In die hemel was hy nie ’n god nie, skaars ’n held. Maar hy was die koning. Soek was sy twaalfde dogter, gebore van sy twaalfde vrou.
Dogters word nie prinse nie, nie eens in die hemel nie.
Hulle sê sy ander vrouens en dogters sit en weef in ’n vallei. Hulle weef trane soos mens ’n storie skryf. Woord vir woord. Druppel vir druppel.
Soek se ma het ’n mandjie in die kremetartboom buite die kamer gehang voor haar geboorte. Sy het met die ape bevriend geraak, snags aan hulle stories vertel en lekkernye met hulle gedeel. In die mandjie was ’n tou, ’n opgevoude stuk papier en ’n blik met koringsaad.
“Jou naam is Soek – jy mag vra wat jy wil,” het haar ma gefluister toe sy die pasgebore baba in die Moses-mandjie wegsteek. “Haar naam is Soek – sy mag gaan waar sy wil,” het haar ma vir die ape verduidelik. Haar ma is toe weg na die vallei, sonder haar dogter en met ’n mes in haar keel.
‘n Meisie word vinnig groot as almal dink sy’s ’n aap. Dink net wat die koning se mense aan haar kan doen met klippe en hande en woorde en oë. Tande breek, spiere kneus. ’n Vel brand maklik, ’n lyf weet goed hoe om nog bloed te maak.
Dink net hoe sterk so ’n meisie word. Met klippe en hande en woorde en oë.
Dink net hoe stil so ’n meisie word. Hoe kwaad.
Op ’n dag laat sak Soek die mandjie af na die aarde.
Sy klouter self ondertoe. Dan ruk en pluk sy tot die tak van die kremetart daar bo breek en die tou langs haar voete val. Hulle sê ’n stukkie van die hemel het die dag afgeskeur.
Soek vou die papier oop. Dit verander in ’n wit muil.
Sy strooi ’n handvol saad op die grond sodat sy die plek weer sal ken as sy ooit wou teruggaan en klim op die rug van die muil.
“My naam is Soek. Ek kan gaan en vra wat ek wil.”
Stories gebeur onderweg. Bietjie vir bietjie en ook in stukke, net soos vrouens trane weef. Van land na land, van bord na bord.
Hier op die aarde om vol tafels en bakke is daar nooit stilte nie, sien Soek. Party onderwerpe word wel afgeskeep. Hulle kruip weg in die hoeke van kombuiskaste, en wag vir ’n kind of vreemdeling wat nie die fatsoenreëls van die huis ken nie.
Partykeer is Soek die vreemdeling, soms is sy die gasvrou.
Op ’n dag soos vandag, om ’n tafel soos hierdie een, uit borde soos alle ander, eet twaalf van hulle saam. Die gasvrou sê: “Ek het gewonder wat om vir julle voor te sit? ’n Norra, ’n halfgebakte rabarbertert, ’n handjievol rosyne, dalk olywe of falafel – dit ken julle mos – karkoerkonfyt op uitgeryste mosbeskuit, ’n katvis, ‘n kilogram kritiek, of ’n taktvolle gesprek oor ons almal se doen en late, my ou katkisasieboek, of die vrae wat sommerso nog uit my kindertyd uit my mond glip?”
“Die disse lyk heel goed,” sê die man met die helder lig in sy oë. “Kan ons maar met ons hande eet, al is dit stukkend?”
“Dis messegoed wat ongemak veroorsaak,” sê die gasvrou.
Die man met die fluit vertel vir Soek van die groot droom waarin alles uitgedroom is. Goed en sleg, oor en oor.
“Daar is ook afkooksels vir onverganklikheid wat gebruik word. Vermiljoen, rooiswawel-arseen, glimmerlei, soutammoniak, salpeter en geelklip.”
“Soos die towerdrankie van Getafix,” sê die kind wat boeke verslind.
