...
Woordfees TV 2021
...
Wanneer die verfilming van teater ter sprake kom, dink ’n mens dadelik onwillekeurig aan die uitstaande produksies wat wêreldwyd deur die Britse National Theatre Live/Home-inisiatiewe beskikbaar is. Ondanks dié ondernemings se tegniese vernuf, bly jy egter daarvan bewus, voor jou TV of in die bioskoop, dat jy as ’t ware virtueel oor iemand se skouer koekeloer – ’n tweede prys, in plaas daarvan om in die teater self te sit.
Ter karakterisering van Wolf Britz se produksie van Reza de Wet se Mis, wat deur Jaco Bouwer vir die 2021 Toyota US Woordfees verfilm is, wil ’n mens egter wyer reik: Na iets soos die avant-garde inkleding van Lars von Trier se Dogville. Die ontwerp is soos vir ’n verhoog en daar is ’n definitiewe “vierde muur” waarvolgens die spel merendeels gerig is, maar Jorrie van der Walt se kamera beweeg vryelik rond, ook met digbyskote – soms in die ekstreem, as ’n soort visuele sinekdogee van hande wat vroetel of lippe wat praat.
Al dié tegniese oorwegings staan hier in diens van ’n onheilspellende ondertoon van benoude afwagting op iets bonatuurliks wat kom. Miem (Nicole Holm) en Meisie (Jane de Wet) is op die laaste aand in Augustus besig om goiingsakke te maak, waarin hulle dieremis aan die boere verkoop. Buite loei die wind, en wanneer die deur oopgaan, klink sirkusmusiek op in die verte. Twee jong vroue het die afgelope paar jaar uit die distrik verdwyn. Miem is seker iets boos is hulle aangedoen en dat daar dié aand nog ’n slagoffer sal wees. Maar sy is ook vas oortuig Meisie is veilig solank dié binne bly.
Gertie (Martelize Kolver), ’n middeljarige, ongetroude LO-onderwyseres, daag onverwags op omdat sy bang is om die nag op haar eie deur te bring. Nie lank nie, en daar is nog ’n klop aan die deur: Dit is die ene Konstabel Van der Riet (Laudo Liebenberg), wat deur die nag by die vroue sal waak. Ná aanvanklike agterdog jeens die blinde kontabel (met sy onwaarskynlik skerp gehoor- en reuksintuie), is Miem spoedig besig om die beskimmelde Meisie se hubaarheid op te hemel, en Gertie raak al hoe meer die koket. Vir die kyker bly daar egter die vrae: Wie presies is die konstabel wat so baie praat en tog so min sê? En wat maak hy regtig daar?
...
Al is De Wet se teks ekonomies wat narratiewe inhoud betref, is dit deurdrenk met Jungiaanse idees en die magiese realisme.
...
Al is De Wet se teks ekonomies wat narratiewe inhoud betref, is dit deurdrenk met Jungiaanse idees en die magiese realisme. Meisie, Miem en Gertie is drie vroulike argetipes (of volgens die feminisme, dalk stereotipes?): Die maagd, die moeder en die oujongnooi. Daarenteen is die konstabel ’n versyfering, vormloos, dalk soos ’n terapeut wat terugvra en bevestig, maar wie se motiewe onpeilbaar is. Meisie se pa het sewe jaar tevore “opgegaan” – op die solder gaan woon, waarvandan hy deur ’n luik (waaruit ’n skinkbord kos en die slopemmer af- en opgehys word) en met sy geraas grotendeels, op ’n amper goddelike manier, die ritme van die huishouding bepaal. Die sirkus wat op die dorp aangedoen het, tegelyk ’n trekpleister en bron van eksotiese vrees vir Meisie, is vir Miem die vergestalting van opperste euwel… tog moedig sy Gertie aan om met geveinsde onbelangstelling van haar besoek aan die “fratse” vertel.
Die mans in die stuk is dus ontoereikend, onbeskikbaar, afgetrokke en, uiteindelik, boos – maar dit is die vroue wat dié boosheid binnenooi, gul ontvang en onkrities koester. Miem klou so vas aan ’n Calvinisties-parogiale wêreldsiening dat sy die konstabel vinnig glo en vertrou, ironies genoeg, net so blind as wat hy hom voordoen. Selfs haar behoefte om haar dogter getroud te kry, blyk meer ’n poging te wees om weer haar man te sien en so die patriargie te beaam. Meisie, vasgevang in ’n lewe vol stank en brommers, is daarom sonder enige ware pantsering teen die onheil. En Gertie, in haar amper tasbare onvergenoegdheid, is self alte vatbaar vir die bybelse en onbybelse versoekings wat die konstabel simboliseer.
Stefan Benadé se uitstekende stel, oorwegend van houtrame en ogiesdraad, bied gepas bloot die suggestie van ’n veilige tuiste. Die grense tussen binne en buite is onderhandelbaar sodat daar van meet af aan min twyfel is dat watter sinistere entiteit ook al rondsnuffel, uiteindelik toegang sal verkry. Die klankontwerp is treffend, en dié trefkrag lê ook in die afwesigheid van klank: Wanneer die musiek deur oop vensters en deure of tydens buiteskote hoorbaar word, word die skrille kontras tussen die onsekere veiligheid binne en die winkende gevaar buite des te meer onderstreep. Die musiek van Mr. Cat and the Jackal is speels, maar met oneweredige ritmes en die valserigheid van akkordion, dui dit ook op die tydverdrywende en kunsmatige aard van die sirkus in die verte.
...
Die kinematografie is deels fluïed, deels abrup – wanneer ’n akteur praat, sien ’n mens heel dikwels iemand anders se gesig of agterkop, en só ’n ontliggaamde stem voel bedrieglik.
...
Die beligting staan, in sy subtiliteit, bo die ander ontwerpsaspekte uit. Aan die een kant skep dit ’n herbergsame luim, maar die ander kant, ook die basispalet waarvolgens die kamera gesigspel in skerpe reliëf inneem en so die oënskynlike veiligheid ondermyn. Die kinematografie is deels fluïed, deels abrup – wanneer ’n akteur praat, sien ’n mens heel dikwels iemand anders se gesig of agterkop, en só ’n ontliggaamde stem voel bedrieglik. Die algehele beeld is een van ’n liminale ruimte – die karakters is vasgevang, maar ook op ’n keerpunt.
Holm se spel is uit die boonste rakke; haar Miem is insgelyks fier en broos. Ook Kolver en De Wet lewer knap spel. Gertie mog van tyd tot tyd haar skanse laat glip, maar sy bly in wese “suurder… soos dikmelk”, en Meisie vorder van grootoog skugterheid tot die skok van momentele bevryding, skoenloos in haar voorstellingsrok. Die trefkrag van die konstabel se ontmaskering lê onmiskenbaar op Liebenberg se skouers, maar ’n mens is nie seker dit slaag uiteindelik heeltemal nie; sy ewewigtige benadering tot die aanvanklike enigma koop ’n mens wel.
Te oordeel aan wat Britz en Bouwer vermag het, is Afrikaanse teater steeds kerngesond en staan nie vir die beste in die wêreld terug nie. Die meer filmiese benadering, eerder as om net staties te fotografeer, beteken dié aanbieding van Mis kan nog lank as riglyn bly staan. Dit beteken egter nie dat ’n mens nie reikhalsend uitsien na wanneer dit weer moontlik sal wees om vol gehore in regte teaters te ervaar nie.
The post Toyota US Woordfees | Dié aanbieding van <em>Mis</em> kan nog lank as riglyn bly staan appeared first on LitNet.