Waarom die gode altoos die mense op my pad bring of oor my sypaadjies laat lê wonder ek by die dag al meer.
Staan en hout kloof want dis goeie arbeid en eerlik en jy verkwansel nie magiese snert nie toe die manne my op die skouers klop en beduie hier’s iemand wat onder oë gespreek wil word. Dis ernstig want hy weier om met een van my trawante te praat.
"Ek het vir jou 'n paar goed. Koeldranke en goed. Stel jy belang?"
"Jy is wie nou weer?"
"Ek het **** slaghuis gehad. Ons maak nou toe. Wil jy die goed hê? Halfprys. Daar’s hope vleis en ander goete ook. Ek moet laat loop."
Mens word deesdae nie meer maklik geskok nie, maar by die aanhoor van die ondergaan van hierdie slaghuis moes ek eers 'n ruk stilstaan en herbesin.
"Hoekom? Ek was dan net verlede week daar en jou rump was soos altyd prima ...?"
"Die huur. En die krag. R700 moes ek elke dag hoes net vir die munisipale krag."
Ek steier amper agteroor want my daaglikse elektrisiteit-uitgawe is maar net R450, so ek ag myself baie baie gelukkig. En my bra J het hoeka beduie hy hoes so R70 000 per maand vir die voorreg om 'n bakkery oop te hou.
Dit alles nog voor die huur betaal is ... En die salarisse ... En die verskaffers ...
Ons stap deur die donker plek en ons onderhandel nie. Want jy onderhandel nie met iemand wat reeds in sy moer is nie, jy maak die prys en hy vat dit en klaar. Want dit is JUIS waarom hy nou bedel en smeek dat die scraps weggevat word sodat hy sy huis se huur hierdie maand kan betaal. Ek vra hom sy prys vir sy vleis en hy kyk weg en ek beduie na sy yskaste want ek het 'n paar Somaliese klante wat yskaste soek en hy beduie dis in die balju se hanne. Ek vra hom of die balju weet daarvan want die grootste yser en eiser is onse eie DA raad en hy beduie ons kan dalk die yskaste deurdruk sonder dat die balju of munisipaliteit weet daarvan. (En ons kan steeds, want niemand hier gaan tog piemp nie, of hoe?)
"Hoeveel vir die kaste en vrieskamers se vleis?"
"R800. Ek moet huur betaal die maand, en jy weet ..."
"Vir alles?"
"Die lot. Here, eks desperaat."
Ek nader die eienaar van die gebou wat geweier het om sy R50 000/maand (WTF?) huur te verlig en hy beduie aan my dat hy, jip, wag daarvoor: VERSEKERING het op die feit dat sy huurder nie die R50 000/maand huur kan bekostig nie. So, die huurder sien sy gat, kinders en vrou en dergelike, en die eienaar van die gebou maak dan meer geld want dan word sy "verlies aan inkomste bereken oor 'n tydperk ongeag of hy intussen die toerusting verkoop het". Die heer beduie dat dit vir hom beter is dat die slaghuis bankrot is want nou kan hy waardevermindering ook eis by einste versekering ...
As mens jouself hierin bevind dan is jy weereens met intense haat gevul teen die stelsel wat klein besighede aktief ondermyn. Jy haat idiote wat kan onderhandel om die groot konglomerate (en ons mag hulle nie hier noem nie om logiese, shame, redes) ter wille te wees. Wat sorg dat jou produk wat jou mammie koop so met haar trollie vir trollie meer as die helfte sou gekos het van wat dit nou kos. Want jy hoes. En dan sien ek die digters en predikers en die dansers om die vure kerm en kots oor goed wat binnekort, as dinge so aangaan, baie beslis buite my en jou bereik sal wees.
Enige stelsel wat sy entrepreneurs ondermyn, wat klein sake nalaat, wat armes baie slim belas met elektrisiteit-, brandstof en dergelike belastings is gedoem om te beleef hoe die onderste deel van die piramide die skool afbrand en die hospitaal beroof. Net jammer in plekke soos hier in Oesterland is die Broeders nog steeds baie baie meer magtig as enige grondwet, menseregte, digters se pleidooie en selfs presidente se manewales.
Jou stelsel het reeds jare gelede ingeplof. Ek moet dit elke dag beleef, tot my eie nadeel.
oester
The post Bankrot slaghuis appeared first on LitNet.