Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Piet Croucamp reageer op Breyten Breytenbach se ope brief aan Wim de Villiers

$
0
0

Dit was nog altyd so dat ’n redelike stem die beste kans het om na geluister te word. Breyten Breytenbach het tans veel te sê oor Afrikaans, byna altyd met bytende sarkasme en ’n leksel meerwaardigheid. Dalk is dit al taal wat hy deesdae verstaan. Breytenbach het duidelik iets in sy twaksak wat horingdroog geword het en die frustrasie sweet nou uit sy mondhoeke. Dit bly maar ’n morbiede vermaaklikheid hoe reaksionêres altyd die bruin mense se gebruik van die kombuistaal aan die nekhare insleep by die argumente teen verligting, so asof die lammervangers en die dopstelsel se kinders van gister nou weer voorgestoot kan word om te dien as menseskild teen die werklikhede van ons benepe opinies oor “eenvormigheid”. Breyten, wat al vir dekades, sedert van agter die tralies, Afrikaans soos ’n hoer behandel het; wanneer nodig het hy geskryf in Afrikaans en wanneer nodig geswets en geskel op die taal. Maar slagofferskap en vroomheid kom beide maklik vir die “Fransman”. Dieselfde bedompige gedagtegange vaardig in die reaksionêre verwyl – wat hy nou ter wille wil wees – was sy teiken toe dit maklik was om ondertoe te skop. Op sy oudag is hy egter altyd gereed met kwelgeestige aanmoediging vir wie ook al om ’n segsman vra; aandag trek met goedkoop zen en die gemoduleerde waardigheid van ’n wolf in skaapsklere. Maar diegene wat die onverstaanbare gerym gister nog net as meineed kon verteer, sit nou in die voorste ry by die bitterbek se konserte; want my vyand se vyand is nou my vriend.

Wim de Villiers moet inderdaad luister, maar hoekom na Breyten, wat nog nooit vir iets anders kon pa staan of opkom as dit wat na sy (eie) beeld geskape was nie. Wim de Villiers kan vir homself praat, maar heel waarskynlik besef hy dat diversiteit en die voortbestaan van Afrikaans nie bedreig kan word deur die kruipende normaliteit van universele veronderstellings nie. Afrikaners is al in byna elke opsig voëls in ’n wêreldnatuur; dit is nog net die taalbulle en die aandrang op ’n koestering van “die lekker ou dae” wat hul terughou.

Hoekom Afrikaans nou skielik op bevrydingspolitiek se korrupte nalatenskap se beskerming moet aandring, weet die duiwel alleen. Boonop, hoe moeilik is dit om te verstaan dat universiteite aan Suid-Afrikaners behoort, nie Afrikaners nie? Daar is ’n goedkoop mite wat Breyten en sy medeselfbevlekkers maklik staanmaak sonder substansie: dat kulturele diversiteit noodwendig kwaliteit veronderstel en dat komplekse denke net tot stand kom uit taal- en kultuurverskeidenheid. Daar is geen bewys dat enige van die meesterbeginsels en -opinies wat vandag ons leefwêreld definieer, geskoei is op die oppervlakkige werklikheid van diversiteit nie. Ek is bereid om die voorvelle van ’n 1 000 Afrikaners daarop te verwed dat Breyten Jonathan Jansen ook met nydigheid bejeën. Die Breyten wat nog nooit ’n dag lank meer as ’n reënboogkwas en ’n pretensieuse pen moes bestuur nie. Daar was darem geen erger klip in die skoen as die wederstrewige “jollie hotnot”, Russel Botman nie, nè Breyten? 

Ek wil Breyten aanmoedig om – nou in die beproewende uur anderkant raklewe – ook die Afrikaanssprekende jeug buite AfriForum se paramilitêre dampkring te besoek met sy kwaksalwerteorieë oor Afrikaans se “stand, taak en toekoms”, want dit is vir almal behalwe vir Breyten – in sy duursame Paryse verblyf – duidelik dat jong Afrikaanssprekendes nie sy benepenheid met Afrikaans deel nie. By die Universiteit van Pretoria waar die sieg heil lankal nie meer ’n broederlike gemeensaamheid soos by die Puk impliseer nie, het meningsopnames dit duidelik gemaak dat die wit Afrikaanse studente wat steeds aandring op Afrikaans as akademiese taal, nie meer beduidend genoeg is om die koste te regverdig van die brandstapel wat Breyten vir Wim de Villiers stook nie. Taal en kultuur het, soos verskeie ander ismes, ’n morsige verlede en hoe ook al jy die geskiedenis van Afrikaans wil oorskryf, jy sal nie die bloed van die mure af kry nie.

'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

Breyten Breytenbach

University Seminar

"Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus?"

The post Piet Croucamp reageer op Breyten Breytenbach se ope brief aan Wim de Villiers appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>