“Die ander metodes is meer doeltreffend,” sê die man in die saffraanklere.
“Bedoel jy kalmte, sagtheid van gees en beskeidenheid? Dit smaak wel lekkerder,” sê die profeet, wat ook as weeskind grootgeword het.
“Onder andere, maar ook die gesprekke, hierdie einste woorde wat ons nou gebruik.”
“In die begin was die Woord,” mymer die pa.
Dis ook net mans se woorde wat tel, dink Soek. Selfs hier tussen mense. Sy wil saam met haar ma’s en susters om ’n tafel sit en praat oor die woorde wat niemand mag sê nie, die vrae wat weggesteek word.
“Maar wie het God geleer om te skryf?” vra die oudste seun.
Iemand bid: “Seën, Here wat ons eet, laat ons U nooit vergeet.”
“Ek bid in prentjies,” sê die jongste seun.
“Toe ons jonk was, was strokiesprente van die duiwel,” sê die ouma.
“Ek het nie geweet die duiwel kan teken nie, Ouma.”
“Hoe weet mens wie die duiwel is, Ouma? Is hy altyd sleg?”
“Van Judas is verwag om die vat te breek sonder om wyn te mors, my kind.”
“Arme bliksem,” sê die pa.
“Die duiwel het opgegee om mense te verlei met die groot dinge – dis die klein goedjies wat hy gebruik,” sê die profeet.
Soek wonder of haar pa toe ooit sy seun gekry het.
“Wat sal ons met die duiwel doen as ons hom kan vang?
“Sal ons hom sherbet voer en voer tot hy rond is, tot hy bars?” vra die jongste kind.
“Ek sal hom vra waar hy vandaan kom, en wie sy vriend is, of hy alleen voel,” sê die ouboet.
“As hy sy hande voor ete gewas het en hy kou toemond, kan hy maar saam eet,” sê die gasvrou. “Onthou tog om servette te gebruik en nie julle moue nie, kinders.”
“Wat sal hy eet?” wonder die ouma. “Soek, wat sal jy hom voer?”
“Varkribbe,” sê die jongste kind.
Die kortste pad na ’n man se hart is deur sy borskas, dink Soek.
“Maar sê nou maar die duiwel besluit om goed te word, wat sal dan gebeur?” vra iemand.
“Daar is nie ’n duiwel nie. Dis net verskillende maniere om na dieselfde ding te kyk. In elk geval, Ouma sê altyd hou jou oë op jou eie bord.”
“Dis net ’n storie van Lucifer wat ’n engel was en soos God wou wees.”
Kan alles nie net makliker wees nie, dink Soek.
Die man met die lig in sy oë sê saggies: “Jou naam is Soek, jy kan glo wat jy wil.”
“Engele van vuur, mense van grond en water, is God dan gemaak van lug, Pappa?”
Die gasvrou sê: “Is julle reg vir nagereg?”
Soekie hoor die boeke val voor sy wakker word. Die deur van haar kamer stamp stamp stamp teen die boekrak. Stamp stamp stamp. Hy probeer nie eens meer om dit saggies te doen nie. Wie sal hom in elk geval hoor? Haar ma kan niks meer doen nie. As sy haar oë oopmaak, sien sy hoe die diefwering voor die venster wit skyn in die maanlig. Dit maak blokkies op die vloer. Stamp stamp stamp. Sy staan op, begin haar boeke een vir een optel.
Die Koran, die Bybel, die Ramajana, die Vedas en Puranas, haar ensiklopedie oor Afrika-gelowe, die Pali Kanon en Dhammapada.
As die woorde binne-in tog maar waar wil word.
Stamp stamp stamp. Soekie pak die boeke in hopies om haar bed. As haar pa die deur finaal oopdruk en die swaar boekrak skuif, tel sy die laaste boek op. Die Grimm-broers se sprokies.
The post Bietjie bietjie maak baie appeared first on LitNet.