Het die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) ’n geleentheid gemis om van die politieke druk te ontsnap?
SARU het die bestuur van die Southern Kings, gesetel in die Oos-Kaap onlangs oorgeneem. Die Oos-Kaap is tradisioneel die tuiste van “swart rugby” soos vergestalt in die vorige bedeling waar dit die sterkste en grootste unie in die voormalige SARU se stal was. Die gebied was ook wyd bekend as die bakermat van die alternatiewe voormalige SACOS administratiewe strukture.
Die Southern Kings is by verre die “franchise” wat tans die swakste vertoon in die SuperRugby-reeks.
Die mees algemene “verskoning” vir ondergemiddelde vertonings is dan gewoonlik dat daar ’n “leerkurwe” is.
As mens dan vandag kyk na die samestelling van die span van die Southern Kings vir die wedstryd op 6 Mei bestaan die span uit 9 “wit” spelers. Die meerderheid van die spelers sal nie die beginspan van die ander franchises maak nie.
Nou wonder mens kan SARU nie hier sê ons gaan die franchise vir ontwikkeling van ‘swart” en ander gekleurde spelers gebruik nie? Ek dink veral juis aan die geval van Edgar Marathule, wat die eerste paar wedstryde van die bank af gespeel het en toe hy die kans gegun word sy plek met uitstekende spel gevestig het. Is daardie doemprofete wat sê dat afrigters “wit” spelers voorkeur gee nie dalk in die geval reg nie? ’n Afrigter wat transformasie bevorder sal mos moeilik sy werk verloor, selfs al sou daar nie dadelik gunstige resultate wees nie.
Sodanige “strategie” kan dan juis gebruik word om spelers vir toetsrugby voor te berei asook dan reeds daar vas te stel of diesulkes op hierdie vlak presteer. Hierbenewens kan belowende spelers ingevolge die parlementêre komitee vir sport se riglyne geleenthede gebied word om as toekomstige toetsspelers voorberei te word. Natuurlik sal dit as rassisties beskou word sou dit slegs as ’n “swart” span bekend staan, maar indien daar gesê word dat bv minstens 9-10 spelers of selfs meer swart moet wees kan dit mos nie as rassisties gesien word nie. Dit is dan juis wat die voorstanders van transformasie eis? Sou daar dan kapsie aangeteken word sal diesulkes se onderrok mos uithang.
SARU kan dan natuurlik ook “bewys” dat hy ernstig is om transformasie en gepaardgaande ontwikkeling van “swart talent” te ontwikkel.
Het SARU dan dalk ’n politieke truuk gemis hier? Sou dit nie ’n effektiewe argument voor die parlementêre komitee gewees het nie, asook ’n goeie argument om die Minister se uitlating en “straf” te weerlê? Sportliggame behoort te besef dat in hierdie tye dit noodsaaklik is om ook die politieke omgewing te “lees” en die politieke spel te speel. Dit is nie net so belangrik om die spel te “speel” nie, maar uiters nodig vir oorlewing in die huidige omstandighede.
Groete
Fanie Cronje
The post Transformasie, sport en politiek appeared first on LitNet.