soggens skuif die son ons voete warm
tot in die sy, waar ons strepe hang
ons is bokke, koedoes
in die heelal
uitgesprei oor die koppe, die rante, hange, valleie, klowe, kranskoeltes, digbegroeide rivierloopdraaie, aalwynknope, swart olienskadu’s
en hierin wentel ons, saam, oor plaasdrade, teen wildheinings af
op soek na oorspringplek, op ou bergpaadjies langs, om besembos en blinkblaar,
oor suurpol en rooigras, verby klipstapel en rotshoop, die planete van
dassies, rooikat, ystervark, vlakhaas, pofadder, bleekvlerkspreeu
en ons kalm oë drink die wip van die uur
aaneengestroom, onafgebroke
nie as tyd nie
maar as leeftyd
by die koel fontein
voed ons die aarde, en die aarde ons
neuse raak aan mekaar en god,
’n skepping, lippe vol intieme
elektrisiteit fotosintetiseer
deur die somer, herfs, winter, lente
ente pyn, seer van hart,
korte duur, elle lang,
leef en beef
tot vul
wat uit
die herd ontsnap
die drade knip
die gewelf ontglip
ek kyk na jou
en jy na my
en ons bene lê die wêreld wit
ons lied se sleepsel kwispel lispel
in die tuig om strydros
die juk op trekos
kreun en kraak
die werwels wat
ons legkaart bou
in lig wat nou
is son wat
sak
ons is bokke, koedoes
in die heelal
saans trek die nag ons toe
ons vou ineen en hang
soos vlermuise
in die wind
↧
koedoes
↧