Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Veerkragtigheid inspireer: ’n Resensie van Skeef deur Renaldo Schwarp

$
0
0

Titel: Skeef: Wat jy van LGBTIQ-wees wil weet
Skrywer: Renaldo Schwarp
Uitgewer: Wenkbrou, ’n afdeling van Penguin Random House South Africa (Edms) Bpk
ISBN: 9780639604251

...
Ek vind dit wel meer waardevol om dié boek in te klee met stories van LGBTIQ+-mense wat ons veerkragtigheid as gemeenskap wys. Ek hoop dat hierdie mense se sigbaarheid ander sal inspireer om kasdeure oop te skop.
...

Dalk apokrief, maar Pablo Picasso is glo gevra waarom sy Renoir skeef hang, waarop hy blykbaar geantwoord het: “Dis beter so. As jy ’n skildery wil doodmaak, is al wat jy moet doen om dit mooitjies reguit aan ’n spyker te hang en gou sal jy niks behalwe die raam sien nie. As dit uit sy plek is, sien jy dit beter.”

Ons Afrikaanse gays kan bly wees die mediapersoonlikheid Renaldo Schwarp wou nog altyd raakgesien wees en dat hy sy kleintydse andersheid en voorliefde vir tekenprent-Tarzan se lyf en blinkertjies aangegryp het sodat sy veelgeprese dokkiereeks Skeef mettertyd kon verskyn en hy pas ook ’n nuttige gelyknamige boek kon skryf. In stede van vergeetbaar waterpas aan die spyker bly hang, het hy sy skeef-wees dapper van die haters teruggeëis en sy sprankelende persoonlikheid en flambojante lewensuitkyk omgetower in loopbaansukses en ’n positiewe kwaliteit. Met dryfkrag, wysheid en insig verby sy jare – alles voor 30!

Dié oudleerling van die Hoërskool Centurion het ’n Maties-dramagraad en nagraadse onderwyskwalifikasie. Hy verskyn gereeld op die kassie en saai deesdae vanuit Bloemfontein vir OFM uit. Hy deel in Skeef: Wat jy van LGBTIQ-wees wil weet in ’n informele, spitsvondige skryfstyl sy eie reis met sy seksualiteit en uitkomstorie sowel as praktiese raad en verhale, in hul eie woorde, van bekendes en van sy vriende oor wat dit beteken om gay te wees. Hy kyk na die leefwêreld van mense op die LGBTIQ-spektrum, en bied historiese en internasionale konteks en ’n woordeskat vir familie en diegene wat nog wonder.

Met opskifte soos “Ek moet jou iets vertel”, “Life is a drag – soms!”, “Haal hierdie fag van die lug af”, “Kom ons praat (nie) oor seks (nie)” en “Ons kan nie wees wat ons nie sien nie” kan jy verseker wees hier is ’n selfversekerde sosialemedia-gekonfyte millenniër aan die woord wat gemaklik, oop en op die man af skryf, en daar’s aansienlik minder sprake van ’n tragiese gewroeg en gekners van tande as in ander generasies se kasdeur-oopgeforseer-sages. Renaldo skryf: “Die belangrikste les wat jy uit hierdie boek moet leer, is dat jy nie kan verander wie jy werklik is nie, maak nie saak hoe jy jou bes doen of bid nie.” In “God haat gays” staan hy egter wel vir ’n wyle stil by die onvermydelike en nimmereindige gays-en-die-kerk-stryd en merk op: “Georganiseerde godsdiens en seksualiteit was nog nooit goeie bedmaats nie.” Soos die akteur Marco Spaumer aan sy jonger self skryf: “Jy mag maar vat waar hulle gesê het jy mag nie!”

