Op 10 Mei skryf Thomas ’n kort, bondige en eenvoudig-verstaanbare brief wat die ontstaan, ontwikkeling en bewys(e) van die evolusie-teorie beskryf. Raai wie reageer eerste op sy skrywe? Reg geraai: Dolf, Kobus de Klerk en FC Boot, sommer al vróégoggend.
Nie Dolf of FC plaas énige wetenskaplike argumente op die debatstafel nie, nee Dolf saai verdagting en FC sê Thomas hou mense onkundig. Nie een sprak ’n sprook oor Thomas se punt dat jare en jare se portuurgeëvalueerde navorsing die evolusie-teorie onomstootlik bewys het nie.
Kobus de Klerk span egter die kroon met die volgende stelling: “Die grootse fout wat julle maak is om te meen dat dit wat empiries nagevors word, bloot net op die fisiek waarneembare berus, terwyl empiriese kennis insluit alles dit wat gegrond is op ervaring of proefneming. Dit is juis hier waar julle absoluut vaal, want deel van die ondervindelike is juis ook nie fisies waarneembaar nie maar speel net so 'n kardinaal belangrike rol soos die fisieke. Dus voldoen julle nie eens aan die basiese beginsel en vereiste van werklik, objektiewe wetenskaplike benadering nie. Julle sluit doelbewus 'n baie belangrike empiriese ervaringsveld uit en dit is waar julle gruwelik faal wat nog die ondergang sal beteken van jul geliefkoosde teorie wat ten doel het om God uit die hele skeppingsproses van lewe te probeer uitskakel.”
Hoe op aarde stel hy “empiriese kennis” gelyk aan “ervaring” en “die ondervindelike”? G’n wonder hy beskuldig ons daarvan dat ons “vaal” nie. ‘n Mens voel so half valerig as jy sulke knolle vir sitroene aangebied word. Ten minste weet ons nou: Spirituele Intelligensie (SI) verwag van die wetenskap om sy navorsingsveld te “ervaar” en te “ondervind” alvorens resultate bevestig word. Nou toe nou. Hoekom klink dit vir my meer na ‘n kerkdiens met kitare as na “empiriese navorsing”?
The post Vir Thomas, Panda, Angus en die res: Spirituele Intelligensie opgeklaar appeared first on LitNet.