“Regina Adema, ID I49344, dochter van Martinus Adema en Jikke Justina Blom, is geboren op 19 december 1902 te Bolsward, Nederland. Regina is overleden.”
Só begin my internet-speurverhaal na die storie van ‘n groot tante, ‘n uitbundige mensch, sangeres en verkoper van brassières. Maar, belangriker nog, ‘n vrou wat eiehandig vyf Joodse mans tydens die Tweede Wêreldoorlog in haar beknopte Amsterdamse appartement skuiling gebied het. ‘n Vrou wat dit reggekry het om vir ‘n paar jaar vyf mense te voed en hoop te bied in ‘n land wat meer as driekwart van sy Joodse inwoners in ‘n orgie van geweld verloor het. In ‘n land wat gebuk gegaan het onder besetting, vrees en hongersnood, en waar jou bure jou enige oomblik kon verraai. En wat sou só verhaal sonder romanse wees? Want sy en een van die Joodse oorlewendes, oom Sal, is direk na die oorlog getroud. Onafskeidbaar tot en met haar dood, voordat hy aan ‘n gebroke hart oorlede is.
Hoewel ek vroeër nooit veel vrae daaroor gevra het nie, selfs toe ek oom Sal as kind ontmoet het en later vir ‘n jaar in Nederland gewoon het, het ek begin besef dat die volle verhaal dalk vir ewig verlore sal gaan, veral met die ouer familielede wat begin om die tydelike met die ewige verwissel.
Daarom het ek op ‘n minitog gegaan om agter die kap van die byl te kom. Met mense begin praat en e-posse gestuur. Ek het bloot aanvaar dat almal vorendag sal kom met ‘n stapel inligting en foto’s en anekdotes, maar die vreemdste ding was dat talle kleinkinders nie eens van die verhaal bewus was nie.
Ongelukkig het my een tannie, wat meer soos ‘n ouma vir my was, boonop ‘n paar jaar gelede die opsie van genadedood verkies weens ‘n jarelange, pynlike stryd met kanker. En sy was die een wat juis als geweet het! Spyt kom te laat, maar ek het met een dogter, my oudste niggie (my pa was die jongste van dertien, Katolieke), gepraat en ‘n paar brokke gekry.
Kort ná die afloop van die Eerste Wêreldoorlog verhuis ‘n jonge Regina Adema vanuit Bolsward in die destydse provinsiale plattelandse provinsie van Friesland na Amsterdam. Die stad is oud en groot, met nuwe argitektuur te siene in moderne woongebiede soos Transvaalbuurt, bioskope maak oop en onkerklikheid verdubbel. Die gragtegordel omarm alles, die Olimpiese Spele word hier aangebied, en die "roaring twenties" is op almal se lippe. Wel, dalk nie almal nie – in dieselfde tyd vind ‘n groot hervormde kerkskeuring plaas oor ‘n twis of die slang in die Paradys werklik gepraat het. Maar wat sou dit haar skeel? Sy’s ‘n baie goeie sanger en smag om op te tree met Louis Davids, ‘n bekende Joods-Nederlandse kabaret- en musiekster (1883-1939). Oupagrootjie en oumagrootjie was beslis nie ten gunste daarvan nie, maar tante Regina laat niks tussen haar en die plan van pret staan nie.
En soos met baie drome, maak hierdie een ook baie draaie in ander rigtings. Hoewel dit goed gaan met die musiek, maak sy nie genoeg geld daaruit nie. Dus begin sy ‘n “bh-zaak” (winkel wat bra’s verkoop) in De Jordaan, destyds ‘n eiesoortige werkerklas-woongebied in Amsterdam, vandag hoofsaaklik bewoon deur die hoër inkomsteklasse. En met haar sin vir humor is daar ook niks fout nie: “Laat ze niet hangen voor een tientje” lui die reklame aan die voorkant van die venster wat ‘n beroep op vrouens doen om hulle nie te laat hang om ‘n paar gulde te spaar nie.
