Die alombekende Suid-Afrikaanse digter, Breyten Breytenbach, en vele ander bekendes uit ’n verskeidenheid sektore het so pas ’n inisiatief geloods om te verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch sal bly. Die groep belanghebbendes onder die benaming Gelyke Kanse volg nadat aan die lig gekom het dat daar reeds geruime tyd in die praktyk afgewyk word van die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid wat, breedweg, gelykberegtiging tussen Afrikaans en Engels as primêre tale van onderrig verg.
Teen die einde van 2015 het die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) en lede van sy bestuurspan ’n nuwe taalbeleid voorgestel wat bepaal dat Engels die primêre taal van onderrig sou word en wat in 2016 geïmplementeer moes word. Hierdie poging om die afwykende praktyk te wettig het plaasgevind nieteenstaande die feit dat die raad van die US verantwoordelik is vir formulering van die taalbeleid.
Ten spyte van die feit dat die raad die rektor en lede van sy bestuurspan gerepudieer het, het laasgenoemde nogtans toegesien dat hulle voorstelle sedert die aanvang van die 2016 akademiese jaar geïmplementeer word.
Dit het tot hofsake aanleiding gegee om die US te verplig om sy taalbeleid te implementeer, wat op sy beurt tot gevolg gehad het dat die raad ’n besluit, wat die voorsitter later erken het onwettig is, aanvaar het in ’n poging om grootskaalse afwykings van die taalbeleid te probeer wettig.
Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het skaars ’n tussentydse bevel uitgereik dat die US sy taalbeleid moes implementeer of die bestuur kondig ’n voorgestelde nuwe taalbeleid aan - sonder dat dit deur die raad geïnisieer is en sonder dat die raad se nuut-ingestelde taalkomitee daaroor geraadpleeg is. Dit is weer eens in ’n poging om die de facto situasie te institusionaliseer, wat gekenmerk word daardeur dat Engels die primêre taal van onderrig is en dat daar van gelykwaardigheid tussen Afrikaans en Engels as onderrigtale geen sprake is nie. Intussen, is daar ook ’n regterlike ondersoek na afwykings van die taalbeleid aan die gang, wat deur die raad gelas is.
Die mede-stigters van die Gelyke Kanse-inisiatief bestaan uit talle prominente figure uit verskeie sektore. Hulle is, benewens Breyten Breytenbach, Herman Giliomee, Flip Smit, Christo Viljoen, Braam de Vries , Jan Heunis, en Ebbe Dommisse. Hierdie persone het ook ’n beswaarskrif verwoord wat die besware teen die voorgestelde nuwe taalbeleid van ’n groep belanghebbendes wat ’n gelyke kans vir Afrikaans aan die US bepleit en ook hul voorstelle vir ’n toelatings- en taalbeleid wat sal verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die US sal wees.
Talle prominente figure uit verskillende sektore van die Afrikaanse en ander Afrikatale-omgewing, ondersteun reeds die Gelyke Kanse-inisiatief. Hulle is onder andere Dominique Enthoven, Rhoda Kadalie, John Miles, Danie Marais, Sonja Loots en vele meer.
Breyten Breytenbach, wat nie net vir sy grensverskuiwende poësie bekend is nie, maar ook reeds jare ’n aktivis vir taalregte is, het die afgelope naweek ’n ope brief aan die rektor van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers, gerig.
“Dis ’n kwade dag wanneer daar in die openbaar gepleit moet word vir die erkenning en versterking van diversiteit en vir die effektiewe behoud van veelvuldigheid as onderskraging van die gedeelde, oorkoepelende waardes waarop Suid-Afrika se Grondwet berus,” begin dié brief.
Om seker te maak dat die beweging aanhou momentum bou, is daar ’n webtuiste (www.gelykekanse.com) en sosialemedia-platforms bekend gestel. Dit sal help om te verseker dat soveel moontlik belanghebbendes daarvan te hore kom en die Gelyke Kanse-inisiatief ondersteun.
Danie Rossouw, ’n prokureur wat ook as koördineerder van die Gelyke Kanse Inisiatief dien, verduidelik: “Ons het met die bekendstelling van die digitale ruimtes dit ten doel om die mobilisering vir die behoud van Afirkaans op die US-kampus nie net tot die howe en akademici te beperk nie, maar om ook die breë publiek te betrek. Die taaldebat op vele universiteitskampusse, maar in die besonder by die US, is om verskeie redes van breë openbare belang.”
“Dit is nou die tyd om moedig, kreatief, vindingryk, onbevooroordeeld en inklusief te wees,” moedig Breytenbach die publiek aan om ook deel van die inisiatief te vorm.
“Veeltaligheid is ’n voorreg en ’n kans. Trouens, die US behoort die leidende rol te kan neem in die ontwikkeling en bevordering van ander inheemse tale, en om mee te begin die tale wat in die streek aanwesig is en gebruik word en waarvoor daar praktiese behoeftes bestaan,” skryf Breytenbach aan die rektor.
Die US-bestuur versoek kommentaar en besware teen die nuwe taalbeleid teen 22 April en die Gelyke Kanse-inisiatief sal teen daardie datum soveel as moontlik belangstellendes op hul lys wil hê.
Besoek die Gelyke Kanse-inisiatief se webtuiste www.gelykekanse.com, waar die volledige ope brief aan die rektor ook besigtig kan word. Praat saam op die sosiale media-platforms; Facebook (www.facebook.com/gelykekanse), Twitter (@GelykeKanse) en Instagram (@GelykeKanse).
'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid
Breyten Breytenbach "Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus?" |
The post Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor appeared first on LitNet.