Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Wetenskap, poësie én teologie, dit bied Bybelstories in perspektief deur Sakkie Spangenberg

$
0
0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Titel: Bybelstories in perspektief
Skrywer: Sakkie Spangenberg
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928530220

’n Goeie teoloog is nie bang vir die wetenskap nie. Dit het Sakkie Spangenberg pas weer bewys. Dié teoloog het boonop ’n besonder goeie leeskennis van die wetenskap. Sy dun boekie van 90 bladsye is ’n welkome toevoeging tot die bitter klein bibliotekie van toeganklike teologie in Afrikaans.

Wat meer is: Bybelstories in perspektief is ’n aktuele werk, een wat die dwaalleringe oor onderwerpe soos evolusie deeglik die loef afsteek. In die plek daarvan bied hy feitelik korrekte, wetenskaplike antwoorde aan jong (en ou) gelowiges.

’n Tweeling (nie identies nie)

Daar het onlangs twee boeke oor my pad gekom wat skynbaar eenderse teikengehore het: Bybelstories in perspektief deur Sakkie Spangenberg (Naledi) en Waar kom ons vandaan? Van die begin van die heelal tot vandag deur Andreas en Schalk Engelbrecht (Tafelberg).

Hoewel daar baie ooreenkomste is, is die fokus van die twee boeke gans anders. Kliek hier vir die bespreking van Waar kom ons vandaan? 

Ek sou beide tekste aanbeveel en sou baie graag hierdie twee boeke in ons land se klaskamers en biblioteke wou sien; nie slegs een van die twee nie, want hulle vul mekaar aan. Jonk en oud, gekoppel aan skole en kerke, of knus in hul en woonhuise, sal verryk word deur hierdie twee dun, toeganklike tekste.

’n Goeie verstaan van die Bybel akkommodeer die wetenskap

Spangenberg het sy lewe gewy aan die korrekte lees en verstaan van die Bybel. Daarom kan hy aan lesers verduidelik waar die Bybelstories vandaan kom en wat hulle relevansie vir vandag se samelewing is.

’n Goeie teoloog poog nie om die Bybel as feitelik korrek te lees nie, want dit is nie. Die Bybel is ’n menslike teks waarin verskeie skrywers hulle siening van die wêreld en hul eie verhouding met hul godheid probeer verduidelik.

Die Bybel is dus geen teenvoeter vir die wetenskap nie; dit probeer ook nie te wees nie.

Toeganklike teologie

Deur Bybelstories te verklaar aan die hand van die tyd waarin hulle geskep is, brei Spangenberg ons Bybelkennis uit én hy verduidelik daarnaas die wetenskaplike beginsels, wat skynbaar indruis teen die Bybelse manier van vertel, op so ’n manier dat selfs ek dit ook snap.

Op bladsy 1 verduidelik hy sy werkswyse so:

In hierdie boek hervertel ek enkele bekende Bybelstories en probeer ek om op ’n nuwe manier iets te vertel van die aarde waarin ons leef en die heelal waarvan ons deel is. Ek doen dit deur telkens twee stories te vertel – eers ’n baie ou Bybelstorie en dan ’n nuwe wetenskaplike een.

’n Plat aarde vs ’n ronde aarde

Die eerste twee stories wat so aangebied word, gaan oor die redes waarom Bybelskrywers die aarde as ’n plat oppervlak gesien het – en hoe dit hulle denke oor God beïnvloed het. Dit word gelees teen die storie van mense soos Nikolaus Kopernikus en Galileo Galileï wat die Kerk wou oortuig dat die aarde rond is.

Die mense in die Bybelse tye het nie vliegtuie gehad nie, ook nie motors nie. Hulle moes stap of dalk perdry om iewers te kom. Stap jy dae aaneen deur ’n woestyn, dan lyk die aarde nie juis rond nie.

Die skrywers van Genesis het dus geglo die aarde is plat, want dit is wat hulle kon sien. Die hemelkoepel rus dus op die berge en bo die hemelkoepel woon die gode. Onder die aarde? Daar was water. Daardie water was gevaarlik en kon skielik huise en landerye verwoes.

