorbeeld Amelia Strydom se Middernagmusiek.
Of verhale met bonatuurlike karakters in Afrikaans sal werk, is ek nie seker nie, maar dit hang natuurlik af van hoe goed dit geskryf is. Die klem moet steeds op die ontwikkeling van die liefdesverhouding wees. Wie weet? Dalk beland daar eendag so iets op my lessenaar!
Vertel bietjie van NB-Uitgewers se nuwe sakpasliefdesverhale wat van hierdie maand af op die mark gaan wees?
Ons het pas ons drie jongste liefdesverhale in ’n nuwe handsakgrootte formaat uitgegee. Ná deeglike marknavorsing het ons besluit om die internasionale tendens vir liefdesverhale te volg en ons s’n in hierdie kleiner formaat (111 x 178 mm) uit te gee, ideaal vir lesers wat ’n lekkerleesstorie oral met hulle wil saamneem.
Image may be NSFW.
Clik here to view.Boonop gaan dié nuwe grootte met ’n sakpasprys gepaard: Ons liefdesverhale word nou teen die uiters mededingende voorgestelde verkoopsprys van R80 aangebied.
Ons stel die nuwe voorkoms met drie verhale deur van ons gewildste skrywers bekend: Wat die hart begeer deur die ATKV-Woordveertjiewenner Amelia Strydom (Satyn), Geheime liefde deur die gesoute skrywer Malene Breytenbach (Satyn), en Sag fluister my hart deur die immergewilde veteraan-liefdesverhaalskrywer Schalkie van Wyk (Melodie).
Ons het hierdie maand ook nuwe omnibusse op die rak, naamlik Ena Murray Keur 9, Susanna M Lingua Gunstelinge 5 en Hartklop Omnibus 2. Die omnibusse se grootte bly egter onveranderd.
The post Maanskyn en rose? 'n Gesprek oor liefdesverhale appeared first on LitNet.