Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.
Titel: Waar kom ons vandaan? Van die begin van die heelal tot vandag
Skrywer: Andreas Engelbrecht, Schalk Engelbrecht
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624090809
So ongeveer 15 jaar gelede het Bill Bryson sy Bybeldikke boek A short history of nearly everything bekendgestel. Geografie en argeologie fassineer my, dus was Bryson se toeganklike opsomming oor ons geskiedenis heerlik om te lees.
Die maklikste manier om Andreas en Schalk Engelbrecht se Waar kom ons vandaan? te verduidelik, sou wees om te sê dit is ‘n erg verkorte, Afrikaanse weergawe van wat Bryson wou doen. Tog sou dit vir beide boeke nie korrek wees nie, want albei is unieke skeppings.
Die ooreenkomste is wel daar – beide ondersoek die begin van alles wat bestaan op ’n manier wat gewone mense kan verstaan.
Om soveel feite in ’n bitter kort boekie (112 bladsye) te verpak, wil gedoen wees; en dit is presies wat Waar kom ons vandaan? doen.
’n Tweeling (nie identies nie)
Daar het onlangs twee boeke oor my pad gekom wat skynbaar eenders teikengehore het: Waar kom ons vandaan? Van die begin van die heelal tot vandag deur Andreas en Schalk Engelbrecht (Tafelberg) Bybelstories in perspektief deur Sakkie Spangenberg (Naledi). Hoewel daar baie ooreenkomste is, is die fokus gans anders. Kliek hier vir die bespreking van Bybelstories in perspektief. Ek beveel albei aan, want vir jonk en oud bied die twee boeke wetenskaplike antwoorde in ’n tyd wat godsdiens misbruik word om feite te misken.
Die wetenskap word sentraal geplaas
In die 21ste eeu word die wetenskap skielik weer bevraagteken soos in die Donker Eeue. Ons sien dit nou met die entstowwe, maar durf iemand skryf oor kwessies soos evolusie en die oerknal, word hulle maklik en meedoënloos op die sosiale media deur parate regse groepe aangeval.
Dit is ironies, want soos die skrywers in die voorwoord sê:
Ons leef vandag in ’n wonderlike tyd, ’n tyd waarin daar die afgelope paar eeue groot ontdekkings gemaak is oor die oorsprong van die heelal, die sonnestelsel en die planete, en ook ons, die mense, wat die aarde bewoon.
Tog, ons moet net asseblief nie die woord evolusie in ’n skoolhandboek gebruik nie, dan is die sogenaamde evangeliese brigade op jou. Vreemd, want talle van die wêreld se grootste wetenskaplikes is en was diep gelowige mense. Godsdiens is dus nie die probleem nie; die aanvalle kom van kwaksalwers wat geloof misbruik – dikwels om produkte te verkoop of om politieke agendas te bestuur.
Waar kom ons vandaan? is ’n moedige poging om die wetenskap kaalkop en baie eerlik aan jongmense bekend te stel. Ek sou dit baie graag in elke klaskamer in die land wou sien, maar wees gewaarsku: Die regse koalisies gaan kwaai hierop reageer.
Die begin
Hoofstuk 1 begin met: “Ongeveer 13,8 miljard jaar gelede vind daar ’n geweldige ontploffing plaas” (bl 9).
’n Bietjie laer af verduidelik die skrywers (steeds bl 9):
Vir eeue van die mens se bestaan was ons nie bewus van die ontploffing nie. Dis eers gedurende die afgelope honderd jaar dat wetenskaplikes die bewyse van die gebeurtenis vind.
Dan is daar ’n aantal bladsye waarin die skrywers verduidelik wat die wetenskap is, wat mites is en waar godsdiens in hierdie prentjie pas. Hulle verduidelik dat daar oor die eeue heen stories versin is oor waar die aarde en die mens vandaan kom, en baie van hulle is ouer as die Bybel.
Op bladsy 10 staan daar dan:
Ook die Bybelse skeppingsverhaal in Genesis is goed bekend. Dit word vandag deur menige Bybelgeleerdes as simbolies beskou en nie as ’n letterlike verklaring van die oorsprong van die aarde en die mens nie.
Daar word dan ook op ’n mooi, eenvoudige manier verduidelik hoe mense soos Nikolaus Kopernikus en Galileo Galilei die mites met hulle ontdekkings begin ontrafel het. Toe kom mense soos Albert Einstein en Edwin Hubble, en in die skrywers se woorde (bl 13): “Meteens het die heelal reusagtige afmetings aangeneem.”