Dit is maklik om te verstaan waarom die Kerk aanvanklik skepties was oor die beweringe dat ons op ’n ronde planeet om die son wentel, die bewyse was nie sigbaar nie en, nog erger, waar woon die gode dan?

Aangesien Spangenberg die Bybelse konteks én die wetenskap verduidelik, hoef daar geen spanning tussen die oerverhale en die wetenskap te wees nie.

Die vrees vir water wat skielik van onder die aarde sou opborrel en die groot vloede sou veroorsaak, verklaar ook die storie van Noag en sy ark.

Noag se verhaal word ook in Spangenberg se boek hervertel. Op bladsy 56 sê hy: “Hierdie storie kom egter nie net in die Bybel voor nie. Ons vind dit ook by ander volke wat in die Nabye Ooste geleef het.”

Spangenberg wy dan ’n hele bladsy daaraan om te wys hoe die Gilgamesj-verhaal – wat veel ouer is as die Bybel – deur die Bybelskrywers gebruik is.

Hy verduidelik dan ook (op ble 57 en 58) hoekom Noag se storie gewoon nie waar kon wees nie; hierdie sin het my laat glimlag: “Sou agt mense daagliks vir al die diere kon sorg en al die mis kon optel en uitgooi?”

Ek vermoed Sakkie se kinders het honde gehad ...

’n Jong aarde vs ’n ou aarde

Daar is in Suid-Afrika kurrikula te koop wat die ouderdom van die aarde op net meer as 6 000 jaar plaas; dié kurrikula kom uit die VSA en word veral gebruik in tuisonderrig.

Daardie sogenaamde Christelike dokumente wat uit die VSA ingevoer word, ontken die oerknal. Dit beweer ook dat die ouderdom van dinosourusse fopnuus is.

Maar waar kom die 6 000 jaar vandaan?

Spangenberg verduidelik dit mooi.

In Genesis 5, en op ander plekke in die Bybel, is geslagsregisters.

Biskop James Usher het daardie geslagsregisters ontleed en het só ’n tydlyn opgestel wat die aarde se ouderdom kon bepaal. Hy het dit baie slim gedoen en sy berekeninge gepubliseer: God het die aarde 4 004 jaar voor Christus gebore is, geskep. As ons Christus se geboorte as die jaar nul sien, tel jy dus 2 021 jaar by, dan is ons nou in die 6 025ste bestaansjaar van die blou planeet.

Usher was natuurlik verkeerd. Maar hoe kon hy so ’n fout maak?

Spangenberg verduidelik hoe getalle in die Bybelse tyd verstaan is. Ook dat daar geen Bybelse redes is om te twyfel wanneer wetenskaplike ons planeet se ouderdom op 4,5 miljard jaar skat nie.

Spangenberg maak nie vir Usher belaglik nie. Hy verduidelik bloot waarom ons nie die Bybel verkeerdelik as ’n wetenskapteks moet lees nie.

Sewe dae versus 13,8 miljard jaar

Die heelal is natuurlik veel ouer as die aarde. Die skepping het ook nie regtig binne sewe dae gebeur nie.

Spangenberg verduidelik waarom die begrip sewe dae in die eerste skeppingsverhaal gekies is. Dan gee hy die wetenskaplike perspektief deur, onder andere, verwysings na die periodieke tabel.

Adam en Eva teenoor vertakkings van die evolusionêre proses

Wanneer ons verstaan dat Adam en Eva nie werklike mense was nie, maar fiktiewe akteurs in ’n mooi storie, mag ons ons verwonder aan die wyse waarop homo sapiens oor ’n lang periode ontwikkel het tot waar ons nou is.

Spangenberg verduidelik ook waarom daar twee skeppingsverhale in die Bybel is; en waarom hulle mekaar weerspreek.

Die wetenskap is nie teen die Bybel nie

Iemand met ’n goeie kennis van die Bybel kan sonder skrome die wetenskap omarm. Ons lewe ongelukkig weer in ’n samelewing waar godsdiens gekaap word om antiwetenskaplike uitsprake te maak, iets wat teologies verkeerd én immoreel is.

