Squid game
Met Lee Jung-jae en Park Hae-soo
Regisseur: Hwang Dong-hyuk
......
Moenie te maklik mislei word nie. Hierdie is geen kinderspeletjies nie, al is die reeks, uit Korea, op skynbaar onskuldige kinderspeletjies gebaseer. Die reeks se invloed strek veel wyer as dit, en die subteks skemer maar alte duidelik deur.
........
Moenie te maklik mislei word nie. Hierdie is geen kinderspeletjies nie, al is die reeks, uit Korea, op skynbaar onskuldige kinderspeletjies gebaseer. Die reeks se invloed strek veel wyer as dit, en die subteks skemer maar alte duidelik deur.
Kortliks handel Squid game oor 456 mense wat van skuldeisers vlug (iets wat vandag in die Covid-konteks baie geldig is). Sommige kykers ken daardie desperate gevoel wanneer huis en haard opgeveil of deur die bank teruggeneem word. Wat mense dus aanvanklik hierna aantrek, is die feit dat daar ’n verwronge soort uitkoms van skuldeisers is. Maar dit gaan veel dieper as dit. Dit wys dat die mens eintlik, in wese, dierlike eienskappe het. Hy is die mees gevorderde “dier” op die planeet, maar sy instinkte, vrese, gierigheid en motiewe bly deur die eeue dieselfde.
Nes Stanley Kubrick destyds met 2001: A space odyssey (1967) die kontroversiële stelling gemaak het dat die mens as viervoetige aap ’n been as ’n wapen ontdek het en dat evolusie toe eers werklik ingeskop het, wys Squid game nou dat daardie selfde mens min verander het. Want die ironie is dat die mense (in hierdie reeks in elk geval) dikwels ’n soort masochistiese genot uit die speletjies put waar die grens tussen lewe en dood lemmetjiedun is, maar dat hulle dit geniet om met mekaar te verskil, teen mekaar te veg en mekaar uit te wis tot net ’n wenner oorbly.
Dit gaan hier oor wat die wenner ná die speletjies voltooi is, met sy/haar prysgeld doen (wat ’n mens nie hier wil verklap nie, ingeval jy die reeks nog nie gesien het nie). Dit spreek tot die ware aard van die mens. En die laaste tonele van Squid game het net soveel bespreking en gissings uitgelok as Kubrick se meesterwerk.
Verder gaan dit om die spanning tussen kommunisme en kapitalisme. Oor hoe ver mense sal gaan vir geld. Maar ook dat diegene wat die speletjies gereël het, dit op die kommunistiese stelsel gebaseer het. Die dodelike eenvormigheid en despotiese heerskappy waar almal dieselfde lyk, en die rigiede reëls van die speletjie, asook die brutale straf wat uitgedeel word, val in daardie denkpatroon. Die gelykheid van die spelers en werkers onder een heerser tree sterk na die voorgrond.
Verder probeer ’n Noord-Koreaanse meisie om haar ma uit die tiranniese Noord-Korea te bevry sodat sy na die (korrupte?) suide kan oorloop. Daarom neem die meisie aan die speletjie deel. In een van die mees realistiese en tragiese spelle in die reeks, die albasterkragmeting, word daarop klem gelê. Menslikheid tree wel na vore, maar word met een gooi van ’n albaster vernietig. Vertroue verander in wantroue.
Dis veral in hierdie speletjie, asook die toutrekspanspeletjie, waar die vrees vir nabootsing onder die moderne jeug die sterkste is. Tot so ’n mate dat dit petisies en omsendbriewe tot gevolg gehad het. Onderwysers het agtergekom dat leerders van hierdie speletjies (veral laasgenoemde twee) naboots en dat verloorders dan brutaal geboelie word. Dit sluit aan by moderne videospeletjies waarin dié reeks ook sy kop uitgesteek het en nageboots word tot groot vermaak van tieners wat nog nie genoeg verantwoordelikheid of volwassenheid aan die dag kan lê om dit te weerstaan nie.
Ouers is in verskeie lande deur opvoedkundiges gevra om nie toe te laat dat hul kinders naby hierdie reeks kom nie, wat tot gevolg het dat daar juis ’n toenemende belangstelling daarin is en kinders dit skelm kyk en daarmee eksperimenteer. Squid game het so gewild geword dat ongeveer 180 miljoen huishoudings reeds wêreldwyd daarna gekyk het, wat dit die gewildste reeks in Netflix se geskiedenis maak. Daar is ook bevestig dat die stromingsnetwerk reeds oor ’n miljard rand se reklame daaruit gekry het.
Die invloed het dus soos ’n tsunami geword wat mense gewoon oorweldig.
Voeg hierby die dodelike presiesheid waarmee mense vermoor word. Dikwels verskyn slegs ’n rooi koeëlgaatjie voor ’n slagoffer se kop, of ’n liggaam val sonder om op die gevolge te wys, want die spelers is te behep met moord en oorlewing om hulle aan die slagoffers te steur. Die dood is nog selde so koelbloedig onverantwoordelik uitgebeeld.
Dan is daar ook al verwys na die (eenvormige) en netjiese kostuums van die werkers (rooi) en die spelers (groen) sodat sommige karakters ontmens word en ’n mens apaties teenoor hulle voel. Dit gaan hier net om ’n soort masochistiese oorlewing en ’n genot wat uit die moorde geput word. Veral in die deel waar ’n pop, ’n tipiese kinderspeelding, nou verdiepings hoog is en toesig hou oor die geweld wat uitbreek.
Andersyds bewys dit dat die Koreaanse film-en-televisie-industrie besig is om die ander lande s’n verby te steek. Kyk na die groot aantal bekroonde produkte wat onlangs onverwags uit Suid-Korea gekom het, soos Parasite en die pragtige Minari, om nie van vele ander Koreaanse films te praat nie. Dis asof daar stilweg, sonder dat selfs die magtige Hollywood daarvan bewus was, ’n klein revolusie plaasgevind het waar gehore vermoeid en moeg geraak het vir dieselfde soort stories (Fast and furious, Friday the thirteenth, Halloween), wat geweld op dieselfde onverantwoordelike maar blatante wyse verheerlik het. Hier word dit meer subtiel gedoen, en voor jy jou kom kry, word jy betower deur die reeks en wil jy sien watter diaboliese reëls die volgende spel gaan stel wat aan televisie ’n nuwe voorkoms gee.
.......
Wees dus gewaarsku: Dis ’n reeks wat soos ’n parasiet stadig maar seker op jou groei, jou verlei en mislei, en uiteindelik oorbluf laat. Want hierna het selfs ek dit moeilik gevind om weer ’n reeks te vind wat so vindingryk en oorspronklik is. Maar op sosiale vlak is dit bitter gevaarlik ...
.........
Wees dus gewaarsku: Dis ’n reeks wat soos ’n parasiet stadig maar seker op jou groei, jou verlei en mislei, en uiteindelik oorbluf laat. Want hierna het selfs ek dit moeilik gevind om weer ’n reeks te vind wat so vindingryk en oorspronklik is. Maar op sosiale vlak is dit bitter gevaarlik en moet mense daarop let dat dit ’n soort toekomsfantasie word soos die destydse Rollerball, asook die film en reeks Westworld. Dit skep ’n voorgestelde wêreld waarin daar groot onregverdigheid, gierigheid en onregverdigheid heers en wat uiteindelik postapokalipties word.
Dit skep ’n toekomstige paradys vir masochiste wat verwronge en bloedig as ’n onskuldige kinderspeletjie uitgebeeld word.
The post <em>Squid game</em>: ’n resensie appeared first on LitNet.