Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Papryp papajas en pitte

$
0
0

My kombuis (en spens) is boordens toe vol goeie bedoelings. My kop is vol van wonderlike idees wat met mekaar wedywer vir ’n plekkie op my stoof en my feestafel. Maar so tussen die stoeiery deur, loop die tyd uit – nog ’n rakleeftyd daarmee heen of gekneus en verlep ’n stille aanklag teen my besluiteloosheid.

Ek het ’n yslike groot vrugtebak op my kombuistafel. Groot glasflesse vol suurlemoene. Sakke lemoene wat teen die kombuiskas se kant aangeleun staan. Anders voel ek soos armmanskind en lyk my kombuis skoon vaal.

Maar ’n mens kan net soveel vrugteslaaie eet en selfs al sou jy ook elke keer so in die verbygaan aan ’n ou vruggie knibbel, sukkel dit maar om die bak leeg te kry voor die vrot en ouderdom begin oorneem.

Vir die bruin en papsag piesangs vra ek nooit om verskoning nie. Ek laat die vrolike vetgeel piesangs lê, totdat die ouderdom aan hulle begin vat en hulle gereed is om ’n piesangbroodjie waarlik na piesang te laat smaak. Ook nie vir die suurlemoene wat later verrimpel bly lê nie. Want dis wanneer hulle op hul beste smaak in my outydse suurlemoenstroop. En oorryp pynappel maak die lekkerste roomys.

.......

Vir die bruin en papsag piesangs vra ek nooit om verskoning nie. Ek laat die vrolike vetgeel piesangs lê, totdat die ouderdom aan hulle begin vat en hulle gereed is om ’n piesangbroodjie waarlik na piesang te laat smaak. Ook nie vir die suurlemoene wat later verrimpel bly lê nie. Want dis wanneer hulle op hul beste smaak in my outydse suurlemoenstroop. En oorryp pynappel maak die lekkerste roomys.

.........

Maar dis die arme goedjies wat ongesiens in die vullisblik beland wat my hart in stukke laat breek. Dis dan wanneer my gewete my tot aksie aanspoor ... en dis gewoonlik dan wanneer ek die wonderlikste nuwe dinge in my kombuis optower. (Dis waarskynlik omdat ek nog my lewe lank Russiese roulette met spertye speel en my beste werk lewer wanneer die tyd bykans uitgeloop en ek nie meer omdraaikans het nie.)

So is my appel-neut-en-dadel-koek gebore. En my heerlike, vrugtige hoenderkerrie. Die tamaties, wat lyk of hulle gereed is om te sneuwel, kry nuwe lewe in ’n oondroosterpan saam met uie, knoffel en ’n paar takkies roosmaryn – ’n goeie basis vir ’n heerlike groentesop. Daardie oondgeroosterde smaak sorg vir ’n heel ander smaakprofiel.

Maar dis die papajas en pepino’s wat my die meeste gekwel het. Die papajas wat ek kleintyd leer ken het, was ’n bietjie bitter na my smaak en my ouma het dit altyd so ’n uur of twee voor ete met ’n bietjie suurlemoen en suiker laat staan om dit meer eetbaar te maak. Dis hoe ek dit onthou het. En toe ek dit jare later vir die eerste keer weer proe, kon ek nie genoeg van die stroopsoet lekkerte kry nie.

Ek is mal oor ’n slaai met rocket- en kappertjieblare, papaja, aarbeie en avokado met net ’n skeutjie lemmetjiesap, sout en varsgemaalde swartpeper om die soet effens te breek. Maar teen die tyd dat ek onthou om slaai te maak, is van die bestanddele al opgeëet of nie meer vars genoeg vir slaai nie

En vir so ’n slaai moet jy darem ook wag tot jy ’n paar mense om jou tafel het. My hart breek as ek ’n halwe papaja in die yskas moet wegbêre, want ek weet dit smaak nooit weer dieselfde daarna nie.

Maar dit keer my nie – vir my is papajas ’n móét vir daardie vrugtebord op my kombuistafel.

In Polfyntjies vir die proe skryf C Louis Leipoldt hulle het toe hy ’n kind was nooit van ’n papaja gepraat nie. “Dit was altyd ’n ‘bobotie-vrug’ of kortweg ’n bobotie.” En hy skryf verder: “Ons beskou die papaja as ’n vrug en eet hom gewoonlik rou. Maar hy is ewe goed – of nog beter – as ’n groente.”