Die Covid-pandemie het weer gewys hoe maklik mense wat die Bybel nie ken nie, hulleself aan die neus kan laat lei deur gewetenlose mense – alles in die naam van die Christendom. Godsdiens kry ’n slegte naam wanneer mense Openbaring probeer gebruik om hulself nie in te spuit nie. Dit is hartseer wanneer selfs kerke hieraan meedoen.

Dit is egter vals om te beweer dat Christene onwetenskaplik is; die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het van dag een af die inentingsveldtogte gesteun.

Spangenberg se boek is dus belangrik. As Bybelkenner bewys hy dat die Bybel glad nie ’n wetenskaphandboek is nie; ook dat gelowiges nie bang hoef te wees om die wetenskap te volg nie.

Moeilike begrippe maklik aangebied

Die boek is tjokvol interessante wetenskaplike feite; veral die manier waarop die verskillende geologiese eras verduidelik word, was insiggewend. Ek sou steeds nie ’n toets kon skryf oor die Senosoïkum (1,75 miljoen jaar gelede) of die Mesosoïkum (145 miljoen jaar gelede) nie, maar ek verstaan (byna) die beginsels daaragter, danksy Spangenberg se toeganklike tabel.

Ons lees ook hoe die enorme kontinent Gondwana noordwaarts geskuif het en ongeveer 360 miljoen jaar gelede teen ’n ander kontinent gebots het om Pangaea te vorm, maar dat Gondwana toe ongeveer 200 miljoen jaar gelede weer begin verbrokkel het en die kontinente waarop ons vandag leef, begin ontstaan het.

Daar bestaan ook ander toeganklike wetenskaptekste. Terence McCarthy en Bruce Rubidge se The story of earth and life, a southern African perspective on a 4,6 billion-year journey (Struik) is een daarvan. Dit is egter meer as 300 bladsye lank en ek moes stadig daaraan lees.

Spangenberg se boek is nie ’n plaasvervanger vir meer ingewikkelde werk nie; dit sou eerder mense nuuskierig maak om meer oor ons fassinerende wêreld te leer.

Sulke feite en begrippe laat my altyd dink aan die digter wat Psalm 8 geskryf het: Kyk jy op na die sterre, dan kan jy nie anders as om in verwondering te staan nie.

Die wetenskap het digters nodig

By die onlangse Tuin van Digters het George Philander, ’n wêreldbekende klimatoloog, oor sy pa, die digter PJ Philander, gesels. Die wetenskap het digters nodig, sê hy toe, want wetenskaplikes sukkel om stories aan mense te vertel. Digters doen dit beter.

Spangenberg se boek het voor Philander se woorde verskyn, maar hy gebruik ook ’n digter, in die vorm van David Kramer, om sy boodskap nog makliker oor te dra.

Met Kramer se toestemming het Spangenberg die woorde van “Die ou aarde” afgedruk. Regdeur die boek verwys hy na Kramer se teks en haal dele daaruit aan om die wetenskap verteerbaar te maak.

Moenie die Bybel verkeerd lees nie

Spangenberg wy die laaste hoofstuk boek aan ’n pleidooi om nie die Bybel verkeerd te lees nie. Dit is nie ’n wetenskapteks nie, maar dit is “vol wysheid”. As ons die Bybel reg wil lees, moet ons die moeite doen om die konteks te verstaan waarin die tekste geskryf is, en daarmee help hy ons.

Daar is min toeganklike teologieboeke in Afrikaans beskikbaar. Dié een sal baie ou- én jongmense help.

Lees ook:

Barend van der Merwe skryf oor Waar kom ons vandaan? 

Ben du Toit skryf oor Bybelstories in perspektief.

Barend van der Merwe skryf oor Bybelstories in perspektief.

The post Wetenskap, poësie én teologie, dit bied <em>Bybelstories in perspektief</em> deur Sakkie Spangenberg appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>