Stil vloei die Komati
Elize Parker
LAPA
ISBN: 9780639607153
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
“Die onskuld van ’n era is dikwels net in herinneringe en opgemaakte waarnemings …” (bl 146)
“Een of ander tyd faal ons onsself en mekaar. Dit is die lewe …” (bl 306)
Die plaasroman is ’n erkende genre in die Afrikaanse vertelkuns. Menige skrywer het al die hand gewaag aan ’n plaasroman. CM van der Heever, Karel Schoeman, Etienne van Heerden en Eben Venter is van die skrywers wat vinnig by my opkom as ek aan plaasromans dink. In die letterkundeklas moes ons deur hulle worstel. Terugskouend was dit egter geen straf nie. Elize Parker het al meer as 40 boeke geskryf. Ek dink nie hulle was almal Afrikaans nie. Die meeste wás egter waarskynlik. Van al Parker se 40 boeke het ek tot op hede ’n volle een gelees. Ek ken haar, nes die meeste mense, maar hoofsaaklik as Huisgenoot se “troostante” wat weekliks Huisgenoot se lesers se verhoudingsvrae en probleme probeer bemiddel. Hier en daar is ’n titel van een van haar boeke aan my bekend, al het ek dit nog nooit gelees nie. Die meeste van haar boeke is onder meer liefdesverhale en godsdienstige lektuur. Nie my gewone gunstelinge nie. Trouens, toe iemand wat my ken, anderdag dié boek tussen my besittings sien, toe kry die persoon so ‘n skalkse glimlag en vra: “So jy lees deesdae liefdesverhale?”
........
Moenie dat die buiteblad van die boek jou te veel flous nie. Daar is meer aan Stil vloei die Komati as wat jy waarskynlik sou verwag. Parker dra vele hoede en is ook bekend vir haar werk as omgewingsjoernalis, waarvan mens die spore duidelik in Stil vloei die Komati kan lees.
........
Moenie dat die buiteblad van die boek jou te veel flous nie. Daar is meer aan Stil vloei die Komati as wat jy waarskynlik sou verwag. Parker dra vele hoede en is ook bekend vir haar werk as omgewingsjoernalis, waarvan mens die spore duidelik in Stil vloei die Komati kan lees. Die plaas in dié geval is ook nie die tipiese boereplaas met bees en skaap en mielies en koring nie, maar ’n wildsplaas in die Laeveld. Vol renosters en ander wilde diere. Die verhaal sentreer rondom drie Van der Walt-niggies, hulle lewens onherroeplik omgekeer deur ’n tragiese skietongeluk wat gebeur het toe hulle al drie kleuters was. Dié ongeluk, waarin hulle nefie Jaco oorlede is, het die hele familie verskeur en die gemeenskap verslae gelaat, en spook dekades later steeds by die drie niggies. Daar is Lenore. Sy is die karakter uit wie se oogpunt die grootste deel van die verhaal geskets word. Lenore is ’n wildbewaarder in murg en been. Haar veldwagterpa, Karel, se droom was om wilde diere te rehabiliteer, maar daardie droom is begrawe saam met Jaco se tragiese dood. Nou ontstaan die kans dat Lenore tog dalk die droom kan verwesenlik, onderhewig aan die voorwaardes van die patriarg oupa Tjaart wat nog steeds na al die jare op die familieplaas genaamd Bateleur boer.
Dan is daar Tarien, wat haar tande in Thailand geslyp het, waar sy ook Thai leer praat het, en ’n hart vir ontvoerde mense het. Tarien droom weer daarvan om ’n hawe vir slagoffers van mensehandel te vestig. Die tweede deel van die boek is geskryf vanuit Tarien se perspektief. Dit is egter nie dieselfde gebeure wat oorvertel word net maar uit Tarien se perspektief nie. Die storie vloei volstoom voort, maar word uit Tarien se perspektief vertel.
Ten laaste is daar dan ook Bella, uit wie se perspektief deel drie vertel word. Bella is Jaco wat oorlede is se suster en sy moes toekyk hoe haar pa homself aan alkohol oorgee terwyl haar ma haar eie lewe geneem het weens al die hartseer. Bella is ’n poligraaf van beroep, maar anders as Lenore is sy ’n stadsmeisie wat ontwerperspakkies dra. “Met Bella praat jy nie oor geloof of die verlede nie. Die tweede het haar hart vir die eerste toegemaak” (bl 211).
Die titel van die boek is ’n gewilde uitdrukking onder die karakters en dui op hoe die tyd (en veral die natuur) voortstroom ongeag die innerlike wêreld van die mens.
.......
Die titel van die boek is ’n gewilde uitdrukking onder die karakters en dui op hoe die tyd (en veral die natuur) voortstroom ongeag die innerlike wêreld van die mens.
.......
Die oorhoofse storielyn van die boek is dus die drie niggies se soeke na finale antwoorde en afsluiting met betrekking tot die dood van Jaco. Wat het presies daardie fatale dag gebeur tydens die skietongeluk? En wie is nou eintlik aandadig? Natuurlik is daar dan ook die manlike karakters in die verhaal wat die drie niggies se emosies tussendeur verder omkrap. Maar die storie word ook ingekleur deur die karakters se stryd teen renosterstropery en die handel in renosterhoring, veral wanneer dit wil lyk asof die stropers dalk ’n informant vanuit die plaas se binnekring het. Oupa Tjaart is ook ’n karakter vol misterie, van wie mens weldra meer leer soos wat die verhaal ontvou, en wat selfs na sy afsterwe sy gewig steeds rondgooi, en as’t ware vanuit die graf regeer.
Godsdiens speel nogal ’n belangrike rol in die verhaal. Dit is ’n belangrike ooreenkoms wat die band tussen Lenore en Tarien smee, en Bella se pad terug na geloof vorm ook ’n storielyn uit eie reg. Die godsdiens kan miskien ‘n bietjie oordonderend wees, maar dit maak wel die karakters heel geloofwaardig, en mens kan jou nogal die karakters so voorstel. Die liefde en geloof is die sake wat waarskynlik Parker se meer tradisionele aanhangers sal lok, terwyl die fassinerende wêreld van natuurbewaring, die stryd teen wildstropery, en renosterrehabilitasie vir haar nuwe aanhangers sal besorg. Dit is alles onderwerpe waaroor Parker met gesag en oortuiging skryf. Die storie bly regdeur vloeiend en mens raak nooit verveeld nie – dit is wat die boek so ’n aangename ervaring maak. In ’n onlangse onderhoud met die Huisgenoot[1] het Parker aangedui dat daar moontlik ’n opvolg kan wees vir Stil vloei die Komati – beslis iets om na uit te sien.
[1] Bergh, J. 2021. Tatta, Liewe Elize! Huisgenoot se troostannie groet en “Vir die voëls” se Irma neem oor. https://www.netwerk24.com/huisgenoot/nuus/tatta-liewe-elize-huisgenoot-se-troostannie-groet-en-vir-die-voels-se-irma-neem-oor-20211022.
The post <em>Stil vloei die Komati</em> deur Elize Parker: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.