1-2-3 groei met spel
Nadia Viljoen
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799374711
Skrywers oor hulle nuwe boeke: Nadia Viljoen oor 1-2-3 groei met spel.
Nadia, jy is ‘n motoriese terapeut. Wat beteken dit en wat behels jou werk?
Motoriese terapeute werk met kinders wat hier en daar 'n motoriese afwyking het en verbeter dan sy motoriese komponente wat koördinasie, balans, ratsheid, ritme, ruimtelike oriëntering, lateraliteit en reaksietyd is, wat dan ook die kind direk help met sy sosiale asook emosionele vaardighede.
Ek wil dan net bynoem dat mense nie weet wat die verskil tussen ‘n motoriese terapeut en ‘n Arbeidsterapeut is nie. ‘n Arbeidsterapeut werk met kinders en volwassenesse met veel erger probleme. Soos om mense na 'n ongeluk te help om weer te leer loop, skryf, praat, ens., en baie werk selfs in hospitale.
Jou boek 1-2-3 groei met spel handel oor speel. Maar doen kinders dit nie in elk geval en outomaties nie?
Nee, vandag se kinders speel baie min, indien enigsins. Dit is die “duur” lewe van vandag se skuld. Beide ouers moet werk om die brood tafel toe te bring. Kinders bly in n nasorg of middae by ‘n huishulp en kyk televisie, bly met die vingers op die selfoon of tablette. Kinders stel nie meer belang om te speel nie, want vandag se jeug is gewoond aan die elektroniese speletjies. Dis aan sulke kinders wat nie buite speel en sy grootmotories ontwikkel nie, dat ons as motoriese en ook arbeidsterapeute hulp moet verleen.
Waarom is dit vir kinders belangrik om te speel?
Gewone speletjies kan help om jou kind skoolgereed te kry en die probleme wat in sy ontwikkeling staan, te oorbrug. Deur middel van spel kan jy jou kind se korttermyngeheue stimuleer, wat weer die basis vir sy langtermyngeheue vorm. Onthou dat speletjies ook ‘n kind se begrip prikkel en só help met redenering- en syfervaardighede. Dit bied ook ‘n geleentheid vir sosiale interaksie en in die proses ontwikkel jou kind emosioneel.
Op watter ouderdomme is jou boek toegespits?
Die boek begin van die ouderdom van twee jaar tot en met tien jaar. ‘n Kind kan motories goed/sterk ontwikkel tot die ouderdom van tien jaar. Ek sê nou nie hou op speel en ontwikkel as jy die ouderdom tien bereik nie.
Daar is selfs ‘n paar ysbrekers wat ons as volwassenesse ook kan speel.
Is jou boek bedoel vir ouers om in alledaagse omstandighede te gebruik, vir idees met kinderpartytjies of vir kinders wie se motoriese ontwikkeling aandag benodig?
Die boek is op almal met kinders gemik. Om te help met kinderpartytjies, om die kinders besig te hou of as jou kind dalk ‘n motoriese afwyking het. Ek sê die boek is vir almal, want ‘n hele huisgesin kan saamspeel. Families en gesinne doen deesdae so min dinge saam. Ons is ‘n hegte familie en ons bestee meer tyd saam as met vriende, my ouers is reeds 65 jaar oud. Naweke saam sal ons en hulle altyd een of ander aktiwiteit vir die kinders se onthalwe doen. Ek dink ons geniet dit soms meer as die kinders. Maar om terug te kom na die vraag, kinders weet nie meer hoe om te speel nie, Alledaagse kinders sonder afwykings kan self die boek vat, speletjies kies en SPEEL!
Hoe weet mens as jou kind se motoriese ontwikkeling aandag benodig?
Aan die begin van elke ouderdomsgroep in die boek het ek die motoriese komponente met die gemiddelde verwagte doelwitte bygevoeg. Ouers moenie bekommerd wees as hulle sien hul kind kan nou nie op die 3m-balanseerbalk stap sonder om af te trap nie: dit is slegs riglyne.
Is dit nie belangriker vir ‘n kind om sy assesserings te slaag as wat dit is dat hy motories ontwikkel nie?
Motoriese ontwikkeling gaan juis help dat die kind sy assesering met meer gemak slaag. (Sien punt 3.)
Is dit nie baie stresvol vir ‘n kind wat reeds ‘n lae selfbeeld het omdat hy nie vir die rugbyspan gekies word nie, om nou nog met ‘n speletjie te moet presteer nie? Anders gestel, hoe bied mens hierdie speletjies vir jou kind aan sodat hy dit ervaar as speel-speel en nie as werk nie?
Speletjies gaan nie oor prestasie nie. Daarom is ook die meerderheid speletjies groepverwant sodat ‘n kind nie die blaam op hom of haarself kan plaas nie, maar in ‘n groep leer hoe om teleurstelling te hanteer. Elke liewe kind kan nie ‘n hoofmeisie of hoofseun wees nie. Hoe hanteer die byvoorbeeld 98 uit 100 kinders dit? Hierdie boek help ook om die kind se emosionele vaardighede te bevorder of te versterk. Almal kan nie wen nie, almal kan nie erebaadjies dra nie, maar dit is die lewe. Die boek gaan juis oor speletjies en om pret te hê, sonder dat hulle weet hul ontwikkel tog een of ander motoriese komponent.
Hoe kan ons as grootmense saam met ons kinders speel en wat is jou gunstelingspeletjie saam met ‘n kind?
Ons kan alles saam met ons kinders doen. Rol op die gras, kruiwaresies, eenbeentjie spring, verf, legkaart bou … Daar is so ongelooflik baie. Ek self het op skool goed presteer in sport. Ek sal dus sê my gunsteling is enige iets wat ‘n bal bevat. Ek sal middae vir ure net buite speel met my kinders, al verf ons klippe, bou vormkoekies met sand en versier dit met takkies, blare of klippies. Ek is ‘n buitemens – solank ek iets buite kan doen, is ek en my kinders in ons element. Pappa speel ook saans en naweke veel eerder buite saam met ons, as om ons kinders gewoond te maak aan die vier mure in die huis. Nou wonder jy seker wat doen ons in die wintermaande. Ek is nie iemand wat omgee om skoon te maak of op te ruim nie, solank kinders net kan speel. Of hulle in die huis verf en mors of met sand speel op ‘n swartsak, is dit ook vir my oukei!
Vandag se samelewing is baie meer gefokus op tegnologie. Hoe kry jy dit reg om ‘n kind wat sy tablet verkies by die deur uit te boender tuin toe as hy dit dalk nie wil doen nie?
Dis juis my punt, wat het van dissipline en respek geword in vandag se tyd?
Navorsing het bewys dat kinders tot en met die ouderdom van 10 jaar nie langer as ‘n halfuur per dag televisie behoort te kyk, ipad speel of met die selfoon sit nie. Gee hulle self die keuse van wanneer hul daai halfuur kan speel. Dan voel hul steeds in ‘n mate in beheer. Maar slegs daai halfuur, as dit verby is is dit verby.
Hoe hanteer jy dit as die kind besig is om op ‘n tablet te speel en die battery is pap, geen laaier naby nie? Hoe sê jy dan daar kan nie verder gespeel word nie. Dis pap, klaar. Net soos wat jy gaan sê die son skyn, jy is klaar binne gespeel, gaan skop jou voete in die sand!
The post Tien vrae: Nadia Viljoen oor 1-2-3 groei met spel appeared first on LitNet.