Op 7 April het die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands hulle weeklikse middaguurgesprek gewy aan ’n gesprek tussen studente oor die vyftigjaarherdenking van die opstande in Soweto teen Afrikaans as verpligte onderrigtaal.
Die studente het die gesprek begin deur die redes te gee waarom hulle gekies het om Afrikaans te neem: Botha omdat sy vir haarself ’n werk en ’n toekoms in die taal sien, Kannemeyer omdat sy die letterkunde mooi vind en Fransman omdat hy van skool af Afrikaanse mondelinge geniet het.
Swart het volgende vir die studente gevra of hulle dink dat daar waarde lê in die feit dat die meeste Afrikaanse mense tweetalig is. Kannemeyer is van mening dat meertaligheid wel ’n waardevolle eienskap is, aangesien dit beteken dat jy met ’n verskeidenheid mense op verskillende maniere kan kommunikeer en sodoende hulle perspektiewe kan verstaan. Sodoende “open Afrikaans wêrelde”.
Botha stem saam en verwys na ’n uitspraak van Mandela dat jy nie net met iemand se verstand nie, maar ook met hulle hart kommunikeer wanneer jy in hulle moedertaal praat. Sy dink dat dit baie belangrik is in ’n veeltalige land soos Suid-Afrika.
Fransman sê hy dink dat dit belangrik is dat veeltaligheid deur die grondwet beskerm word, omdat elke taal uniek is. Vir hom lê die waarde van meertaligheid dus in diversiteit en die bewaring van unieke taalsisteme.
Kannemeyer reageer hierop deur te sê dat die protesaksies van Open Stellenbosch en ander groepe van oor die land gesien kan word as die gevolg van die feit dat die grondwet nie toegepas word nie en onderwys in Suid-Afrika hoofsaaklik net in Afrikaans en Engels beskikbaar is en nie in al elf amptelike Suid-Afrikaanse tale nie.
Swart gebruik hierdie stelling om die gesprek terug te stuur na die 1976-opstande. Hy vra of die studente enige parallelle sien tussen die opstande van 1976 en dié van vandag.
Botha sê sy dink dat die onderliggende maatskaplike probleme (byvoorbeeld die gebrek aan behuising) nog grootliks dieselfde is as in 1976.
Kannemeyer stem nie heeltemal saam nie. Sy dink dat dit juis die feit is dat enige Suid-Afrikaner nou die reg het om te studeer waar hulle wil, wat veroorsaak dat meer studente aanspraak maak om te studeer in die taal van hulle keuse. As bruin mense sou haar voorgeslagte in 1976 nie kon gewees het waar sy vandag is nie. Sy stem wel saam met Botha dat armoede en ander maatskaplike probleme vir baie mense vandag steeds dieselfde is. Al het almal in teorie die reg op opvoeding, beteken armoede en agtergeblewe skole dat almal nie werklik gelyke toegang tot universiteite het nie.
Swart vra of die studente in die Departement Afrikaans en Nederlands genoeg ingelig is oor die land en Afrikaans se geskiedenis om met empatie betrokke te raak by hierdie kwessies.
Kannemeyer is van mening dat studente nie genoeg ingelig is nie en dat dit is waarom hulle oningeligte en onsensitiewe uitsprake maak, soos dat studente wat nie Afrikaans kan verstaan nie, net na die Universiteit van Kaapstad toe moet gaan.
Fransman sluit hierby aan en sê dat jong studente nie genoeg bewus is dat mense gesterf het vir die stryd teen Afrikaans nie, en dat dit dus steeds mense se emosies oor Afrikaans beïnvloed. Hierdie mense het nog nie die plesier wat Afrikaans kan verskaf ervaar nie – hulle assosieer die taal net met onderdrukking.
Botha blameer weer ’n gebrek aan opvoeding vir mense se vyandige houding teenoor Afrikaans. Sy dink dat skoliere nie genoeg geleer word oor die onderliggende kwessies wat aanleiding gegee het tot 1976 nie en dat dit veroorsaak dat Afrikaans die sondebok word, eerder as wat daar gefokus word op die mense wat die taal misbruik (het).
Kannemeyer sê dat dit waar is, dat sy aan die 1976-opstande dink as ’n vulkaan, waar Afrikaans die sigbare lawa is. Almal sien die lawa, maar nie die kragte en onderliggende elemente wat die verspuwing veroorsaak het nie.
Swart sê dat dit sin maak dat betogers fokus op dit wat sigbaar is, naamlik Afrikaans as simbool van onderdrukking. Dit is veel moeiliker om teen onsigbare magte te betoog. Hy bevraagteken of dit moontlik is om weg te beweeg van Afrikaans as simbool van onderdrukking.
Vir Kannemeyer lê hierdie moontlikheid in die onderskeid tussen Afrikaans en Afrikanerkultuur. As ’n bruin student identifiseer sy glad nie met Afrikanerkultuur nie en is sy trots op haar bruin kultuur. Afrikaans speel wel vir haar ’n rol in laasgenoemde, omdat dit deel vorm van hoe sy grootgemaak is en hoe ander mense haar sien.
