In 2011 het ek ’n boekbekendstelling by Protea Boekhuis in Stellenbosch bygewoon en die eerste keer van Nkandla gehoor toe Dana Snyman sy "aangrypende boek" (Max du Preez se woorde) bekendstel. Die boek beskryf sy reis "om hierdie land waaroor ons so praat en praat, weer ’n slag aan die lyf [te] voel".
Die onlangse uitspraak in die Grondwetlike Hof het my die boek weer van die rak laat haal. Deel III van die boek het Dana Snyman met profetiese wysheid aan Nkandla gewy. Die boek is in 2011 gepubliseer toe die Nkandla-storie nog in sy kinderskoene was. Na sy pa se afsterwe kom Dana af op ’n koerantuitknipsel in sy pa se goed: ’n verslag oor ’n "wydlopende onderhoud met Beeld" waarin president Zuma die volgende sê: "Neem my as voorbeeld: Ek werk in Kaapstad en Pretoria, maar wil dan na Nkandla (in landelike KwaZulu-Natal) gaan. Dit is my plek, dis my dorpie en wanneer ek daar kom, voel ek tuis. Ek kan die indlamu (’n tradisionele dans vir mans) doen, ek kan Zoeloe praat. Dít is wat sommige Afrikaners, op ’n sielkundige vlak, nodig het: ’n Nkandla" (bladsy 151). Dana pak dan die reis aan op soek na sy en sy pa se Nkandla.
Sy reis neem hom na plekke soos Bloedrivier en die Geloftekerk in Pietermaritzburg, maar dit is veral sy besoek aan Nkandla wat my interesseer. By die Vukaphansi General Dealer beduie Gugu Dlamini: "This is Zuma’s place." Dana verwys na die "drie tamaai niervormige grasdakhuise, dertien rondawels en ’n klein parkeergarage vir ’n stuk of veertig motors". Gugu sê ook: "He comes with helicopter." Dana merk op dat die heuwel toegespan is met ’n dubbele veiligheidsheining, dat masjiene orals dreun, dat mans in oorpakke rondstap, dat die bouery nog nie klaar is nie en glo R65 miljoen sal kos.
Hy besoek Joseph Zuma, die president se broer, want hy is dié een wat weet "hoe dinge hier op Nkandla werk". Joseph woon in ’n eenvoudige huisie "wat smag na verf" en "die heining se drade hang slap". Hy verneem dat die president se pa dood is toe Jacob vier jaar oud was, dat hy beeste opgepas het en geen skoolopleiding gekry het nie. Sy ma het as ’n huishulp in Durban gaan werk en Jacob sluit aan by die ANC op ouderdom van sewentien, tydens ’n besoek aan sy ma.
Ná Nkandla reis Dana verder "deur plantasies, en verby a lovely road that runs from Ixopo into the hills, and the hills are lovely beyond any singing of it[1], ... en ’n lied kom [in hom] los". Hy besef: "My Nkandla is iets subtiels, onsigbaars en ontasbaars." Hy gee verskeie voorbeelde van sy Nkandla's, onder andere: "My Nkandla is gee, gee, gee, o, gee jou hart vir Afrikaans, gee jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate."
Verwysing:
Dana Snyman. 2015. Hiervandaan – Op reis in die geliefde land. Tafelberg.
[1] Intertekstuele verwysing na Alan Paton se Cry, the beloved country.
The post Dana Snyman se Nkandla in Hiervandaan appeared first on LitNet.