Geen tema bly agterweë nie, en hoewel hy erken dat dinge ook moeilik en gevaarlik kan wees in die heteronormatiewe strate van die soms onverdraagsame en hiperreligieuse Reënboognasie, verduidelik Renaldo sy keuse om te fokus op selfaanvaarding, outentisiteit, gesonde verhoudings en geluk en ’n boodskap van hoop vir gay mense, hul ouers en bondgenote so: "Ek sou ’n boek kon skryf oor stories van LGBTIQ+­mense wat vanweë hul seksuele oriëntasie en genderidentiteit aangerand of vermoor is. Ek vind dit wel meer waardevol om dié boek in te klee met stories van LGBTIQ+-mense wat ons veerkragtigheid as gemeenskap wys. Ek hoop dat hierdie mense se sigbaarheid ander sal inspireer om kasdeure oop te skop." Plaaslike bekendes soos Rian van Heerden, Marc Lottering, Charl-Johan Lingenfelder, Boer Damian en Joe Foster is self aan die woord oor hul persoonlike ervarings.

...
Renaldo probeer wyslik om nie namens die lesbiekers intieme advies te gee nie.
...

Renaldo probeer wyslik om nie namens die lesbiekers intieme advies te gee nie: Die raakvattervroue van die gewilde Mannetjiesvrou-podcast (Angie Gallagher, Candess Kostopoulos, Christi Kruger en Phia Smit) verwelkom lesers in die voorkamer van die lesbiër in ’n vrolike, verwelkomende hoofstuk in sulke heerlike Afrikaans dat ek dit uit pure vreugde sommer hardop vir my digteres-geliefde voorgelees het! Waar was hierdie boek toe ons in die tagtigs soekende rabbedoes in boomklimbendes en kortbroeke was? (Bygesê, soos my met-’n-vrou-getroude sus Hannelie dit in ’n aanlyn onderhoud met Renaldo gestel het: Diep gewaardeerde bydrae, maar die vroue verdien wraggies meer as een afdeling …)

Daar’s wel ’n moeder se kosbare invalshoek, en dit bly mens lank by. Die skrywer se ma, Verenia, skryf roerend eerlik in “Mamma, ek is gay” oor haar aanvanklike skok en lang geloofstryd oor haar jongste se seksualiteit en uiteindelike besluit om onvoorwaardelike liefde te kies. Sy antwoord ook van ma’s en pa’s se mees algemene vrae en pleit by gay kinders om hul ouers tyd te gee vir aanvaarding. Aan die einde van die boek is daar ook onder “Kry hulp!” ’n volledige lys van plaaslike organisasies wat LGBTIQ+-mense en hul gesinne kan ondersteun.

In sy dankbetuigings skryf Renaldo sy hoop is dat die dapper LGBTIQ-mense wie se stories in die boek opgeneem is, se veerkragtigheid ander sal inspireer om daagliks openhartigheid bo vrees te kies. Die boek se motto is deur die gay voormalige Amerikaanse basketbalspeler Jason Collins, wat sê openlikheid kan nie vooroordeel geheel en al onskadelik maak nie, maar dis ’n goeie plek om te begin. Hierdie jong skrywer se eie dapperheid, openhartigheid en sigbaarheid kan nie hoog genoeg aangeprys word nie. Boeke soos syne red letterlik lewens.

Soos een van Renaldo se beste vriendinne, Cher Petersen, ’n transgenderaktivis, omroeper en joenalis van Kaapstad, se woorde in ’n brief aan haar 16-jarige self lui: “Hoe lank gaan hierdie reis duur? Wanneer sal ek ooit ten volle aanvaar word? Wanneer jy jouself dié vrae afvra, moet jy onthou dat jy jouself moet aanvaar en dat niemand anders se opinie ’n invloed op jou eiewaarde moet hê nie. Jy behoort, jy word waardeer en jy is ongelooflik. Wees lief vir jouself, want niemand anders sal namens jou wees nie.”

Hopelik sal dié “skewe” boek met sy treffende, kleurvolle verfontploffende voorbladfoto van Renaldo wyd raakgesien, gelees en bespreek word. Wel gedaan aan die jong skrywer en ook sy opdraggewende en teksredakteur, Louis Gaigher. Kom ons hoop daar’s vele herdrukke – spel liefs net vorentoe uit respek vir die fopdossers se blinkertjies die woord sequins en nie sequence nie!

The post Veerkragtigheid inspireer: ’n Resensie van <em>Skeef</em> deur Renaldo Schwarp appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>