Ek sou van my stoel af geval het toe ek dít lees as dit nie was vir die wonderlike resep van Elisabeth Lambert Ortiz in haar Caribbean cooking waarop ek jare gelede al afgekom het nie. Jy maak hom eers so ’n bietjie skrik in kookwater en dan braai jy hom saam met uie en tamatie in ’n pan. Dan skep jy dit in ’n oondskotteltjie (of, soos sy dit doen, terug in die twee skilhelftes wat jy heel gehou het), besprinkel dit met broodkrummels en parmesaan, en bak dit in die oond.

Maar, sê Leipoldt, die papajas wat ons in die winkels kry, is reeds papryp. “Dan is hy vol vrugtesuiker, en ons kan hom alleen as ’n soet skottel opdis. Selfs in hierdie hoedanigheid is hy nie te versmaai nie as ’n voor-of-nagereg ...” En hy vertel hoe hy papaja stowe: “Sny hom in mooi vierkantige stukke, nadat jy hom eers geskil het en plaas die stukke in ’n kastrol met ’n koppie bruin suiker, ’n kelkie brandewyn, ’n stukkie nartjieskil en ’n stukkie pypkaneel. Stowe hul stadig maar goed. Dis op met geklopte room.”

As hy papryp is, kan jy nie veel met hom uitrig nie, meen Leipoldt, “ofskoon ’n goeie kok by geleentheid (as hy byvoorbeeld ’n wilde-eend of bleshoendertjie het) hom met foelie, broodkrummels, die geel van ’n eier en ’n grypie neutmuskaat as ’n eersteklas vulsel sal opklits”.

........

En hy gaan voort met ’n verstommende lys van geregte wat jy met papaja kan optower. Ook in sy Kos vir die kenner wy hy ’n hele aantal resepte net aan dié vrug, wat volgens oorlewering sy ontstaan in Suid-Amerika gehad het.

........

En hy gaan voort met ’n verstommende lys van geregte wat jy met papaja kan optower. Ook in sy Kos vir die kenner wy hy ’n hele aantal resepte net aan dié vrug, wat volgens oorlewering sy ontstaan in Suid-Amerika gehad het.

Ek het self al, terwyl ek met my gewete stoei, met ’n hele paar lekker resepte vir “papryp” papajas vorendag gekom.

Een van die wenners was my papajakoek. Ek het die hoeveelhede van my wortelkoekresep gehalveer en twee koppies papajablokkies in plaas van die gerasperde wortels bygevoeg. Die eindresultaat was ’n veerligte koek wat skaars teetyd gehaal het voordat dit tot die laaste krummel verslind is.

Ek het ook ontdek jy kan die pitte in die oond droog vir die wonderlikste (en uiters gesonde) spesery om jou kos te geur. Jy spoel die pitte onder koue lopende water af en druk dit droog met ’n skoon doek. Versprei die pitte in ’n enkele laag op ’n bakplaat wat met bakpapier gevoer is en plaas in ’n voorverhitte oond van 120 ºC vir 90 minute of totdat dit heeltemal droog is. Bêre in ’n lugdigte glasflessie. Dit lyk byna soos swartpeperkorrels, net effens kleiner en ’n bietjie valer en jy kan dit met gemak in die plek daarvan in jou kos gebruik.

......

Maar die heel, heel lekkerste bly die papajablatjang wat ek gekook het van papajas wat so ampertjies op die komposhoop beland het. Ek het net een klagte – die flessie hou nie lank nie.

.......

Maar die heel, heel lekkerste bly die papajablatjang wat ek gekook het van papajas wat so ampertjies op die komposhoop beland het. Ek het net een klagte – die flessie hou nie lank nie.

Karen se papajablatjang

Lewer 1 lekker groot fles (ongeveer die grootte van ’n 750 g- mayonnaise-fles)

4 middelslag uie, grofweg gekap
2 koppies wit asyn
1 middelslag of 2 kleiner ryp (selfs oorryp) papajas, geskil, pitte verwyder en in blokkies gesny
2½ koppies suiker
1 mollige knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 x 3 cm knoets vars gemmer, fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 teelepel sout

Plaas die uie en asyn in ’n kastrol en bring tot kookpunt oor matige hitte. Kook vir ongeveer 15 minute. Voeg die papajablokkies by en kook vir ’n uur lank voordat jy die res van die bestanddele byvoeg. Roer totdat die suiker opgelos het en laat prut totdat die mengsel lekker dik is. Skep in ’n lekker groot fles en verseël. Bêre op ’n koel plek.

WENK: Voeg ’n lekker oorloop-eetlepel hiervan by jou pot wanneer jy weer kerrie maak. Net daardie een skeppie verhef ’n doodgewone potjie tot kos van die gode.

The post Papryp papajas en pitte appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>