Dikwels, op die radio en televisie, wanneer die gesprek oor Afrikaans gaan, word aan die gas gevra of Afrikaans gaan oorleef. Die antwoord is altyd “ … solank die taal nog gepraat word sal hy nie doodgaan nie.”
Op die absurditeitsskaal van 1 tot 10 is hierdie ’n kategorie 11 absurditeit; skoon buite die skaal. Dit is net so absurd as wanneer mens sou sê “solank hierdie kar nog ry sal hy nie gaan staan nie” of “solank hierdie vliegtuig nog vlieg sal hy nie neerstort nie.”
Die waarheid is dat Afrikaans sal doodgaan as hy nie meer gepraat EN geskryf word nie; geskryf word in die vorm van hofverslae, wetenskaplike publikasies, tesisse, verhandelinge ens. Dit is reeds besig om te gebeur; oor die algemeen praat mense swak Afrikaans. Oral, veral in die Kaap, kan mense skaars twee sinne agtermekaar sê sonder om Engelse woorde te gebruik of oor te slaan Engels toe.
Op Facebook lyk dit of net een uit elke 50, miskien 100, mense kan spel – mense kry maar net nie die een-woord-een-begrip-storie onder die knie nie, kyk maar na wanneer die lys name en titels gegee word na ’n program op KykNet. Op radio is party omroepers en -sters se Afrikaans jammerlik; ‘doen’ word gebruik soos in Engels. Goggas soos ‘ek weet wat jy meen’, ‘kom ons hardloop deur lysie’, ‘aan die een hand . . . aan die ander hand’ is algemeen. ’n Omroepster (en haar vroulike gas) praat nou die dag die hele tyd van ‘hommelbye’ in plaas van ‘hommeltuie’, die ander gas het darem van ‘hommeltuie’ gepraat maar die omroepster het nie die skimp gevang nie. Aan die anderkant nou weer, sy’t die woord so baie gebruik dit sal seker na dese as korrek aanvaar word.
Met Engels nou die amptelike taal sedert ’94 gaan Afrikaans met rasse skrede agteruit. Benewens die feit dat al wat leef en beef nou wil verengels is daar nog ’n heksejag op Afrikaans ook. Mens sou nou dink dat, met dié dat die Afrikaner wat nou in ’n hoek gedruk is wat sy taal betref dat hy gaan terugveg maar nee, in ’n poging om tog net nie as polities nie-korrek gesien te word nie, neem hy ook nog deel aan hierdie heksejag. Wat ’n verleentheid.
Terloops, van amptelike taal gepraat: Daar is jou werklikwaar mense wat glo die land het elf amptelike tale. Hoe naïef kan ’n mens wees?
Dit is natuurlik die Afrikaanssprekendes se eie skuld dat Afrikaans agteruitgaan; dit is per slot van rekening hulle wat Afrikaans praat en skryf. Die raat vir hierdie slapgatgeit is ‘n ander onderwerp; ek het net hier beklemtoon dat die stelling ‘solank Afrikaans nog gepraat word sal hy nie doodgaan nie’ die toppunt van a-logika is.
Jan Rap