Moeilike begrippe gebruik, maar eenvoudig aangebied
Kyk na hierdie paragraaf (bl 15):
Ná bloot ’n sektiljoenste van ’n sekonde (10-36 sekonde) se eksponensiële uitsetting laat dít die heelal se temperatuur met ’n faktor van 100 000 daal. Die daling het ’n kritieke gevolg. Hoewel alles wat tot ’n biljoenste van ’n sekonde (10-12 sekonde) ná die Oerknal gebeur het, spekulasie is omdat die wette van fisika soos ons hulle tans verstaan nie gegeld het nie, bied Heisenberg se onsekerheidbeginsel tog ’n idee van wat toe kon gebeur het.
Daar word geensins weggeskram van moeilike begrippe nie, maar die manier waarop hierdie inligting aangebied word, maak dat selfs ek die draad van die storie kon volg.
Die wit blad word telkens verbreek met grys feitekassies wat allerlei moeilike begrippe verduidelik.
Die tweede hoofstuk verduidelik hoe die son en die sterre ontstaan het uit hierdie siedende massa – want 10-30 sekonde na die Oerknal het ’n kwark-gluonplasma ontstaan (bl 17); op 10-16 sekonde “smelt kwarke en gluons saam om barions soos protone en neutrone te vorm” (ibid). Binne ’n sekonde ná die Oerknal is daar reeds elektrone en positrone (ibid).
Lees gerus self verder. Op bladsy 25 word daar in besonderhede verduidelik hoe die sterrestof uiteindelik die boublokke vir lewe sou bied.
In hoofstuk 3 word die aarde se unieke aard onder die loep geneem – een van die min planete wat soos Gouelokkies se gekose pap net warm en net koud genoeg is. Selfs die maniere waarop ons skeef om ons eie as draai, die magneetgolwe van die pole ... alles maak ons lewens moontlik.
In hoofstuk 4 word die ontstaan van daardie lewe ondersoek – ons kom uit die chemiese poele waaruit die aarde eens bestaan het.
Hoofstuk 5 verduidelik DNS en RNS en die verskillende chromosome.
Toe kom die eerste ape in hoofstuk 6. Die res van die boek (daar is 11 hoofstukke) neem die leser op ’n reis van argeologiese ontdekking tot ons (die steeds kontroversiële) Homo naledi ontmoet.
Kortom: In 112 bladsye verduidelik die skrywers vir ons op ’n suiwer wetenskaplike, maar baie verteerbare manier waar ons vandaan kom. Dit is deksels interessant, selfs vir iemand wat al baie hieroor gelees het.
Kritiek?
Die boek is dalk nie foutloos nie.
By ’n eerste lees het die manier waarop die skrywers die (jong) lesers soms direk aanspreek, my nogal irriteer.
Op bladsy 52: “Dalk word jy eendag ’n beroemde fossieljagter ...”
Op bladsy 64, waar ons nou in ’n tydmasjien reis: “Jy het al in die Krugerwildtuin gehoor hoe brul ’n leeu, en dis hard ...”
Op bladsy 68: “Jy sal saamstem baie van die veranderinge was daarop gemik om ons op ons agterpote te laat loop.”
Iewers is daar ook die aanvegbare stelling dat ons almal ’n pa en ’n ma het – natuurlik is dit (korrek) aangebied in die sin dat sonder seks ons nie hier sou gewees het nie, maar dit beteken nie dat die twee mense wat biologies tot ’n ander mens se bestaan bygedra het, hoegenaamd “pa en ma” is vir daardie mens nie.
Die res van die boek is so sober en netjies aangebied dat sulke goed my gewoon laat wriemel van ongemak. ’n Redakteur moes hier ingegryp het, want ’n klompie rooi strepe sou van ’n baie goeie boek ’n beter boek gemaak het.
Kry dit
Waar kom ons vandaan? is ’n waardevolle boek. Ek het ontsettend veel geleer, al het ek reeds talle wetenskaplike en populêre tekste oor hierdie onderwerp gelees.
Ek sal die boek graag as ’n geskenk aan intelligente mense van alle ouderdomme gee – my irritasie met enkele sinsnedes ten spyt.
Andreas Engelbrecht is ’n mediese spesialis en hoof van die Divisie vir Noodgeneeskunde aan die Universiteit van Pretoria. Schalk Engelbrecht het ’n BSc-graad verwerf en toe ’n PhD in opvoedkunde gekry. Ná ’n lang loopbaan by die RGN het hy weer gaan skoolhou.
Dit is knap mense wat hierdie boek geskryf het. Wat meer is: Hulle is slim genoeg om dit so aan te bied dat selfs ek dit kan verstaan.
Lees ook:
Barend van der Merwe skryf oor Waar kom ons vandaan?
Ben du Toit skryf oor Bybelstories in perspektief.
Barend van der Merwe skryf oor Bybelstories in perspektief.
The post Die wetenskap van evolusie in 112 bladsye: <em>Waar kom ons vandaan?</em> deur Andreas en Schalk Engelbrecht appeared first on LitNet.