Universiteit Stellenbosch se Woordfees 2016 was ’n fees van ongekende hoogtepunte en sukses. Saartjie Botha, US Woordfees-direkteur, sê die rekordgetal kaartjies wat verkoop is, is bewys die fees dien ’n gemeenskap met ’n warm hart vir die kunste.
Die totale kaartjieverkope het met 27,8% gestyg teenoor 2015 se syfers. Hierdie toename verteenwoordig ’n 20% groei in die Rand-waarde van kaartjies wat tydens die fees verkoop is, ook teenoor 2015.
Boonop het die fees ook rekordverkope behaal wat betref visuele kuns en boeke.
“Ons het vanjaar nuwe venues by ons bestaande lys gevoeg, en dit was veral Hoërskool Lückhoff in Idasvallei en Coetzenburg wat die verwagtinge oortref het,” sê Botha. Lückhoff se skoolsaal is ingespan vir veral dramas, soos Raka, Orgie, Innie Rof en Amper Vrystaat. “Die Woordfees behoort aan die hele Stellenbosch. Hoe meer betrokke ons kan wees by die plaaslike gemeenskap, hoe meer suksesvol is ons as verteenwoordigende fees.”
Botha sê die ander hoogtepunt, Coetzenburg, het haar stoutste verwagtinge oortref. “Dit maak soveel sin om buitelugkonserte hier aan te bied, met die berge en sterrehemel as agtergrond.” Die fees se gewildste konsert is hier gehou, naamlik Die Republiek van Zoid Afrika op 11 Maart. Sowat 6 000 kaartjies is vir die geleentheid verkoop. Ander konserte wat hier aangebied is, is Woordfees Pops, Johnny Clegg en Die Karnaval. Laasgenoemde is voorheen by die Van der Stel-terrein aangebied.
Die wenners van die US Woordfees se WOORDtroFEES word op 18 April aangewys. Die datums vir die US Woordfees 2017 is van 3-12 Maart.
The post US Woordfees 2016 sonder weerga appeared first on LitNet.