Titel: Springbokrugby-vasvra
Skrywer: Pierre François Massyn
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978177022992
Dit is altyd 'n plesier wanneer 'n boek wat deeglik nagevors is en lekker lees, op jou lessenaar beland. Springbokrugby-vasvra – 1001 vrae en antwoorde is so 'n boek.
Massyn se publikasie gaan baie verder as bloot vrae en antwoorde, want onder die antwoorde vind jy ook baie ander inligting en staaltjies wat met die vraag verband hou. Sy lang lys geraadpleegde geskrewe bronne, oud-Springbokke en ander toon ook dat daar baie maande lank aan die saamstel van die puik boek bestee is.
Talle rugbyskrywers het hulle al daaraan skuldig gemaak dat hulle onwaarhede klakkeloos herhaal – soos hoe ons spelers die naam Springbokke gekry het. Dit is iets waaraan hierdie boek nie skuldig is nie danksy die skrywer se gebruik van die Carolin Papers – 'n dagboek van die 1906-toer wat eers sowat twee dekades gelede ontdek is.
Van die vrae grawe darem 'n bietjie diep en moeilik en sal selfs vir die grootste kenners 'n yslike uitdaging wees - soos watter speler is vir die 1937-toer oor die hoof gesien uit vrees vir reperkussies? Of waarom kan die voormalige Springbokkaptein François Pienaar aanspraak maak op die titel "doktor"? En in watter posisie het Blokkies Joubert gespeel?
Hier is 'n makliker een: Watter een van die twee Osler-broers het Oubaas Markötter as die beste rugbyspeler beskou? Of: Wie was kaptein van die 1951-'52 toerspan? Maar het jy geweet watter beroemde Springbok het geen amptelike eerste naam gehad nie? Dis een van die baie interessante antwoorde in die boek. Soos watter Springbok het die MBE van koningin Elizabeth ontvang? So is daar ook 'n interessante storie oor wat gereeld in twee Bokke se kamer afgespeel het – 1001 altesame.
Dit beteken natuurlik ook dat lesers agterna baie wyser gaan wees! Die boek skets op sy manier ook die geskiedenis van Springbokrugby oor die afgelope 110 jaar.
Staaltjies is een van die pitkossies van rugby. Eintlik moet 'n mens sê was, want in die beroepsera het joernaliste slegs baie beperkte toegang tot die span se doen en late.
Die staaltjies oor die legenderiese oom Boy Louw is meestal bekend, maar daar is talle minder bekendes.
Een van die bestes gaan oor Die Lem, Henry Honiball wat so bekend was vir sy plettervatte. Voor 'n toets het elke speler kans gekry vir 'n finale woord. Honiball het geswyg en toe hy aangemoedig is om ook iets te sê, was sy antwoord: "Ag, Boys, kom ons tekkel sommer net die k*k uit hulle uit." Dis goed dat hy ook in die boek opgeneem is!
En wie het geweet die uithalerskrumskakel Fourie du Preez se bynaam was Vuurhoutjie? En dat hy die vinnigste drie in die Bokke se geskiedenis gedruk het – ná net 16 sekondes, teen die All Blacks!
Dit is 'n boek vir mense wat dieper as die (uitgerekte en vervelige) Superreeks in rugby belang stel en óók die ou dae se stories en feite wil herleef of dalk nou eers wil ontdek.
Die skrywer verskaf in sy inleiding interessante feite oor sy eie "rugbystamboom" en bestee ook heelwat ruimte aan sy Droomspanne – altyd 'n bonus vir lesers wat heftig wil saamstem of verskil!
Dis 'n boek vir waar en wanneer rugbygeeste vergader en sal tot 'n lekker stryery, rondkrap in die geheue, raaiwerk en gesels lei. Dis ook 'n boek vir jonger mense wat meer oor die ryk geskiedenis en gebeure van Springbokrugby en die amateurera wil weet – veral die seuns wat vandag nie weet wie Carel du Plessis en Naas Botha was nie.
The post Boekresensie: Springbokrugby-vasvra deur Pierre François Massyn appeared first on LitNet.