Die klassieke drama Sizwe Banzi is Dead, het vier Kanna-nominasies na afloop van die 22ste KKNK op Oudtshoorn ontvang. Die debuutproduksie Nouliks of niks: Kort stukke deur Samuel Beckett en satire Hensop!, is elk vir drie Kannas genomineer.
Klara Maas se hart is gebreek, een van tien produksies wat deel was van die innoverende nuwe Uitkampteater, is saam met Die huis van Bernarda Alba, Son.Maan.Sterre en Die Afrikaansvatter vir twee Kannas genomineer.
Danie Marais, sameroeper van die Kannapaneel wat jaarliks die Kannas toeken, sê die paneel moes “diep dink” om wenners in die onderskeie kategorieë aan te wys.
“Die paneel was beïndruk met die hoë standaard van teater wat in verskillende genres te sien was. Die afwesigheid van oorspronklike, nuwe tekste was wel opmerklik. Nuwe gehaltewerk met eg inheemse temas in Amper, Vrystaat (die geselskap), Hensop! (Francois Toerien) en Rooivalk (Nico Scheepers) was daarom verblydend,” sê Marais.
Volgens Marais is ’n verdere positiewe aspek die verbreding van die programaanbod. Die programsamestellers neem ooglopend Afrikaans in al sy skakerings in ag en dit word weerspieël in die meer diverse feesbywoning. In dié verband kan aanbiedings soos Die Afrikaansvatter, Liedjies van die Kaap, Met jou aan my sy, My Wonderyears – The Loukmaan Adams Story, Ons komvandaan, Op ’n ernstige noot en Rymklets van Oos tot Wes uitgesonder word.
Onder die feeshoogtepunte tel die aanbiedings deur die Cape Dance Company (A Thousand Shepherds en Blue). Die paneel verwelkom dans van hierdie gehalte op die feesprogram. Skerpskerts (stand-up) is ’n ander kategorie waarin uitstekende werk te sien is.
Ontwerp-aspekte soos die kostuums in Die huis van Bernarda Alba en Hond se gedagte (Birrie le Roux), asook die stelontwerp van Hemelruim (Nico Scheepers), Hensop! (Wolf Britz), Nouliks of niks: Kort stukke deur Samuel Beckett (Jaco Bouwer) en Son.Maan.Sterre (Christiaan Olwagen) het bygedra tot die visuele impak by die fees.
Een van die mees opwindende toevoegings vanjaar was Uitkampteater. Hierdie teater-happies van 20 minute elk, het feesblootstelling vir opkomende kunstenaars moontlik gemaak én buitengewone teaterervarings vir feesgangers, wat nie noodwendig teatergangers is nie, gebied. “Die paneel hoop dat hierdie aspek van die fees verder uitgebrei en ontwikkel sal word”, sê Marais. Uitkampteater-produksies soos Klara Maas se hart is gebreek (Wessel Pretorius en David Viviers), Valencia (Faith Kinnair) en Vlieg (Elisha Zeeman) het uitgestaan.
Die Kanna-wenners word op Sondag, 24 April by ’n prysuitdelingsgeleentheid in Kaapstad aangekondig. Stephan Erasmus maak die wenners se beeldjies.
Die Kannapaneel het besluit op die volgende nominasies in elf kategorieë:
Kanna vir Beste Teateraanbieding
- Nouliks of niks: Kort stukke deur Samuel Beckett
- Rooivalk
- Sizwe Banzi is Dead
Kanna vir Beste Akteur
- Atandwa Kani (Sizwe Banzi is Dead)
- Mncedisi Shabangu (Sizwe Banzi is Dead)
- Wilhelm van der Walt (Son.Maan.Sterre)
Kanna vir Beste Byspeler: Manlik
- Dawid Minnaar (Die huis van Bernarda Alba)
- Albert Pretorius (Hond se gedagte)
- Dean-John Smith (Die dag is bros)
Kanna vir Beste Aktrise
- Nicole Holm (Hensop!)
- Anthea Thompson (My briljante egskeiding)
- Tinarie Van Wyk Loots (Hemelruim)
Kanna vir Beste Byspeler: Vroulik
- Lida Botha (Die huis van Bernarda Alba)
- Karli Heine (Hensop!)
- Greta Pietersen (Son.Maan.Sterre)
Kanna vir Beste Musiekproduksie
- Boontoe! Engelstemme vir Paassondag
- Charl du Plessis Boogie Woogie Big Band
- Die Afrikaansvatter
Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering
- Ben Schoeman speel Robert Schumann
- Corelli à la mode
- Fragment
Kanna vir Beste Regie
- Wolf Britz (Hensop!)
- Jaco Bouwer, Wolf Britz, Lara Bye, Amy Jephta en Sandra Temmingh (Nouliks of niks: Kort stukke deur Samuel Beckett)
- John Kani (Sizwe Banzi is Dead)
Kanna vir Beste Debuutwerk
- Die Afrikaansvatter
- Klara Maas se hart is gebreek
- Nouliks of niks: Kort stukke deur Samuel Beckett
Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar
- Early-B (Rymklets van Oos tot Wes)
- Mthuthuzeli November (A Thousand Shepherds)
- David Viviers (Klara Maas se hart is gebreek)
Kanna vir Beste Visuele Kunsaanbieding
- Lucia Boer (kurator van Catalyst)
- Sandra Hanekom (kurator van Huisgenoot. Hartgenoot. Kultuurgenoot: 100 jaar)
- Trent Read (kurator van Palimpsest)
Vanjaar se Kannapaneel was Danie Marais (sameroeper), Retha Bornmann, Cornelia Faasen, Deon Maas, Thami Mbongo, Laetitia Pople, Louis Pretorius, Clive Smith, Malan Steyn, Mareli Stolp en John Theodore.
Die 23ste KKNK word van Saterdag, 8 April tot Saterdag, 15 April 2017 op Oudtshoorn aangebied.
The post Sizwe Banzi is Dead neem voortou met vier KKNK Kanna-nominasies appeared first on LitNet.