Ons was jonk en is
nou skielik oud.
Die tuin het toegegroei, die wildevy wat vyftien jaar
sou vat het grootgeword.
Die trappe het verweer, die
huis vol mos geraak.
Die pype kraak en lek
en roes. Dis tyd vir nuwes, sou ek dink
en jy?
Daar ís foto’s waar ons
tussenin
vir Kersfees om die tafel lag
of vakansies foto’s neem in Kirstenbosch
maar dis weer Maart en die see lê soos altyd
deursigtig agter die bougainvillea wat vol dieprooi takke
blom met skepe op pad na ander lande
of ander stede
maar dis jare later
en die amarillisse blom dieselfde ‘n tinker
tink vaarwel;
ons wys nou die foto’s van ons honde op die foon terwyl
ons wag vir kleinkinders
en kla oor heupe, die werk en
aftrede beplan
Dis jare later en die winter kom.
Die lug is deursigtig en
strepe lig oor die duifgrys see die wolke krul en woel
soos gerugte wat oor die lande spoel.
Wat hét geword van al die jare tussenin?
The post Ons was jonk appeared first on LitNet.