Iemand met ‘n mindere sin vir humor, Adolf Hitler, besluit egter om Nederland in Mei 1940 binne te val. Die land gee binne ‘n week oor nadat Rotterdam flenters gebombardeer is en daar gedreig is om Den Haag, Utrecht en Amsterdam dieselfde lot te laat ondergaan. Ook het min van die beplande opsetlike vloedskade wat die Nederlanders as deel van hul vertragings-verdediging wou uitvoer, plaasgevind. Die Duitse besettingsmag is in volle beheer en kort voor lank word wette ingevoer om Jode te beperk, en uiteindelik na konsentrasiekampe te stuur.
Omdat tante Regina met heelwat Joodse kunstenaars bevriend was, word sy gevra om ‘n paar van hulle skuiling te bied. Oopkop of de not, sy moes sekerlik met die idee geworstel het, want as sy verraai of uitgevang sou word, was die kans skraal dat enige van hulle met hul lewens daarvan sou afkom. Gou was daar vier of vyf Joodse mans in haar klein appartement ... insluitende ‘n sekere Salomon Schrijver. Soos beskryf in die dagboek van Anne Frank– wie se huis op Prinsengracht nie ver van tante Regina s’n naby Carré en die Amstel was nie – moes almal gedurig stil bly, moes die gordyne toegehou word en het hulle basies as gevangenes in die appartement gelewe. Bure, vriende of familie kon hulle verraai, dalk met opset, dalk per ongeluk. Om nie te praat van elemente binne die Amsterdamse polisie, die Duitse weermag, die SS brigades en meelopers wat aktief Jode gejag het nie.
Of oom Sal in dié tyd nog enige kontak met sy familielede gehad het, weet mens nie. Wat hy wel sou weet is dat die oorlog en Joodse deportasies verwoed buite die oorbevolkte appartement voortwoed. In die kuberruim spook die verlede met miljoene swart letters oor hoeveel van oom Sal se broers en susters dood is tydens die oorlog. Mede-danksy die registrasie van Jode deur die Joodse Raad was dit relatief maklik vir die Duitsers om die Jode bymekaar te skraap en te deporteer. Dit was die nadeel, maar die voordeel is dat ek nou, dekades later, kan leer dat oom Sal 10 oktober 1903 (identiteitsnommer I48766) gebore is. Dat hy een van 14 kinders was, en dat twee van sy sibbe as kinders oorlede is. Maar vyf susters en drie broers sterf tydens die oorlogsjare; een in Amsterdam, die meeste in die Sobibór Nazi konsentrasiekamp in Pole tussen Januarie en Julie 1943. Twee van hulle boonop op dieselfde dag in ‘n gaskamer. Wat mens laat wonder: was hulle minstens bymekaar in daardie laaste oomblikke?
Sowat ‘n kwartmiljoen Jode het in die kamp omgekom voordat die oorblywendes in Oktober 1943 in opstand gekom het. Die Nazi-wagte is oorweldig, en honderde van die gevangenes het gevlug, totdat die owerhede weer hul mag kon afdwing en die kamp gesluit het. In jou hart juig jy vir die vlugtelinge, “ja, vryheid!”, net om verder te lees hoe meeste eindelik opgespoor en vermoor is. Al weet jy dit hoe goed, laat die inligting oor die kamp se werking, die industriële skaal en geordende manier waarop massas mense na hul dood gedryf is, mens steeds bewe van woede. Wat het deur almal se koppe gegaan, die wat geslag is en die wat geslag het?
Vir die meeste van oom Sal se ander familielede is daar g’n sterfdatum nie. Woonagtig te Weesperzijde 14, Amsterdam, is pa, Hartog, net voor die uitbreek van die oorlog in 1939 en sy ma, Roosje Speijer, tydens die oorlog in 1942 oorlede (maar volgens ‘n familielid is sy voor die oorlog oorlede). Aangesien albei ouer as 80 was, kan mens aanvaar dit was ouderdom asook dat sy nie na die doodskampe geneem is nie, want hulle is in die Joodse begraafplaas Diemen langs die stad begrawe. Jare tevore in Januarie 1934, plaas Hartog ‘n liefdevolle huldeblyk aan Roosje in die Nieuw Israëlietisch Weekblad om haar 70ste verjaardag aan te kondig.