Fransman stem saam dat Afrikaans deel is van bruin kultuur, omdat die taal gevorm is deur Europese, Khoi- en Afrika-invloede. Hy voel dat die beeld van Afrikaans verander moet word deur die mense wat Afrikaans praat – dat die taal sodoende nie meer net assosieer moet word met die wit onderdrukkers nie.
Kannemeyer versag haar vroeëre stelling deur te sê dat alhoewel Afrikaans deel is van haar identiteit, dit nie alle aspekte van haar lewe bepaal nie. In die gesprek oor Afrikaans as onderrigtaal moet studente fokus op dit wat almal gemeen het, naamlik dat almal wil studeer.
Botha stem saam dat studente moet fokus op wat hulle gemeen het, ook hulle gedeelde geskiedenis. Sy voel gefrustreerd omdat die gesprekke tussen studente te oppervlakkig is en dat studente net praat met mense wat dieselfde as hulle is, dat gesprekke tussen verskillende groepe studente nie genoeg plaasvind nie. Dit is deur hierdie gesprekke dat die nodige empatie geleer kan word.
Ook Fransman beklemtoon die belang van gesprekke. Hy sê dat as mense te veel vasklou aan hulle vooropgestelde idees, kommunikasie nooit kan plaasvind nie.
Kannemeyer verwys na ’n toespraak van Antjie Krog waarin sy gevra het hoekom Afrikaanse studente nie aanbied om die tolkapparate te gebruik sodat lesings in Engels aangebied kan word nie. Kannemeyer sien hierin ’n metafoor vir die aksie van jouself in ander se skoene plaas – sy glo dat dit dié soort empatie is wat nodig is om huidige konflikte op te los.
Op ’n soortgelyke manier sê Fransman dat hy dink dat hierdie empatie bevorder kan word as almal elke dag probeer om ’n paar woorde in ’n ander Suid-Afrikaanse taal te leer.
Botha sê ook dat ons só bereidwilligheid moet toon om te streef na veeltaligheid, al is dit ’n ideaal wat nooit ten volle bereik kan word nie.
Oor hierdie onderwerp sê Kannemeyer dat studente se frustrasies oor onderrigtaal geldig is, maar dat ons ook moet onthou dat die demokratiese Suid-Afrika nog net 22 is, soos sy. Solank daar beweging is in die rigting van veeltaligheid, transformasie en die ander ideale van die “reënboognasie” is dit “oukei” dat ons nog nie hierdie ideale bereik het nie.
Al drie studente voel dat ons nie kan wag vir die politici om hierdie doelstellings te bereik nie, dat elke Suid-Afrikaner daadwerklik ’n bydrae moet lewer tot die proses deur uit hulle gemaksones te beweeg en te kommunikeer met mense wat baie anders is as hulle. Al drie studente bevestig ook dat hulle nog glo in die ideaal van ’n reënboognasie. Kannemeyer sê dat jong Suid-Afrikaners soos sy grootgeword het met hierdie ideaal, en dat sy soms dink dat ouer mense wat nou sinies is oor hierdie ideaal, meer moet luister na jongmense, en by implikasie dat jongmense meer geleenthede soos hierdie gesprek gegun moet word.
Tydens die vraag-en-antwoord-sessie vra Marlene van Niekerk aan die studente hoe hulle dink hierdie soort gespreksruimte legitimiteit gegee kan word. Baie mense se stemme en opinies reis verder en hulle uitlatings “stick” – hoe kan jong Afrikaanse mense soos Fransman, Kannemeyer en Botha ook ruimtes beset en hulle stemme hard genoeg maak? Uit die gehoor uit antwoord ’n jong bruin student dat Afrikaanse mense meer konserwatief is, veiliger voel in kleiner gespreksruimtes en bang is vir blootstelling. ’n Verdere antwoord lê myns insiens in die manier waarop hierdie gesprek (en ander soortgelykes) aangebied word.
Ek dink dat daar waarde lê in hierdie soort kleiner gesprekke in Afrikaans en tussen verskillende Afrikaanssprekendes, maar as die vraag is hoekom minder mense (en slegs Afrikaanssprekendes) hierdie gesprek bygewoon het as die gemiddelde Open Stellenbosch-vergadering, is een bydraende faktor die feit dat dit in Afrikaans aangebied is. Tolkdienste is beskikbaar gestel, maar niemand het dit gebruik nie en deel van Open Stellenbosch se kritiek teen die universiteit se taalbeleid is juis dat die gebruik van tolkdienste sommige studente stigmatiseer en van die situasie verwyder. Moontlik kan ’n volgende gesprek aansluit by Kannemeyer se voorstel, na aanleiding van Krog se uitspraak, dat Afrikaanssprekendes eerder die tolkdienste gebruik terwyl die gesprek self eerder in Engels plaasvind. Studente van ander departemente en verteenwoordigers van ander belangegroepe kan moontlik ook genooi word om deel te neem ter wille van die bevordering van die empatie, veeltaligheid en diversiteit wat deur al die studente uitgesonder is as nastrewenswaardige ideale.
Foto's: C-J Sidego
The post US Departement Afrikaans en Nederlands gesels oor Soweto-opstande, vyftig jaar later appeared first on LitNet.