Ek vind selfs ‘n greinerige swart en wit foto van een van oom Sal se susters, Sara Speijer-Schrijver, wat ‘n onvermelde konsentrasiekamp oorleef het aangesien haar naam nie op die lys van die paar Jode wat Sobibór oorleef het, is nie. Tragieser kan dit nie, want oppad terug na Nederland sterf sy op ‘n trein naby die Duitse dorp Lüneburg in April 1945. Minder as 300km van die Nederlandse grens word haar lyk op ‘n stasie agtergelaat omdat ‘n lugaanval enige kans op selfs ‘n eenvoudige begrafnis verhinder. Haar man is letterlik ‘n maand voor haar, en voor bevryding, in die konsentrasiekamp Bergen-Belsen oorlede, maar hul twee kinders het in Nederland oorleef. Aldus die internet.
En weer vul ‘n familielid iets in; sy dink een van die twee kinders, ‘n vrou, leef nog. Maar, nee, sy’t geen kontak met haar nie. Ook, een van oom Sal se susters het wel oorleef en terug gekom na Nederland. Dit kan net Eva Schrijver wees aangesien ek geen sterfdatum vir haar kan vind nie. En tog weet niemand meer daaroor nie ...
Sara Speijer-Schrijver, suster van oom Sal, oorlede tydens die treinrit terug na Nederland.
Intussen, terug in die oorlog waar genoeg te ete ‘n ander reuse uitdaging was omdat inwoners net ‘n sekere hoeveelheid kosseëls per persoon kon kry, soos deur die regering bepaal. Daarom was dit ‘n gedurige stryd om ongesiens meer voedsel in die hande te kry en in te smokkel. Teen die einde van die oorlog, is die land boonop onderworpe aan die berugte hongerwinter waartydens veral stedelinge in die suidweste van die land erg verhonger. Talle wend hul per voet of per fiets na die ooste van die land waar die groter landelike gebiede ietwat meer kos gehad het. Tante Regina is een van hulle wat honderde kilometers per fiets oor die Afsluitdijk (tussen die Noord-Holland en Friesland provinsies) ry om kos te haal vir haar en die Jode in haar huis. Meestal direk by die boere, en ook by haar broer, Sybrandus Adema, wat ‘n vleishandelsaak in Leeuwarden bedryf het. Blykbaar het die feit dat sy nie net flambojant, maar ook redelik aantreklik, was, haar gehelp om korte mette met die Duitse blokkades te maak.
Het monument "Vrouw op voedseltocht" herinnert de inwoners van Leeuwarden aan de vrouwen die tijdens de hongerwinter van 1944-1945 voor de onderduikers in de stad voedsel hebben gehaald uit de provincie. Het gedenkteken is tevens een eerbetoon aan de moeder van de gezusters Haanstra, die tijdens de bezetting onderduikers in huis had genomen.
Helaas het ek nog min inligting versamel. Maar, ook in Friesland, hoor ek vir die eerste keer dat my oupa ‘n keer deur die Duitsers opgetel is en na die gevangenis geneem is. Gelukkig het my ouma binne ‘n dag of wat daar opgedaag, die soldate behoorlik die leviete voorgelees. En so gehelp om my oupa te bevry. Intussen moes heelwat van my ouer ooms onderduik op die platteland om te verhoed dat hulle in razzias opgetel word en na arbeidskampe in Duitsland gestuur word. By my oupa was daar in die algemeen meer voedsel tuis en kos wat versprei kon word – iets wat ‘n groot verskil gemaak het. Daarom was dit ook g’n verrassing toe vyf verhongerde kinders, wat boonop aan skeurbuik ly, uit Rotterdam by hulle kom aanklop vir hulp nadat hulle meer as 200km per pad afgelê het. Die familie vind onderdak vir drie van hulle, maar die res word bloot opgeneem in die groot gesin en tot aan die einde van die oorlog versorg. Volgens een tante was hulle ook nie juis die gemanierdste knape nie – tot groot vermaak van hulle, maar tot die misnoeë van my ouma.
Regina en Sal het intussen verlief geword op mekaar, maar weens die oorlog kan hulle nie trou nie. Sodra Nederland egter in 1945 bevry word, duur dit net ‘n maand voordat hulle trou aan mekaar sweer op 27 Junie. Die paar Nederlandse Jode wat die oorlog oorleef vorm ‘n hegte gemeenskap in Amsterdam, en ondanks al die hartseer het van hulle hulle humor behou. Soos my een tante wat gereeld by hulle besoek afgelê het en met ‘n seer kakebeen teruggekeer het na Friesland – “van al die gelag!”
Oor die oorlog word daar nie juis gepraat nie, vir oom Sal was dit té pynlik. Die lewe gaan aan, en oom Sal en tante Regina werk saam in ‘n lingeriewinkel; sy die vrolike, opbeurende vrou, hy ‘n meer teruggetrokke gentleman. As mense by hulle kom kuier het, was dit altyd “fees, fees, fees!” vertel iemand. Self kon hulle geen kinders kry nie, sy had verskeie miskrame, maar hulle het wel behoeftige kinders finansieel ondersteun. Jare en sakke sout later eindig hulle op in ‘n Joodse bejaardehuis naby Utrecht.
En ek kry eindelik foto’s van hulle, geneem by ‘n laaste viering. Tante Regina word op 19 Desember 1982 ook 80, en daar is hulle saam aan ’t feesvier en saamsing en saamdans in 't Spant teaterkompleks in Bussum – net ‘n paar maande nadat ek as 9-jarige die land vir ‘n eerste keer besoek en hulle ontmoet het. In Oktober 1983 word oom Sal 80 jaar oud, en dit word met ‘n groot fees in die Oranje Hotel in Leeuwarden gevier. Sy vrou sterf kort daarna, en iets sterf in oom Sal. Hy kon nie sonder haar en weier om na die begrafnis te gaan, maar onder dwang woon hy dit tog by. Binne maande probeer hy twee keer homself te dood voordat hy kort daarna aan die spreekwoordelike gebroke hart oorlede is.
Ouderdom en verlore liefde het uiteindelik ‘n gekwelde siel na vrede geneem. Oom Sal het nog ‘n hele lewe gehad, maar minstens sewe ander Nederlandse Salomon Schrijvers - met presies dieselfde voornaam en van – is tydens die oorlog in konsentrasiekampe, onder meer Auschwitz, vermoor bloot omdat hulle Joods was.
Opeens kry ek ook ‘n e-pos vanuit Nieu-Seeland van ‘n Jeanette Rooiman wat my versoek om inligting ‘n jaar later op die Joodse Monument-webtuiste sien. Sy speur haar familie na en weet van ‘n Schrijver (verlangse familie van haar) wat my dalk kan help. Ek kontak onmiddellik vir Philip Schrijver met die inligting wat ek het. “Ik heb uw verhaal met veel interesse gelezen en veel feiten zijn mij bekend,” skryf hy terug. “Zoals u weet hebben slechts weinig directe familieleden van ons de oorlog overleefd waaronder mijn vader en zijn broer. Mijn grootvader Philip (‘n broer van oom Sal) is in 1943 in Sobibor vermoord.” Op verdere vrae, byvoorbeeld hoe sy pa en oom die oorlog oorleef het, wag ek nog op antwoorde; ten minste is daar ‘n generasie Schrijvers, ‘n handjievol, wat op een of ander manier ontkom het aan die massaslagting. En wie was die ander Jode in tante Regina se huis, en wat het van hulle geword?
Maar die finale woorde oor oom Sal, die ewige optimis altyd op soek na ‘n oorlewende familielid, behoort aan ‘n tante: “Hij liet jaren na de oorlog de deur openstaan, want stel je voor dat er een familielid zou terugkeren!”
The post Op die spoor van Regina Adema appeared first on LitNet.